Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
SA het nie net Moody’s om te vrees
ekonomie
Die swak ekonomiese groeivooruitsigte is kommerwekkend, sê ekonome.

Suid-Afrika word nie net bedreig deur ’n afgradering tot rommelstatus deur Moody’s nie, maar ook deur internasionale risiko’s soos oplopende skuld, die Covid-19-virus, klimaatsverandering en die swak prestasie van belangrike ekonomieë soos China, Indië en Duitsland.

Dit is die waarskuwing van dr. Seeraj Mohamed, adjunkdirekteur vir ekonomie in die parlementêre begrotingskantoor (PBO).

Hy het Dinsdag as deel van ’n vooraf aanbieding oor die begroting aan ’n gesamentlike vergadering van die staande komitee oor finansies en die gekose komitee oor finansies gesê beleggers hou dus hul bates likied, want hulle is senuagtig en wil hul geld vinnig kan skuif na veilige toevlugsoorde as dinge skeefloop.

Rashaad Amra, ekonoom van die PBO, sê die swak ekonomiese groeivooruitsigte is kommerwekkend, want groei is nodig om werk te kan skep en staatsinkomste te verhoog.

Die PBO verwag die plaaslike ekonomie sal vanjaar met net 0,6% groei, volgende jaar met 1% en die jaar daarna met 1,2%, wat laer is as die nasionale tesourie se verwagtinge teen die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR)in Oktober verlede jaar.

Amra verwag die tesourie sal Woensdag met die begroting weer sy groeivooruitsigte verlaag.

’n Jaar gelede het die tesourie nog verwag die ekonomie sal vanjaar met 1,5% groei.

Besnoeiing aan besteding

Amra het gewys op die idee in verlede jaar se MTBR dat R150 miljard se besteding oor drie jaar besnoei moes word.

Woensdag sal gesien word of en waar dié besnoeiings al gedoen is en waar dit nog gedoen sal word, indien ooit.

Die PBO verwag die begrotingstekort vir die jaar sal relatief naby wees aan wat Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober voorspel het.

Amra sê hulle is egter bekommerd oor die inkomste uit belasting op toegevoegde waarde (BTW), wat tot dusver lyk asof dit meer as R20 miljard minder is as waarop in verlede jaar se begroting gehoop is.

Moody’s

Oor die risiko wat Moody’s vir Suid-Afrika inhou, het Amra gesê die konsensus onder ontleders is dat Suid-Afrika steeds geld sal kan leen onder rommelstatus, maar die kommer is wat die koste van dié lenings sal wees. As Suid-Afrika geld kon leen teen 7%, maar weens die afgradering nou die geld teen 8% of 9% moet leen, beteken dit sy skuldlas en skuldkoste word net groter.

Nelia Orlandi, hoof van die PBO, het op vrae van Dennis Ryder van die DA oor die nasionale gesondheidsversekering gesê die staat gee reeds geld vir die NGV via voorwaardelike toekennings om mediese dienste te verbeter, hoewel van die geld nie bestee word nie.

Laffer-kurwe

Die Laffer-kurwe is ’n swak idee en is empiries bewys as onwaar, het Mohamed gesê in reaksie op vrae van Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies.

Hill-Lewis wou weet waar dink die PBO is Suid-Afrika op die Laffer-kurwe.

Die idee agter die Laffer-kuwer is dat daar ’n punt bereik word waar belasting só verhoog word dat die staat al hoe minder inkomste daaruit verdien. Volgens Mohamed is dit nie so eenvoudig nie.

Daar is nie ruimte om enige belasting te verlaag nie, meen Mohamed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.