Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Pravin sny salarisrekening met 20%

Die departement van openbare ondernemings sny sy besteding aan salarisse met 20% in die nuwe boekjaar, het die parlement Woensdag gehoor.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Daily Sun

Kgathatso Tlhakudi, waarnemende direkteur-generaal van openbare ondernemings, het aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê die besteding aan goedere en dienste is ook skerp gesny en daar is nie geld vir prioriteite soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), SA Express, Denel en Eskom nie.

Daar is egter wel geld nodig vir adviesdienste vir die herstrukturering van die SAL, soos advies met transaksies, spesialis-regsdienste, tegniese bedryfsbeplanning en vliegtuigverhuringskontrakte.

Die departemente se salarisrekening gaan met R30 miljoen tot R167 miljoen gesny word, het Tlhakudi gesê.

Die begroting vir goedere en dienste word met R31,8 miljoen tot R76,8 miljoen gesny.

Die departement het geld nodig vir die presidentsraad oor staatsondernemings, want die departement is aangestel om as sekretariaat vir dié raad te dien.

Pravin Gordhan, minister van openbare onderneming, het gesê ’n permanente aanstelling in die pos van direkteur-generaal sal binnekort gemaak word. Die aanstelling is weens Covid-19 vertraag.

Van die departement se personeel is al positief getoets vir die koronavirus en dit veroorsaak telkens ontwrigting aan die departement se werk omdat die betrokke kantoor dan eers deeglik skoongemaak word en werkers in kwarantyn gaan.

Die pandemie het ook Transnet geraak wat onder die departement se toesig val, waar ’n hele skof in kwarantyn moet gaan as een lid van ’n skof siek word of positief getoets is. Dit het tot opeenhoping en ontwrigting van uitvoer by die hawens gelei.

Die regering neem die pandemie ernstig op en Transnet het nou reeds ’n hele skofspan van 80 tot 100 mense van Durban na Kaapstad gestuur om in die hawe te help te midde van die besige sitrusuitvoerseisoen, het Gordhan gesê.

Oor die toekoms van die staatsbeheerde streeklugdiens SA Express, wat in voorlopige likwidasie is, het Gordhan gesê daar is een of twee entiteite wat belang stel om vennote van SA Express te word, maar hy weet nog nie van enige vordering hiermee nie.

Gordhan het Omphile Maotwe, EFF-lid van die komitee, genooi om te verduidelik wat ’n transaksie-adviseur se pligte behels. Dit was nadat Maotwe in vraetyd bevraagteken het waarom die departement soveel bestee aan konsultante en transaksie-adviseurs, en dat dit volgens haar juis op die vlak van transaksie-adviseurs is waar die plundery van die staatsondernemings plaasvind.

Hy het haar herinner dat pres. Cyril Ramaphosa teen einde 2018 ’n spesiale taakspan oor Eskom aangestel het, en daarna weer ’n ministeriële taakspan, maar telkens word kundiges in die betrokke veld ook betrek om dié taakspanne te adviseer.

“Ek is nie ’n ingenieur nie en verstaan nie hoe ’n stoomketel werk nie. Die mense by die departement verstaan nie almal hoe ’n lugdiens werk nie, daarom word kundiges betrek om die departement by te staan,” het Gordhan gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.