Die eerste kredietgradeerder wat op Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede gereageer het, is glad nie ingenome nie.

Die hoofkantoor van Fitch Ratings in Londen. Foto: Simon Dawson, Bloomberg
Fitch Ratings, wat Suid-Afrika reeds op rommelstatus gradeer, beskou die plan om die staat se salarisrekening te besnoei, as wensdenkery. As dit nie realiseer nie, lyk dit nie vir Fitch of die tesourie ’n “plan B” het om die staat se begrotingstekort en skuldvlakke te verbeter nie.
“Suid-Afrika se 2020-begroting beklemtoon die ernstige agteruitgang onderweg in staatsfinansies en die langtermyn-beleidsuitdaging om staatskuld te stabiliseer,” sê Jan Friederich, senior direkteur van soewereine graderings van Fitch.
Fitch sê fiskale maatstawwe het agteruitgegaan vergeleke met Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk, selfs ondanks “beduidende bestedingsbesnoeiing”.
“Daarby maak die konsolidasiemaatstawwe swaar staat op die daling in die staat se salarisrekening, wat dalk nie gaan realiseer nie, wat verdere risiko’s vir die trajek van Suid-Afrika se begrotingstekort en skuld skep.”
Fitch wys daarop dat die driejaar-salarisooreenkoms eers in April 2021 ten einde loop. Verhogings wat toegestaan is, was baie hoër as waarvoor daar destyds begroot is.
LEES OOK: Moody’s dalk nié deur begroting gepaai
“Die regering het ’n formele versoek gebring om die skikking te heronderhandel, maar dit sal die eerste keer wees dat ’n bestaande loonooreenkoms geopen word.”
Vakbonde het reeds gesê dis soos ’n oorlogsverklaring en Fitch sê daar is “weinig tekens” dat hulle traer groei in lone sal aanvaar ten einde fiskale konsolidasie te ondersteun.
“Die politieke ruimte om beduidende besnoeiing op ander gebiede te doen indien besparings aan salarisse nie realiseer nie, lyk ook beperk, gegewe maatskaplike druk om die lewering van openbare dienste te verbeter.”
Fitch is verras oor die feit dat belasting nie beduidend verhoog is nie.
“Volgehoue trae groei in die bruto binnelandse produk (BBP), gekombineer met reddingsboeie vir staatsondernemings, was die belangrikste faktore wat die staatsfinansies oor die afgelope jare agteruit laat gaan het, en die hervormings wat die regering voorsien, gaan waarskynlik nie groeivooruitsigte op mediumtermyn veel verbeter nie.”
Fitch se kommentaar is nie ’n gradering nie. Dié agentskap gradeer staatskuld op BB+, dus onder beleggingsgraad, met ’n negatiewe vooruitsig.
Standard & Poor’s Global Ratings en Moody’s Investors Service het nog nie kommentaar gelewer nie. Dis veral Moody’s se reaksie wat fyn dopgehou word omdat dit die laaste gradeerder is wat staatskuld op beleggingsgraad het, maar met ’n negatiewe vooruitsig vir die gradering.