Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
SA tuimel oor fiskale afgrond - ekonome

Suid-Afrika is by ’n fiskale afgrond – ’n situasie waar belastings sal moet styg én die staat besteding sal moet besnoei indien hy wérklik ernstig is oor fiskale konsolidasie.

Maar ná Woensdag se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) vra verskeie ekonome of daar werklik nog van fiskale konsolidasie gepraat kan word. Dít gegewe dat die staat se besteding deur sy plafon gebreek het en belangrike maatstawwe oor skuld drasties verswak het.

Fitch Ratings, die eerste van die drie groot kredietgradeerders wat op dit MTBR gereageer het, sê ook dit lyk of die staat sy konsolidasieplan laat vaar het.

Sanisha Packirisamy, ekonoom, en Herman van Papendorp, hoof van batetoewysing, albei van Momentum, sê daar is eintlik geen sprake van konsolidasie nie.

Arthur Kamp, ekonoom van Sanlam Investments, stem saam, maar voeg by: “Dis moeilik om die fiskale verlies aan beheer akkuraat te meet, aangesien die MTBR die uitwerking van fiskale konsolidasiemaatreëls uitsluit wat waarskynlik in Februarie 2018 aangekondig gaan word.

“Die fiskale vooruitsig lyk, om die waarheid te sê, dalk nie so erg wees as wat nou getoon word nie. Nietemin is dit al hoe duideliker dat die huidige fiskale pad onvolhoubaar is.”

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Woensdag ’n droewige prentjie van die staat se geldsake geskilder. Die begrotingstekort gaan teen Maart 2018 tot 4,3% van die bruto binnelandse produk (BBP) styg, vergeleke met die Februarie-verwagting van 3,1%.

Dit is ’n hele persentasiepunt hoër as die geraamde begrotingstekort van 3,3% van BBP vir die boekjaar tot Maart 2017.

Gigaba was in sy toespraak eerlik oor die uitdagings, maar verwys steeds na konsolidasie. “Ons het versigtig besin oor die beste fiskale strategie om te verseker dat die program van afgemete fiskale konsolidasie nie die spoor byster raak nie. Nie een van die opsies is pynloos nie.”

Fiskale konsolidasie is die vermindering van die begrotingstekort, dus met hoeveel meer die staat se uitgawes meer is as sy inkomste, skuldbetalings uitgesluit. Die wêreldgemiddelde vir die begrotingstekort vir 2016 word geraam op 3,2%, vir die Europese Unie 3% en vir die VSA 3,2, volgens die Amerikaanse intelligensie-agentskap (CIA) se The World Factbook.

Kamp sê geen betekenisvolle besnoeiing is aangekondig nie. Inteendeel, die regering gaan 0,2% meer bestee as wat in Februarie begroot is.

Die staat is op koers om die plafon op besteding met R3,9 miljard te breek weens die hulp wat onder meer aan die Poskantoor en Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gegee word.

Die staat se uitgawes gaan oor die volgende drie jaar met gemiddeld 7,6% styg, terwyl sy inkomste met net 7,1% gaan styg.

In 2018-’19 en 2019-’20 word besteding wel met onderskeidelik R7 miljard en R15 miljard besnoei, maar dit is omdat die reserwefonds verminder word.

Daarby sluit die begroting nog nie nuwe bestedingsprioriteite in nie – onder meer Nasionale Gesondheidsversekering, waartoe die regering verbind bly.

“Die MTBR-syfers weerspieël nie meer die bedoeling om die skuldkoers te stabiliseer nie,” sê Kamp.

Kamp sê as die regering tot ’n meer volhoubare fiskale pad wil terugkeer, vereis dit minder verbruiksbesteding (soos aan salarisse) en meer kapitaalbesteding (soos aan infrastruktuur), maar daar is geen teken daarvan in die MTBR nie.

Dis staat se salarisrekening mag met 7,3% per jaar styg, maar heelwat nasionale en provinsiale departement oorskry dié verhogings.

Die Momentum-span sê: “In die afwesigheid van ’n negatiewe groeiskok of die wanbestuur van geld, verwag ons nie verdere verlies van beheer as wat (in die MTBR) aangekondig is nie.”

Packirisamy en Van Papendorp is egter bekommerd wat sal gebeur as die tesourie se ergste verwagtinge waar word. As staatskuld weer afgegradeer word, reken die tesourie byvoorbeeld ekonomiese groei sal in 2018 net 0,6% wees, pleks van 1,1%, soos tans voorspel word.

Dit sal selfs minder belastinginkomste na die staatskas laat vloei, terwyl daar reeds nagenoeg R50,8 miljard minder vir die 2017-’18-boekjaar voorspel word as in Februarie.

Die staat se rentebetalings gaan na verwagting met gemiddeld 11% per jaar styg oor die volgende drie jaar – die enkele begrotingsitem wat die vinnigste styg. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.