Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Só bring Tito verligting met belasting

Suid-Afrikaners kan ’n sug van verligting slaak oor Jan Taks se planne vir 2020. Die belangrikste verandering in vanjaar se begroting is dat daar ’n aanpassing aan belastingkerwe aangebring is.

belasting
Die minister van finansies het in sy 2020 begroting die belastingdrempel gelig en belastingkerwe verhoog.

Dit beteken mense gaan nie noodwendig vanjaar ná hul jaarlikse verhoging in ’n nuwe belastingkerf val en dan meer van hul salaris aan belasting moet betaal nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede aangekondig dat daar belastingverligting is vir individue, én dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) onveranderd bly.

Die tesourie sê dít beteken die staat verwag nie om ’n groter inkomste uit persoonlike inkomstebelasting in 2020 te verdien nie.

“Die groei in lone, verbruikersbesteding en die winsgewendheid van sakeondernemings het die afgelope jare gestagneer. Minder belasting is dus ingevorder. Beduidende belastingverhogings sal binne hierdie konteks waarskynlik nie doeltreffend wees nie,” sê die tesourie in sy begroting oor dié besluit.

’n Begroting sou egter nie ’n begroting wees as daar nie die gebruiklike skerp verhogings in sondebelastings en die styging in die heffing op brandstof en die Padongelukkefonds is nie.

Vanjaar gaan Suid-Afrikaners met ’n suikertand nie nog meer vir suikerbelasting hoef te betaal nie, maar hulle gaan wel meer moet hoes as hulle hul koeldrank in ’n plastieksakkie by die winkel wil sit.

Die belastingkrediete op mediese fondse word ook verhoog, wat in die guns van verbruikers is.

Hier is van die grootste veranderinge in persoonlike inkomstebelasting in die nuwe belastingjaar – asook die nuwe belastings waarop jy in 2020 of later bedag moet wees:

Belastingdrempel styg

Die belastingdrempel styg met 5,2%. Dit is hoër as die verwagte inflasiekoers van 4,4% vir 2020.

Jy word aangeslaan vir persoonlike belasting as jy meer as hierdie drempel per jaar verdien. Mense wat minder as die belastingdrempel verdien, betaal geen belasting nie.

  • Mense van jonger as 65 jaar: Van R79 000 tot R83 100
  • Mense van 65 tot 74 jaar: Van R122 300 tot R128 650
  • Mense van 75 jaar en ouer: Van R136 750 tot R143 850

Belastingkortings ook meer

Die belastingkortings – dus die bedrag wat mense kan aftrek voordat hulle hul inkomstebelasting bereken – styg ook met 5,2% en dus meer as die verwagte inflasiekoers.

  • Primêre korting (jonger as 65 jaar): Styg van R14 220 tot R14 958
  • Sekondêre korting (65 tot 74 jaar oud): Styg van R7 794 tot R8 199 (totale korting nou R23 157)
  • Tersiêre korting (75 jaar en ouer): Styg van R2 601 tot R2 763 (totale korting nou R25920)

Belastingkerwe opgestoot

Die kerwe wat bepaal watter persentasie van jou inkomste jy aan Jan Taks moet gee, is aangepas. Dit beteken soos wat mense meer verdien, behoort hulle ’n groter persentasie van hul inkomste teen ’n hoër koers af te staan. Dié kerwe is egter vanjaar opgestoot in die guns van salaristrekkers.

inkomstebelasting

Die maksimum inkomstebelastingkoers van 45% is nou van toepassing op mense wat R1 577 301 of meer per jaar verdien, van die R1 500 001 wat dit was.

Inkomstebelasting op oorsese werk

Die sogenaamde ekspat-belasting, wat vir die eerste keer op 1 Maart in werking tree, belas voortaan mense wat oorsee werk vir die verskil tussen die inkomstebelasting wat hulle oorsee betaal en wat hulle plaaslik sou betaal het. Die eerste R1 miljoen per jaar wat oorsee verdien word, sou belastingvry wees, maar die tesourie het aangekondig dié vrystelling word tot R1,25 miljoen verhoog.

Belasting wat verbruikers ook raak

Mediese krediete: Die bedrag wat mense met mediese fondse kan aftrek voordat hul belasting bereken word, is met 2,8% verhoog. Dit is egter onder die verwagte inflasiekoers van 4,4%. Die tesourie sê dié beperkte verhoging is om die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV) te finansier. Die hooflid en eerste bykomende lid kry nou ’n korting van R319 elk teenoor die R310 van 2019. Afhanklikes kry nou ’n korting van R215 teenoor die R209 elk. Die belastingvoordeel vir mediese uitgawes wat mense uit hul eie sak moet aangaan, bly onveranderd op 25% vir mense onder 65 jaar, en 33,3% vir mense van 65 jaar en ouer.

Suikerbelasting: Die suikerbelasting, wat in April 2018 van krag geword het, bly onveranderd op 2,21c per gram per 100 ml koeldrank. Die basiese vrystelling geld dat die eerste 4 g suiker per 100 ml koeldrank belastingvry is.

BTW: Dit bly onveranderd op 15%. Daar is geen nuwe kos-items wat van BTW vrygestel word nie.

Brandstofheffing: Die algemene brandstofheffing styg op 1 April met 16c per liter. Die Padongelukkefondsheffing styg met 9c per liter. Dit beteken die totale styging op 1 April, voordat die maandelikse verandering weens oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers bygereken is, sal 25c per liter wees.

Plastieksakke: Die heffing op plastieksakkies sal op 1 April beduidend van 12c tot 25c per sak styg.

Gloeilampe: Die heffing op gewone gloeilampe word met R2 tot R10 verhoog. Dit word op 1 April van krag. Energiebesparende gloeilampe word nie ekstra belas nie.

Belasting vir beleggers, ander

  • Trusts se belastingkerf bly: Die belastingkerwe vir trusts (uitgesluit spesiale trusts soos trusts wat vir gestremdes of minderjariges opgerig word wanneer broodwinners sterf) bly onveranderd. Die maksimum koers bly onveranderd op 45% vir trusts met ’n inkomste van R1,5 miljoen of meer per jaar.
  • Rente- en kapitaalwinsvrystellings: Geen aanpassing word gemaak aan hoeveel rente-inkomste en kapitaalwins vrygestel word van inkomstebelasting nie.
  • Rente: Mense van jonger as 65 kan steeds R23 800 se rente-inkomste belastingvry verdien, en mense van 65 jaar en ouer R34 500.
  • Kapitaalwins: Die jaarlikse vrystelling van R40 000 bly onveranderd; en in die jaar van jou dood bly die vrystelling vir jou boedel onveranderd op R300 000.
  • Maatskappybelasting: Bly onveranderd op 28%.
  • Skenkingsbelasting: Dit bly onveranderd op 20% vir enige skenking tot R30 miljoen, en op 25% vir R30 miljoen of meer.
  • Boedelbelasting: Dit bly onveranderd op 20% op die eerste R30 miljoen van ’n boedel en 25% op die waarde bo R30 miljoen. Die eerste R3,5 miljoen van ’n boedel is vrygestel van boedelbelasting, ’n bedrag wat ook nie verhoog is nie.
Sondebelastings

Aksyns op alkohol en tabak – die sogenaamde sondebelasting – styg soos gewoonlik. In 2020 word die meeste egter teen die verwagte inflasiekoers van 4,4% verhoog. Daar is egter ’n paar uitskieters. Hier is die belangrikste stygings – en ’n aanduiding van hoeveel belasting jy per blikkie bier, bottel wyn en pakkie sigarette betaal:

  • Bier: Styg met 4,4% tot R106,56 per liter absolute alkohol of tot R1,81 per 340 ml-blikkie.
  • Wyn: Styg met 4,4% tot R4,39 per liter absolute alkohol of tot R3,29 per 750 ml-bottel.
  • Vonkelwyn: Styg met 6% tot R14,36 per liter absolute alkohol, of tot R10,77 per 750 ml-bottel.
  • Spiritualieë: Styg met 4,4% tot R213,13 per liter absolute alkohol oftewel tot R68,73 per 750 ml-bottel.
  • Sider en alkoholiese vrugtedrankies: Styg met 4,4% tot R106,56 per liter absolute alkohol oftewel tot R1,81 per 340 ml-blikkie.
  • Sigarette: Styg met 4,4% tot R17,40 per 20 sigarette.
  • Pyptabak: Styg met 7,5% tot R5,99 per 25 g.
  • Sigare: Styg met 7,5% tot R96,45 per 23 g.
  • Aftreefondse: Belastingvrye bydraes tot aftreeprodukte bly onveranderd.
  • Hereregte: Hereregte is verlaag. Die hoogste koers bly steeds 13%, maar dit is nou vir ’n eiendom van meer as R11 miljoen. Eiendom van minder as R1 miljoen is vrygestel van hereregte.
  • Dobbelbelasting: Dit bly onveranderd op 1% op dobbelmaatskappye se inkomste ten einde programme vir teen dobbelverslawing te finansier.
  • Belastingvrye spaar: Die jaarlikse perk op bydraes tot ’n belastingvrye spaarrekeninge word van 1 Maart met R3 000 tot R36 000 verhoog. Jy kan dus nou R36 000 per jaar belastingvry spaar.
hereregte

Nuwe belastings in 2020 of later

  • E-sigarette: Die tesourie beplan om van 2021 elektroniese sigarette te belas. Tabakverhittingsprodukte sal onmiddellik belas word teen 75% van die koers waarteen gewone sigarette belas word.
  • Brandstof: Die tesourie sê hy kyk na “ondoeltreffende” subsidies vir fossielbrandstof, insluitende dat geen BTW tans op brandstof gehef word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.