Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Skoksyfer: Staatskuld kan 70% van BBP haal

Staatskuld in verhouding met die bruto binnelandse produk (BBP) gaan baie skerper en vinniger styg as wat voorheen geraam is en kan teen einde Maart 2023 reeds verby 70% wees.

Staatskuld is een van die faktore wat gaan bepaal of Moody’s Suid-Afrika Vrydag gaan afgradeer.

Staatskuld gaan in die lopende boekjaar tot einde Maart 2020 sowat R124 miljard meer wees as wat in Februarie se begroting voorspel is. Die totale bruto skuld gaan teen die einde van die boekjaar R3 167,6 miljard wees.

Volgens Tito Mboweni, minister van finansies, gaan die staatskuld tot amper R4 500 miljard styg aan die einde van die mediumtermynbegrotingstydperk, naamlik einde Maart 2023.

Die skerp groei in skuld is grootliks om die begrotingstekort te finansier. Luidens die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) sal baie meer geleen moet word as wat in Februarie geraam is.

Hoe groot is die staatskuld?

Die staatskuld teen die einde van die lopende boekjaar sal amper net soveel wees as wat die regering in die komende drie jaar aan onderrig, maatskaplike ontwikkeling en gesondheid wil bestee.

Dit is R3 000 miljard (R3 trillion in Engels) en uitgeskryf het die syfer 12 nulle: R3 000 000 000 000.

Dit beloop ook bykans die helfte van wat die staat altesame oor die volgende drie jaar wil bestee, naamlik R6 300 miljard.

“Dit is duidelik dat ons dinge anders sal moet doen. Soos dinge nou staan, sonder enige beleidsverstelling, gaan skuld waarskynlik teen einde Maart 2023 verby 70% van die BBP styg,” het Mboweni Woensdag in sy MTBR-rede in die parlement gesê.

Daar word geraam dat dit teen daardie tyd 71,3% van die BBP kan beloop. “Dit is ’n slegte posisie om in te wees,” het Mboweni gesê.

Dit is baie meer as wat voorheen geraam is. In Februarie is verwag dat bruto staatskuld teen einde Maart 2024 op 60,2% sou stabiliseer – dus die hoogste vlak wat bereik sou word.

’n Vlak van 60,8% gaan nou reeds in die lopende boekjaar tot einde Maart 2020 bereik word.

Sover bekend is dit baie erger as wat ekonome tot dusver verwag het.

’n Grafiek in die MTBR wys dat met die staat se finansiële steun aan Eskom ingesluit, kan die skuld-tot-BBP-verhouding teen die 2028-boekjaar tot 80,9% styg.

Die koste om die skuld te diens is die snels groeiende uitgawe van die staat. Dit groei teen 13,7% per jaar – amper dubbeld die groei in die besteding aan gesondheid, naamlik 7%.

Die staat moet vanjaar R204 miljard bestee om sy skuld te diens. Die bedrag styg tot amper R300 miljard in die laaste jaar van die MTBR. Vergeleke daarmee was die koste om skuld te diens in 2017 sowat R146 miljard.

Die stabilisering van die situasie gaan moeilike besluite verg, wat opofferings van ons almal gaan benodig.
Tito Mboweni, minister van finansies

Die koste om die skuld te diens gaan oor die volgende drie jaar onderskeidelik R1,5 miljard; R8,7 miljard en R17,2 miljard meer wees as wat in Februarie begroot is.

“Die stabilisering van die situasie gaan moeilike besluite verg, wat opofferings van ons almal gaan benodig. Dit sal vereis dat die groei in staatsamptenare se salarisse moet verlangsaam en bykomende inkomstemaatreëls sal getref moet word.

“Die gevolge daarvan om nie nou op te tree nie, gaan baie nadelig vir Suid-Afrika wees. Dit gaan veroorsaak dat die land se rentebetalings aan skuld al hoe groter word, hoër rentekoerse meebring en dit kan die land selfs in ’n skuldstrik laat beland.”

Mboweni het gesê die regering is vasbeslote om dié situasie te vermy.

Hy het gewaarsku bykomende maatreëls gaan in die begroting van 2020 aangekondig word.

Om die skuld te stabiliseer, is talle voorstelle gemaak om teen die einde van die boekjaar in 2023 ’n begroting te kry wat klop.

Die swak ekonomiese groei en die agteruitgang in die geldsake van die staat, gaan ’n invloed hê op die staat se leningstrategie.

Die MTBR wys die leningsvereistes is baie meer as waarvoor daar in Februarie begroot is.

In die lopende boekjaar is die staat se leningsvereiste – om die begrotingstekort te finansier plus skulddelging en rentebetalings – R394,2 miljard. In Februarie is dit op R335,3 miljard geraam.

Luidens die MTBR spring dit tot R440,5 miljard in die volgende boekjaar teenoor Februarie se raming van R327,6 miljard.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Staatsbegroting  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.