SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Begroting
Regeringslui se salarisse bevries, voordele ingekort
staatsbesteding
Staatsbesteding

Ingrypende kostebesparingsmaatreëls vir die uitvoerende gesag is deur pres. Cyril Ramaphosa goedgekeur as deel van ’n poging om die staat se enorme salarisrekening in toom te hou.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag dié stappe in sy 2019-mediumtermynbegrotingsraamwerkrede in die Nasionale Vergadering aangekondig.

Hiervolgens sal:

  • Salarisse van kabinetslede, premiers en LUR’e vir die afsienbare toekoms op die huidige vlakke bevries word, onderhewig aan verdere onderhandeling;
  • Koste van amptelike motors op R800 000 vasgestel word, ingesluit BTW;
  • Bedrae wat van die staat geëis kan word vir selfoononkoste beperk word;
  • Alle plaaslike vlugte in ekonomiese klas wees; en
  • 'n Nuwe dispensasie uitgewerk word vir reis- en verblyfkoste vir binnelandse en internasionale reise.

Vergoeding vir staatsdienswerkers was in die 2018-’19-boekjaar 35,4% van die gekonsolideerde nasionale besteding. Vinnige groei in die besteding aan vergoeding is aangevuur deur ware verhogings in salarisse en voordele, eerder as hoër vlakke van indiensneming, blyk uit die begrotingsdokument.

Mboweni het in sy toespraak daarop gewys dat sowat 29 000 top-staatsamptenare – Ramaphosa en sy kabinet ingesluit – miljoenêrs is net vanweë die enorme jaarlikse salarisse wat elkeen van hulle verdien.

As die staat sy teiken wil bereik om sy besteding met R21 miljard in die 2020-’21-boekjaar en R29 miljard in die 2021-’22-boekjaar te verminder, moet bykomende maatreëls gevind word om R150 miljard oor die volgende drie jaar, oftewel R50 miljard jaarliks, te besnoei.

“Hoe doen ons dit? Ons sal die uitdagings van die salarisrekening, staatsinstellings, vergoeding en voordele vir die uitvoerende gesag en fiskale lekkasies moet hanteer.”

’n Ontleding van die staatsdiens se salarisrekening, waarvan die resultate saam met Mboweni se toespraak gepubliseer is, werp meer lig op die situasie.

“Dit toon dat 29 000 staatsamptenare, plus lede van die nasionale uitvoerende gesag, LP’s, lede van die provinsiale uitvoerende gesag ensovoorts verlede jaar elk meer as R1 miljoen verdien het. Nadat dit aangepas is vir inflasie, is dit meer as dubbeld die aantal staatsamptenare wat in die 2006-’07-boekjaar meer as R1 miljoen verdien het,” het Mboweni gesê.

mtbr

Hy het daarop gewys dat die gemiddelde salarisverhoging in die 2018-’19-boekjaar 6,8%, 2,2% bó inflasie, was. Nadat dit aangepas is vir inflasie, het die gemiddelde salaris in die staat oor die laaste tien jaar met 66% toegeneem.

“Ons sien uit na robuuste besprekings in die relevante bedingingstrukture en met ander rolspelers om ’n volhoubare reëling te bereik,” het Mboweni gesê.

Hy het ook die leierskap in die parlement aangemoedig om te dink hoe die instelling sy vergoeding en voordele verder kan inperk.

Mboweni het op ’n mediakonferensie voor sy toespraak beklemtoon dat dit nie daaroor gaan om mense af te dank nie, maar om die salarisrekening te bestuur.

“Richard Baloyi en Faith Muthambi, (albei voormalige minister van staatsdiens en administrasie) het ons in die gemors laat beland. Hulle het ondernemings buite hul mandate onderteken. Een van hulle is nou ’n ambassadeur. Jy moet nie doekies omdraai nie, jy moet dit uitspel,” het hy gesê.

Volgens die begrotingsdokument is die verwagte besparings aan vergoeding en uit ander maatreëls wat in die 2019-’20-begroting aangekondig is, en wat oor die volgende twee jaar jaarliks besparings van R12 miljard sou verseker, omgekeer.

Mboweni het in sy toespraak gesê nie veel besparings het uit verskeie maatreëls, waaronder vroeë aftrede sonder straf, gevloei nie. “Vroeë besparings met aftrede kom stadiger deur as wat ons aanvanklik gedink het. Ons sal nuwe lewe in die program vir vroeë aftrede blaas.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.