Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
SAL kry sy sin met R10,5 mjd.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se sakeredders het hul beloofde R10,5 miljard gekry om hul reddingsplan vir die staatsbeheerde lugdiens te kan uitvoer.

Signs for South African Airways (SAA) airways park
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se sakeredders het hul beloofde R10,5 miljard gekry om hul reddingsplan vir die staatsbeheerde lugdiens te kan uitvoer. Foto: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

Ander bestedingsprogramme en departemente moes R6,97 miljard inboet om deels die ekstra geld vir die SAL moontlik te maak.

Van die departemente wat die meeste moes afstaan om die SAL ter wille te wees, sluit in die polisie wat meer as R1,1 miljard moes afstaan, asook die departement van hoër onderwys en opleiding met net soveel. Die departement van vervoer moes R681 miljoen afstaan en die departement van gesondheid R694 miljoen.

Tito Mboweni, minister van finansies, het verduidelik dit kom uit die “verlaging van voorwaardelike toelaes aan provinsiale en plaaslike regerings, asook verlagings in die basislyn-begrotings van nasionale departemente en hul openbare entiteite”.

Die tesourie aanvaar daar gaan nie verdere reddingsboeie aan staatsondernemings gegee word buiten wat reeds in die 2020-begroting ingesluit is nie.

Die tesourie verwag om R3,5 miljard te kry uit die verkoop van niekernbates in die staat in die lopende boekjaar, en dié geld sal gebruik word om versoeke vir hulp van kleiner staatsondernemings te finansier.

Eskom

Eskom het teen einde September al R6 miljard gekry van die R56 miljard wat in die lopende boekjaar aan hom toegeken is, het die tesourie Woensdag gesê.

Eskom sou oor tien jaar R20 miljard van die staat gekry het om sy skuld van meer as R488 miljard te help afbetaal, maar dié steun gaan op mediumtermyn met R4,2 miljard verlaag word. Hy sal tot en met 2026 nou R225,8 miljard kry, het die tesourie gesê.

Eskom het al R320 miljard van sy staatswaarborg van R350 miljard gebruik. Hy het hom daarna verbind tot ’n ekstra R7 miljard, wat hom teen einde Junie nog met R23 miljard se finansiering laat wat beskikbaar is via dié waarborg.

Landbank

Die regering het in Junie R3 miljard aan die Landbank gegee om die bank te stabiliseer nadat hy in April ’n wanbetaler geword het. Die bank kon sedert Augustus weer agterstallige rente begin terugbetaal danksy dié hulp en leningsboek-terugbetalings. Die tesourie het nie enige nuwe geld aan die Landbank toegeken in die mediumtermynbegroting nie, hoewel landbou-organisasies soos Agri SA gevra het die bank moet met minstens R18 miljard gehelp word oor die volgende paar jaar.

SAL, mtbr2020
Lede van die DA teken Woensdag protes aan buite die parlement oor die regering se beplande reddingsboei vir die SAL. Foto: Jaco Marais

Padongelukkefonds

Die tesourie waarsku die Padongelukkefonds is die staat se grootste gebeurlikheidslas. Die fonds se tekort sal teen 2023 tot R593 miljard groei. Die parlement het ’n skema wat die regering voorgestel het om die tekort te laat krimp in Augustus verwerp.

Nasionale Padagentskap

Sanral kan nie sy finansiële verpligtinge nakom nie, waarsku die tesourie. Hy gaan nie genoeg kontant uit sy tolpaaie genereer om sy bedryfskoste en skuld te betaal wat in Maart en September volgende jaar betaalbaar word nie. Die gevolg is dat die eerste fase van die projek om Gauteng se snelweë op te knap nie in stand gehou is nie, en die tweede en derde fases word vertraag.

Ander nasionale tolpaaie is ook in geldknyp, want tolgelde is teen minder verhoog as waarop in kontrakte ooreengekom is. Die tekort sal die staatskas vanjaar ’n ekstra R300 miljoen kos, het die tesourie gewaarsku.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Landbank  |  Mtbr  |  Lugdienste  |  Maatskappye  |  Lugdiens  |  Staatsondernemings  |  Sakeredding  |  Padongelukkefonds  |  Mtbr2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.