Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Sleutel tot die begroting: Lone móét daal

Staatsdienslone as begrotingsitem móét daal en Tito Mboweni, minister van finansies, erken sy hele plan vir fiskale konsolidasie hang daarvan af.

TITO SE GROOT TOETS
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

“Die volhoubaarheid van openbare finansies sal sterk afhang van die regering se vermoë om die groei in die staatsdiensloonrekening in toom te hou,” sê die tesourie in die jongste begroting.

Staatsdienslone het in die 2020-’21-boekjaar die staat 47c uit elke rand wat hy ingevorder het gekos.

In die vorige boekjaar was dit nog 41c uit elke rand.

“Om toe te laat dat die loonrekening aanhou styg in ooreenstemming met onlangse tendense, is nie volhoubaar nie.”

Staatsdienslone is verreweg die grootste item op die begroting, en volgens Mboweni is dit ook oor die afgelope paar jaar een van die snelgroeiendes.

Die regering het in Desember daarin geslaag om ’n loonooreenkoms vir 2020-’21 tersyde te stel nadat die appèlhof in sy guns beslis het.

Vakbonde is briesend omdat die regering nie die driejaarloonooreenkoms van 2018 eerbiedig nie.

Hulle wil die appèlhof-uitspraak in die konstitusionele hof betwis. As hulle hier slaag, sal die staat ’n bykomende R37 miljard moet vind om die hoër-as-inflasie-verhogings te kan betaal.

Mboweni wil verseker dat die staat se loonrekening in die afsienbare toekoms nie so ’n las op die staatskas bly nie.

Die tesourie beoog nou om slegs verhogings van gemiddeld 1,2% per jaar aan staatsamptenare toe te ken oor 'n driejaartermyn van die mediumtermynbegrotingsraamwerk. Hul verhoging vir vanjaar is egter 2,1%.

“Hierdie groeikoerse kan bereik word deur byvoorbeeld tot en met 2023-’24 weg te doen met die jaarlikse lewenskoste-aanpassing in die staatsdiens, tesame met maatreëls om poste te verminder deur ’n kombinasie van vroeë aftrede en natuurlike personeelafname, asook die bevriesing of afskaffing van niekritieke poste,” sê die tesourie.

Hy het ook geheel en al weggedoen met prestasiebonusse vir staatsamptenare, wat ’n beduidende verskil sal maak.

Soos sake nou staan, het Suid-Afrika een van die duurste staatsdienste ter wêreld. Die tesourie sê dis op gelyke vlak met lande soos Denemarke en Noorweë.

As persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) bestee Suid-Afrika 14,8% aan sy loonrekening vir staatsamptenare.

Dit is bykans 5 persentasiepunte hoër as die gemiddelde vir lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso).

Mboweni sê die ganse fiskale raamwerk vir die volgende drie jaar, en meer, hang daarvan af dat die loonrekening in toom gehou kan word.

Volgens die tesourie word die hoop geplaas op Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, se onderhandelings met vakbonde om ’n loonooreenkoms aan te gaan wat die begroting se plan vir fiskale konsolidasie weerspieël.

Indien hy misluk, sal die regering honderdmiljarde rande se bykomende skuld moet aangaan oor die volgende drie jaar.

Dit mag volgens die tesourie nie gebeur nie.

“ ’n Afwyking van hierdie aanname in die komende loonooreenkoms sal onbekostigbaar wees en die staat se poging om skuld te stabiliseer, in gevaar stel,” sê die tesourie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Vergoeding  |  Vakbonde  |  Lone  |  Hofsaak  |  Begroting2021  |  Fiskale Afgrond  |  Staatsdienslone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.