Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Sakesiening: Begroting is toekomsgerig
Tito Mboweni (links) en pres. Cyril Ramaphosa in ligte luim na die begrotingsrede.

Die bemoedigendste presidensiële staatsrede in ’n dekade word toe opgevolg deur een van die waagmoedigste begrotings in baie jare.

Kort ná Tito Mboweni se begrotingsrede het die rand effens begin verstewig en was dit teen sluitingstyd verlede Woensdag 2% sterker as ’n week gelede – ’n aanduiding dat kapitaalmarkte minstens effens bemoedig was.

Nóg ’n positiewe aspek is die manier waarop die minister van finansies kaalvuis onder sommige staatsondernemings ingeklim het deur hul voortbestaan te bevraagteken – waarskynlik ’n verwysing na die moontlikheid dat instellings soos Denel en die Suid-Afrikaanse Lugdiens geprivatiseer kan word.

Verder is voorwaardes aan Eskom gestel vir toegang tot toekomstige finansiële hulp, waarvan een die aanstelling van ’n sogenaamde “hoofbeampte vir herorganisasie” is. Dié persoon sal gesamentlik deur die ministers van finansies en van openbare ondernemings aangestel word.

Ander staatsondernemings wat in die toekoms by die nasionale tesourie gaan aanklop vir finansiële bystand, sal ook só ’n pos moet skep.

Die onlangse daling in die opbrengskoers op Eskom se effekte wat in 2020 verval (wat tans selfs laer is as die regering se effekte wat in 2021 verval) bevestig dat beleggers reeds die voortgesette staatshulp aan Eskom verdiskonteer het. Beleggers is duidelik tevrede dat die Suid-Afrikaanse regering Eskom in staat gaan stel om sy skuld op lang termyn te delg en ook die rente daarop te betaal.

Vanjaar se nasionale begroting het oudergewoonte uiteenlopende kommentaar ontlok, met voorspelbare negatiewe reaksie deur sommige politieke partye en sommige vakbonde.

Ekonomiese groei

In skerp teenstelling hiermee het heelwat ekonome en sakeleiers gunstig gereageer, met tevredenheid wat veral uitgespreek is oor die voorneme om hoër ekonomiese groei voorop te stel en die staat se salarisrekening te verminder.

Die agtergrond tot die noodsaaklikheid om die groei in die hap wat salarisse uit die begroting neem, stop te sit, is die teenstrydige patroon van indiensname tussen die staat- en die vervaardigingsektor.

Al het só ’n stap dringend nodig geword, spreek dit van waagmoed om minder as drie maande voor ’n verkiesing só ’n aankondiging te maak, terwyl Mboweni ook nie geskroom het om Suid-Afrikaners te roskam wat nie vir dienslewering betaal nie.

Die 2019-begroting het voortgebou op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede vroeër in Februarie, veral ten opsigte van die regruk van Eskom, wat uiteindelik in drie bedryfsondernemings verdeel gaan word.

Anders as verlede jaar se begroting, het die uitvoerende bestuurspan van die nasionale tesourie dié keer ’n duidelike “Ramaphosa-stempel” daarop geplaas. Baie Suid-Afrikaners sou verlig gewees het oor die afwesigheid van die onsinnige retoriek oor sogenaamde “radikale ekonomiese transformasie” wat ’n kenmerk was van regeringsuitsprake tydens die Zuma-era.

Die aanklank met Ramaphosa se staatsrede was veral merkbaar met die nuwe verklaarde verbintenis tot groter klem op besteding aan infrastruktuur, ten koste van die voortdurende toename in die besoldiging van werkers in die staatsektor.

Meer besonderhede is ook bekend gemaak oor planne om werkskepping te bevorder, veral die voortsetting van die loonsubsidie vir jeugdiges en ’n belofte dat visumregulasies verder verslap sal word.

Die begroting het ook ’n duidelike plan bevat waarvolgens die land se begrotingstekort as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) binnekort ’n boonste draaipunt kan bereik en dan kan begin daal.

Vanjaar se begroting is ’n bewys dat Ramaphosa se verkiesing tot Suid-Afrika se president ’n keerpunt verteenwoordig in die manier waarop maatskaplik-ekonomiese beleid in Suid-Afrika toegepas gaan word.

Stukrag is stadig maar seker besig om verleen te word vir die inwerkingstelling van die groeigerigte beleidsvoorstelle in die Nasionale Ontwikkelingsplan, met ’n groeikoers van 3% in 2020 wat ’n moontlikheid is.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van Optimum Group en ’n voormalige wenner van die Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Eskom  |  Cyril Ramaphosa  |  Tito Mboweni  |  Begroting 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.