Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Sakesiening: Tito se vars briesie waai nie wolke weg nie
Ulrich Joubert, wat Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie al verskeie kere gewen het.

Die begroting van 20 Februarie is in die algemeen goed ontvang, veral in die lig van die moeilike omstandighede waarin dit gelewer is.

Daar was baie min beweegruimte, maar nogtans het ’n aantal vars winde deur die begrotingsrede van Tito Mboweni, minister van finansies, gewaai.

Van die verfrissende gedagtes in die begroting is:

  • Suid-Afrika moet besin of hy al sy staatsondernemings nodig het. Indien wel, moet hulle reg bestuur word.
  • Staatsondernemings moet aan sekere vereistes voldoen voordat nog geld uit die staatsbeursie gegee sal word om hulle te help. Hopelik bring dit mee dat belastingbetalers en verbruikers se geld nie sonder remme in bodemlose putte verdwyn nie.
  • Die staat se salarisrekening is onvolhoubaar en iets daadwerklik moet daaraan gedoen word. Hoewel staatsuitgawes op kort termyn kan toeneem weens skeidingspakkette aan mense wat die staat se diens verlaat, is dit oor langer termyn gunstig vir die staat se salarisrekening.
  • Groter klem op die skep van infrastruktuur eerder as om die staat se verbruiksbesteding te stimuleer.
  • Verbruikers moet aangemoedig word om te betaal vir die dienste wat hulle gebruik. Dit sal verbruikerspatrone wat lank voor 1994 in baie gemeenskappe gevestig geraak het en wat verder aangemoedig is deur die voorsiening van gratis dienste, moet omkeer.
  • Tans word die stedelike bevolking al hoe verder van hul werkplek geplaas omdat elke huishouding ’n alleenstaande gratis huis met dienste moet kry. Is dit finansieel en ruimtelik volhoubaar? Die begroting vra dat nuut gedink word oor die verskaffing van behuising.
  • Die staat is bereid om van sy politieke vennote ter wille van die groei van die ekonomie asook die belang van die breër gemeenskap uit te daag.
  • Die feit dat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede standpunte ingeneem het wat die breë boodskap van die begroting ondersteun, is miskien die grootste verskil van vorige begrotings.

Ongelukkig word daar steeds geld bewillig vir Nasionale Gesondheidsversekering wat volgens kundiges nie ’n haalbare stelsel vir Suid-Afrika is nie. Hopelik word dié geld aangewend om personeel- en toerustingtekorte in die bestaande openbare gesondheidstelsel in ’n mate reg te stel.

Risiko’s

Die begroting veronderstel dat die ekonomie in 2019 teen 1,5% – in ooreenstemming met die huidige langtermyn-groeipotensiaal – sal groei en is meer as dubbel die verwagte 0,7%-groeikoers van 2018. Die voorspelde groeikoers van 1,5% kan ’n gróót risiko vir die begrotingaannames inhou.

Indien die voorgenome dissipline van die begroting deurgevoer word, sal die begroting nie groei bevorder nie, maar groeikoerse in 2019 en 2020 beperk. Persoonlike-inkomstebelasting bly onveranderd, maar omdat belastingkerwe nie aangepas is nie, kan blokkruiping saam met “sondebelastings” private verbruiksbesteding beperk. Die voorneme om die personeelkorps in die staatsdiens te verminder, is eweneens negatief vir verbruiksbesteding.

Die omvangryke voortslepende droogte sal ’n negatiewe impak op die 2019-groeikoers hê. Dit kan werkloosheid en armoede in plattelandse gebiede verder verdiep.

Voorspellings dui op stadiger wêreld- ekonomiese groei in 2019 as in 2018 weens swakker groei in die VSA, Europa en veral China. China, ons grootste handelsvennoot, se groeikoers kan van 6,7% in 2018 tot net meer as 6% in 2019 verlangsaam. Dit sal negatief wees vir die uitvoer van veral plaaslike kommoditeite en dus die mynbousektor. Die 2019-groeivooruitsigte vir ons ander belangrike handelsvennote, Europa en Brittanje, is tans baie swak en voorspel ook swakker uitvoergroei vanjaar.

Vakbonde moet hul lede beskerm, maar indien die probleme by Eskom of die algemene openbare sektor nie ernstig aandag kry nie, kan dit meebring dat die land in ’n armoede-spiraal beland waaruit daar nie ontsnap kan word nie.

Weens die finansiële knyptang waarin die land hom bevind, sal die jongste en volgende paar begrotings nie groei kan stimuleer nie.

In Eskom se geval kan dit beteken dat die arbeidsmag met die helfte besnoei moet word, sodat regstelling van vaardighede en ervaring kan plaasvind en die onderneming weer op ’n langtermyn- finansieel volhoubare pad geplaas word.

Die grootste uitdaging vir die uitvoering van die begrotingsvoorstelle is om die vakbonde te oorreed dat dit vir die welvaart van álle Suid-Afrikaners noodsaaklik is dat besin word oor die grootte, samestelling en vergoeding van die personeelkorps in die totale openbare sektor. Ongelukkig is die gevolg hiervan dat meer mense afhanklik raak van noodsaaklike, maar op lang termyn onvolhoubare welsynstoelaes – veral indien sowat een derde van die bevolking daarop staatmaak.

Weens die finansiële knyptang waarin die land hom bevind, sal die jongste en volgende paar begrotings nie groei kan stimuleer nie. Hierdie stimulus moet onder meer kom van ’n plooibare arbeidsbedeling, aanvaarbare onderwys- en opleidingstandaarde, ’n veilige omgewing om in te leef en sake te doen, baie minder staatsinmenging in die ekonomie, sekerheid oor eiendomsregte, en die bevordering van ’n investeringsklimaat.

Dis verkiesingsjaar en dit is beslis nie ’n gegewe dat die land op 9 Mei in ’n beter situasie as op 8 Mei sal wees nie. Die binnegevegte in die regerende party kan toeneem en meebring dat ekonomiese beleid op die agtergrond bly. Sterk leierskap word op baie terreine benodig!

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Cyril Ramaphosa  |  Sakesiening  |  Belasting  |  Begroting 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.