Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
PwC: Tito gaan sukkel om begroting te laat klop
Tito Mboweni, minister van finansies.Foto: Elvira Wood

Tito Mboweni, minister van finansies, gaan klippe kou om sy begroting nie net vanjaar nie, maar ook oor die volgende paar jaar te laat klop.

Mboweni lewer op 20 Februarie sy begrotingsrede in die parlement.

Kyle Mandy, belastinghoof by die ouditfirma PwC, sê een van die knelpunte is die bykans R37 miljard minder belasting wat die land gaan insamel as wat ’n jaar gelede in die begrotingsrede verwag is.

In Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk het Mboweni nog gesê die verwagte tekort is R27 miljard.

“Ons kan nie sien hoe op aarde die tesourie dit gaan regkry om belastingkoerse in vanjaar se begroting aan te pas selfs om net R10 miljard meer inkomste te genereer nie. Daar is bloot net nie die spasie om enige beduidende aanpassings te maak nie.”

Hy sê die staat se inkomste uit belasting groei eenvoudig beduidend stadiger was wat die regering voorspel.

“Ons kan nie sien dat belastinginkomste enigsins vinniger sal groei as die pas waarteen die bruto binnelandse produk (BBP) groei nie,” sê Mandy.

“Ek weet die staat voorspel dit, maar ek kan nie sien hoe dit moontlik is nie.”

Lullu Krugel, hoofekonoom by PwC, voorspel dat Suid-Afrika se skuldlas gaan vergroot.

PwC se berekeninge wys dat die verhouding van skuld tot die BBP teen die einde die 2018-’19-boekjaar waarskynlik 56% gaan beloop.

Krugel sê dit beteken die skuldlas as persentasie van die die BBP het die afgelope dekade verdubbel.

Krugel en Mandy verwag ook dat die tekort op die begroting waarskynlik in 2019-’20 tot 4,6% gaan styg.

As die staat R100 miljard van Eskom se skuld oorneem, meen Krugel dit kan tot 5% styg.

Mandy en Krugel stem saam dat belastings nie verhoog kan word nie.

Hulle verwag dat geld binne die begroting rondgeskuif gaan word om te probeer om die boeke te laat klop.

’n Drastiese besnoeiing in die staat se uitgawes sal natuurlik ’n groot verskil maak, maar nie een van die twee kenners hou hul asem op om dit in die begroting te hoor nie.

Hier is wat PwC voorspel Suid-Afrikaners in die begrotingsrede gaan hoor:
  • Geen verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW), maatskappye, individue, kapitaalwins of dividende nie.
  • Inflasionêre verhogings op die brandstofheffing en belasting op suiker en alkohol.
  • Beduidende styging in die heffing vir die Padongelukkefonds van 30c per liter.
  • Dat geen BTW ook op witbroodmeel, koekmeel en sanitêre doekies gehef gaan word nie.
  • Die lys van produkte wat onderhewig gaan wees aan ad valorem-tariewe gaan beduidend uitgebrei word.
  • Belasting gaan nie op tabakprodukte verhoog word nie; en
  • Koolstofbelasting gaan van 1 Junie 2019 gehef word.

Mandy sê die rede hoekom hulle nie verwag belasting op tabakprodukte gaan styg nie, is omdat dit die reeds enorme sluikhandel van dié produkte net sal vererger.

Wat betref belasting op individue voorspel Mandy dat hoewel die koerse nie gaan verander nie, die kerwe waarteen dit gehef word waarskynlik aangepas gaan word om fiskale sleuring teen te werk.

Meer oor:  Pwc  |  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Begroting 2019  |  Staatsondernemings  |  Jse  |  Begrotingsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.