Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Resessie: Hoe gaan SA by sy begroting bly?

Die afgelope week se resessienuus gaan dit feitlik onmoontlik maak vir die regering om binne sy begroting te bly en kredietgraderingsagentskappe gelukkig te hou, sê ontleders.

Leër staatskoffers weens laer belastinginvordering in ’n krimpende ekonomie volg boonop nadat die regering salarisverhogings van bo inflasie in die staatsdiens toegestaan het, ambisieuse planne vir ’n nasionale gesondheidsversekering aangekondig het sonder om te sê hoe dit gefinansier gaan word, en planne maak vir ’n “stimuluspakket” wat na raming R43 miljard kan kos.

Die inkrimping in die ekonomie sal van 2018 die vierde jaar maak waarin Suid-Afrikaners op ’n per capita-grondslag armer word, en sal gou ’n wrang eggo vind in afleggings, meer mense op maatskaplike toelaes, laer beleggingsvlakke en laer verhogings vir dié wat wel werk.

Die meeste ontleders voorspel nou dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met minder as 1% sal groei ná inkrimpings van 0,7% in die tweede kwartaal en 2,6% in die eerste.

Pres. Cyril Ramaphosa se voornemens om groei van 3% te behaal, is tot niet weens die perfekte storm van die binnelandse klimaat en ’n storm in ontluikende markte wat Suid-Afrika kwaai tref.

Sommige ontleders hoop op goeie nuus by die regering se beplande beraad oor werkskepping en beleggings, wat selfs voor 24 Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) kan plaasvind.

“Die beleggingskonferensie wat voorlê, die arbeidsberaad wat voorlê . . . Ons bou op tot die MTBR en . . . is midde-in die proses om ’n pakket saam te stel in reaksie op eksterne faktore,” het Nhlanhla Nene, minister van finansies, op Bloomberg-TV gesê.

Kredietgradeerders kan gepaai word as die mediumtermyn-begrotingsraamwerk reg verwoord word en die regering nie afwyk van fiskale dissipline nie.
Maarten Ackerman van Citadel

Lucie Villa, ’n visepresident van Moody’s, sê die bykomende druk op die fiskale en monetêre uitdagings is negatief vir ’n kredietgradering. Moody’s het sy reële groeiverwagting afwaarts aangepas tot tussen 0,7% en 1%.

Maarten Ackerman, ’n ekonoom van Citadel, sê die syfers in die MTBR sal beslis swakker lyk as wat in Februarie gestel is, maar meen kredietgradeerders kan gepaai word as dit reg verwoord word en die regering nie afwyk van fiskale dissipline nie.

Sou Moody’s Suid-Afrika in die nabye toekoms tot rommelstatus afgradeer, sal die land uit die Citi World Government Bond Index val, wat institusionele beleggers soos pensioenfondse sal dwing om Suid-Afrikaanse skuld te verkoop.

Ackerman meen die kapitaaluitvloei sal nie so groot wees soos baie vrees nie, omdat beleggers reeds hul blootstelling begin verlaag het.

Die regering het ná sy kabinetsvergadering die afgelope week bevestig hy bly verbind tot fiskale volhoubaarheid en gesê ’n hersiene fiskale raamwerk sal in die MTBR uiteengesit word.

Johann Els, hoof van ekonomiese navorsing by die Old Mutual Investment Group, sê van die BBP-data moet in perspektief beskou word. Hoewel landbouproduksie met 29% gedaal het op ’n kwartaalgrondslag, volg dit op verlede jaar se rekordmielieoes. Die daling is dus vanaf ’n hoë basis.

Vanjaar se verwagte oes van 13,2 miljoen ton is steeds genoeg vir die land se behoeftes en om uit te voer.

Ackerman sê egter die inkrimping in huishoudelike besteding is kommerwekkend.  – Reuters bygewerk

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Bbp1802  |  Bbp  |  Mtbr2018  |  Resessie  |  Tesourie  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.