Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
SA skuld: Die 1980’s is terug
Die IMF reken dat politieke onsekerheid die ekonomie oor die volgende twee jaar gaan strem.

Teen dié tyd weet die meeste Suid-Afrikaners dat die verhouding van staatskuld tot bruto binnelandse produk (BBP) teen einde Maart vanjaar sowat 56% gaan wees.

Minder mense besef egter dat staatsbeheerde ondernemings (SOE’s) se skuld waarskynlik teen die einde van dié maand nóg 35 persentasiepunte hierby gaan voeg.

Teen die einde van die maand gaan die totale staatskuld dus 91,5% van die BBP beloop. Dit is die hoogste vlak waarop die totale-staatskuld-tot-BBP-verhouding al ooit was.

Die laaste keer dat Suid-Afrika soortgelyke skuldvlakke gehad het, was in die middel 1980’s.

Suid-Afrika was destyds op die rand van wanbetaling en die regering wou die land terugbring na die wêreldverhoog, maar pres. PW Botha kon nie die “Rubicon” oorsteek nie.

Suid-Afrika het finansiële kenners in Switserland gehad wat elke dag probeer het om geld in die hande te kry. Sanksies het ons seergemaak. Sanksies deur buitelandse pensioenfondse en later banke het dit moeiliker gemaak om die rente op die skuld te betaal. Dit het in Januarie 1986 ’n hoogtepunt van meer as 18% bereik.

In die 1980’s het Suid-Afrika voorgeskrewe bates gehad, wat in effek daarop neergekom het dat 53% van jou pensioengeld in staats- en SOE-effekte belê moes word.

Dit is gedoen sodat die regering jou geld kon kry om sy skuldterugbetalings te kan finansier.

Toe verander die speelveld

Ver uit die openbare oog het die Nasionale Party (NP) egter met die ANC begin praat, terwyl sommige Suid-Afrikaners op safari na Senegal is.

Namibië het onafhanklik geword en die Suid-Afrikaanse weermag het uit die destydse Suidwes-Afrika onttrek.

Daar was planne om Yskor te privatiseer omdat die sosialistiese NP kontant nodig gehad het. Dit het egter nog vyf jaar – tot 1989 – geduur voordat dit bereik is.

Lux Air het op sommige Europese roetes ’n mededinger van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) geword.

Die private lugdiens Flitestar is toegelaat om binnelands te vlieg omdat die SAL nie genoeg kontant gehad het nie.

M-Net is as mededinger van die SAUK toegelaat en winkels kon op Sondae sake doen – alles om die ekonomie aan die gang te skop.

Nelson Mandela is in 1990 vrygelaat en FW de Klerk het die ANC ontban.

Suid-Afrika het buitelandse geld nodig gehad om verligting te bring vir sy hoë skuldvlakke.

Die land het te veel kragstasies gehad en het beleggings gelok met ongekend lae elektrisiteitspryse.

Dit het die aluminiumsmelter Alusaf en ander groot kraggebruikers gelok. Dit het gehelp om Eskom se destydse skuld te delg, terwyl die Spoorweë planne beraam het om uitvoer-steenkool goedkoper te vervoer sowat Suid-Afrika buitelandse inkomste kon verdien.

openbare skuld

Suid-Afrika se skuld vandag

Suid-Afrika se totale skuldlas is vandag sowat 3 persentasiepunte hoër teenoor die BBP as in die 1980’s en ons is op pad na dieselfde terugbetalingsknyptang as destyds.

Vandag is dit ’n kredietafgradering en nie finansiële sanksies nie wat daartoe gaan lei dat buitelandse kapitaal die Suid-Afrikaanse skuldmark verlaat.

Met ons huidige skuld-tot-BBP-verhouding gaan die land sukkel om sy skuld te finansier, baie soos in die 1980’s, maar dié keer sonder die bykomende elektrisiteit.

Ons het nie ekstra krag wat ons kan verkoop nie en weens beurtkrag kan die ekonomie nie teen sy volle potensiaal funksioneer nie.

’n Afgradering deur die kredietgradeerder Moody’s Investors Service sal skuldkoerse verhoog namate buitelandse indeks- en pensioenfondse hulle aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek, net soos wat in die 1980’s gebeur het.

Soos ’n wapen van massavernietiging sal dit die staat se vermoë om nog geld te leen in die lug opblaas. Met belastingkoerse wat reeds hoër as in die meeste lande is, gaan die impak op die regering se bestedingsvermoë duidelik word. Die staat sal spoedig nie meer kan bekostig om maatskaplike toelaes of die vergoeding van staatsamptenare te verhoog nie.

Die kohesie wat staatsbesteding bring, sal verdamp.

Nes in die 1980’s gaan die ekonomie Suid-Afrika dus dwing om te verander.

Bates gaan verkoop word, pragmatiese ekonomiese besluite sal geneem word, en ek vermoed die sosialistiese en rassistiese retoriek sal byna verdwyn uit die regering se gemompel.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, sê Suid-Afrika moet gaan kyk na wat ander lande reg doen. Foto: Wikus de Wet

En nou is dit verkiesingstyd

Bill Clinton het in sy verkiesingsveldtog om die Amerikaanse presidentskap gesê: “Dit is die ekonomie, domkop.”

Wel, daai stelling gaan nou weer in Suid-Afrika kop uitsteek.

Eerder as om te weet wié die verkiesing wen, wil Suid-Afrikaanse ondernemings weet wat die gevolge van die verkiesing vir die ekonomie gaan wees en hoe politici op die nuwe werklikheid gaan reageer.

Politici sal kniel voor die grootste altaar van massavernietiging wat daar is – rentekoerse. Hier sal hulle om genade bid, selfs het hulle geen godsdiens en geen respek vir die markte nie.

Verwag dat vakbonde gaan baklei vir die opbrengste van pensioenfondse wanneer voorgeskrewe bates in een of ander vorm toegepas word!

Ja, ons oudag word deur armoede bedreig en afhanklikheid van ’n maatskaplike pensioen sal nie goed wees vir die meerderheid Suid-Afrikaners nie.

Verwag ’n paar stampe en stote voor ’n groot klomp hervormings aangebied word as nuwe oplossings vir baie ou probleme.

Verwag dat sommige universiteite gaan sluit, dat SOE’s soos die SAL gaan verdwyn en dat baie staatsamptenare nuwe loopbane sal moet vind.

Die pad hierheen gaan vol hobbels wees. Moenie paniekbevange raak nie.

Spaar soos wat jy voorheen gespaar het – of selfs meer – want dinge gaan taaier wees wanneer jy aftree.

Diversifiseer so vinnig en soveel moontlik, maar onthou dat jy nou meer as voorheen kan doen en dat die politici binnekort ’n nuwe deuntjie gaan sing.

Welkom by Risiko en Opbrengste 101.

  • Mike Schüssler is ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Mike Schüss­Ler  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.