Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Rommelstatus ís ons voorland, sê ekonome
Tito Mboweni, minister van finansies.Foto: Adrian de Kock

Tito Mboweni, minister van finansies, kan Woensdag sê wat hy wil in sy begrotingsrede, dit sal nie keer dat die land se kredietgradering algehele rommelstatus bereik nie.

Verreweg die meeste van die 19 ekonome wat in aanloop tot Mboweni se begrotingsrede aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, sê hulle is seker dat Moody’s Investors Service die land se kredietgradering vanjaar tot onder beleggingsgraad sal verlaag.

Moody’s is tans die enigste van die drie groot kredietgraderingsagentskappe wat Suid-Afrika se randgedenomineerde skuld nog op beleggingsgraad het.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, meen tensy Mboweni “baie drastiese stappe aankondig oor beleidsverandering – soos ’n verlaging in maatskappybelasting en selfs in persoonlike inkomste-belasting; die onmiddellike verkoop van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en ’n daadwerklike plan om Eskom se skuld te herstruktureer – gaan niks wat Mboweni sê keer dat Moody’s ons afgradeer nie”.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, sê hy dink “Suid-Afrika se finansies is só swak en die regering wil nie die realiteit aanvaar nie” dat Moody’s die kredietgradering sál verlaag.

Prof. Danie Meyer, direkteur van die Noordwes-Universiteit se navorsingseenheid oor handel, dink ook Mboweni gaan sukkel om Moody’s gelukkig te hou.

“Al hoe hy dit gaan regkry, is as hy grootskaalse besparings op staatsuitgawes aankondig. Maar dít gaan nie sommer gebeur nie. Beloftes wat in die staatsrede gemaak is, vereis baie bykomende uitgawes.”

Abri du Plessis, ekonoom by Gryphon, is een van enkele ekonome wat dink daar is tog hoop vir Suid-Afrika. Hoewel hy nie dink Mboweni se toespraak op sy eie sal ’n afgradering keer nie, dink hy nie Moody’s gaan tot dié stap oorgaan nie. “Ek vermoed daar is die een of ander ooreenkoms tussen Moody’s en die ANC,” sê hy.

Eskom

Die groot olifant in die vertrek is sonder twyfel Eskom. Harmse verwag Mboweni gaan meer besonderhede oor die ontknoping van Eskom gee. “Dit sal die weg vir ’n private distribusienetwerk baan.”

Klopper verwag dat Mboweni “iets” sal sê oor hoe nodig dit is om “vinnig toestemming te gee sodat vordering met die verskaffing van groen krag gemaak kan word”.

Elna Moolman, ekonoom by Standard Bank, verwag egter nie dat Mboweni enigiets gaan sê oor Eskom, die beoogde staatsbank of selfs die staat se nuwe welvaartsfonds nie.

“Ons verwag ook nie enige besteding hieraan in vanjaar se begroting nie.”

BTW

Die ander netelige kwessie wat baie aandag voor die begroting geniet, is of die koers van belasting op toegevoegde waarde (BTW) weer verhoog gaan word.

Die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, is baie verdeeld hieroor.

Emile du Plessis, ekonoom by Finometrica, verwag die koers sal onveranderd gelaat word. “ ’n BTW-verhoging gaan die laerinkomstegroepe die meeste raak en te midde van lae ekonomiese groei gaan dit onveranderd gelaat word om besteebare inkomste te ondersteun.”

Ulrich Joubert, ’n onafhanklike ekonoom, meen daar is nie enige ruimte vir verdere belastingverhogings nie.

“Die klem moet op die bestedingskant val om korrupsie, wanbesteding en vermorsing stop te sit asook om die salaris- en loonrekening te laat krimp.”

Jeff Schultz, hoofekonoom by BNP Paribas, verwag ook nie ’n verandering nie. “Ons dink die tesourie gaan meer fokus op die besnoeiing van uitgawes eerder as belastingverhogings. Ons dink ook dit is te gou ná die 2018-verhoging van BTW.”

Schüssler verwag wel ’n styging van 1 persentasiepunt.

“Die minister moet ’n begrotingstekort van 6,7% van bruto binnelandse produk (BBP) vul. ’n Hoër BTW-koers kan ’n bykomende R25 miljard vir die staat verdien.”

Chris Harmse, ekonoom by Rebalance Fund Managers, dink ook ’n BTW-verhoging van 1 persentasiepunt is op die tafel. “Die belastingbasis is net te klein en in die lig van die verwagte swak ekonomiese groeikoers gaan Mboweni verplig wees om dit te verhoog.”

Abri du Plessis verwag selfs ’n verhoging van 2 persentasiepunte. “BTW is die enigste belasting wat genoeg inkomste kan genereer om die begrotingstekort aan te vul.”

begrotingsrede

Persoonlike inkomstebelasting

Die meeste ekonome verwag nie dat persoonlike inkomstebelasting gaan styg nie. Die meeste verwag wel dat belastingkerwe onveranderd gelaat gaan word. Dit beteken dat Suid-Afrikaners wat ’n salarisverhoging gekry het, in die komende jaar swaarder belas kan word indien hulle nou in ’n hoër belastingkerf val.

Schüssler sê die staat kan ’n ekstra R12 miljard op dié manier insamel.

Harmse verwag dat meer belastingkerwe geskep gaan word.

“Daar is ruimte tussen die 40%- en 45%-kerf. Hy behoort bykomende kerwe tussen huidige kerwe van R1 miljoen en R1,5 miljoen bruto salaris in te stel,” sê hy.

Christo Luüs, ekonoom by Ecoquant, meen egter daar is tog die moontlikheid dat die koers van persoonlike inkomstebelasting met 3 persentasiepunte tot 5 persentasiepunte opgeskuif kan word, wat die top- marginale koers op tussen 48% en 50% tot stand sal bring.

begrotingsrede

Staatslone

Ten opsigte van die staat se loonrekening sê Schultz die staat en vakbonde het ’n driejaarooreenkoms onderhandel, wat beteken daar gaan nie enige beduidende aankondiging hieroor wees nie.

Hy sê BNP Paribas verwag daar sal eers ná 2021 enige beduidende veranderinge hieraan kan kom.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.