’n Kenner van die tesourie het self aan vakbonde erken dat die staat vanjaar se verhoging in staatsamptenare se salarisse kan bekostig. Die staat sou egter dan 5% van sy werkmag of sowat 60 000 staatsamptenare moes aflê.

Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdagmiddag in die parlement. Foto: Gallo Images
Só het adv. Chris Orr, namens van die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) en ’n paar onderwysersvakbonde, Woensdagoggend in die arbeidsappèlhof aangevoer.
Orr het daarop gewys dat die staat in sy argumente teen die inwerkingstelling van die laaste jaar van die huidige driejarige ooreenkoms oor verhogings die verkeerde syfers gebruik.
Volgens Orr noem die staat in hofdokumente dat die loonooreenkoms hom byna R38 miljard ekstra gaan kos, terwyl die koste in werklikheid nader aan R10 miljard is. Die hoër bedrag is wel die totale koste oor die drie jaar waarmee ’n oorspronklike begroting vir staatsdienssalarisse oorskry word.
Volgens Orr is die R10 miljard nie geld wat net vir ewig verlore is vir die staat nie, want baie daarvan kom terug na die staat in die vorm van persoonlike inkomstebelasting.
Orr meen dis kommerwekkend dat die staat sy saak op ’n syfer grond wat “nie korrek is nie”: “Dit grens aan ’n uitdruklike poging om die hof te mislei. Dit wys die gebrek aan kennis oor die werklike syfers.”
Die staat, in die vorm van die tesourie en die departement van staatsdiens en administrasie, voer in hul argument aan dat die oorspronklike loonooreenkoms van 2018 in elk geval ongeldig was omdat hy toe reeds nie regtig geld gehad het daarvoor nie.
Orr het aangevoer daar was sedert 2018 geen aanduiding van die staat dat die ooreenkoms onwettig en dus ongeldig was nie – tot vanjaar toe.
Regter Dennis Davis van die arbeidsappèlhof het gevra of die kredietafgraderings en die Covid-19-pandemie nie genoeg rede was vir die staat om te besef hy gaan nie meer genoeg geld hê om hom by die loonooreenkoms te hou nie. Maar Orr meen die probleem het al voor die pandemie bestaan.
Volgens Orr het die motorbedryf loonooreenkomste van so lank as vyf jaar, en as ’n werkgewer soos BMW sien hy verloor geld, gaan hy terug na die ander partye en vra of hulle wil heronderhandel.
“Hulle respekteer die ander party en besluit nie paternalisties wat is die beste vir almal nie.”
Volgens Orr kon die staat al in 2018 gesê het hy kan nie die loonooreenkoms bekostig nie, maar hy het dalk besluit hy wil nie ’n staking hê nie, dalk weens die verkiesing in 2019.
Maar dan kom hy in 2020 na die hof en gee toe hulle was baie sleg met die kollektiewe bedinging en nou moet die hof intree.
Adv. Ngwako Maenetje, wat namens die vakbonde Popcru, Sapu en Denosa optree, het aangevoer die staat moes toe hy besef het die loonooreenkoms was nie meer bekostigbaar nie ’n hof genader het om die ooreenkoms opsy te sit.
“Die staat kan nie bloot die ooreenkoms ignoreer en vir vakbonde wag om daarteen te protesteer, en dan ter verdediging die ongeldigheid van die ooreenkoms voorhou nie.”