Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Só word prys van petrol, diesel geraak

As jy, soos talle ekonome, ’n skerp styging van tot 50c per liter in brandstofheffings verwag het, sal jy aangenaam verras wees – maar ook nie vir lank nie.

Tito se begroting beteken jy gaan meer per liter vir Jan Taks opdok. Die heffings beloop van April R5,88 per liter petrol en R5,74 per liter diesel teenoor R5,63 en R5,49 tans. Foto: Pixabay

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag aangekondig dat die heffings op brandstof met 25c per liter styg.

  • Die algemene brandstofheffing styg die skerpste, met 16c tot R3,70 per liter petrol en tot R3,55 op diesel.
  • Die Padongelukkefondsheffing styg met 9c tot R2,07 op alle soorte brandstof.
  • Aksyns en doeane op brandstof bly onveranderd op 4c per liter.
  • Die koolstofbelasting bly onveranderd op 7c vir petrol en 8c vir diesel.

Die betreklik matige styging in heffings, in ’n jaar waarin brandstofpryse skerp gestyg het, beteken belasting as ’n persentasie van die pompprys gaan daal. Volgens die tesourie se somme het belasting in April verlede jaar 40,6% van ’n liter petrol beloop en 41,8% van ’n liter diesel. Op 1 April vanjaar verlaag dit tot onderskeidelik 37,4% en 39,4%.

Dit beteken egter steeds in randwaarde dok jy meer vir Jan Taks op. Die heffings beloop van April R5,88 per liter petrol en R5,74 per liter diesel teenoor R5,63 en R5,49 tans.

Die nuwe belastings word op Woensdag 1 April van krag.

Die maandelikse oor- of onderverhaling in brandstofpryse moet nog hierby getel word. Die oor- of onderverhaling is gegrond op die gemiddelde rand-dollar-wisselkoers vir die oorsigtyd (rofweg die vorige maand, dus Maart) en gemiddelde internasionale brandstofpryse.

Al die syfers is vir die prys van 93-oktaan-petrol by ’n vulstasie in Gauteng en liter diesel by ’n groothandelaar in Gauteng. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.

Die lae styging in die Padongelukkefondsheffing is veral verrassend aangesien die begrotingsoorsig uitstippel hoe beroerd dit met die Padongelukkefonds gaan.

Mense wat in padongelukke beseer is, of hul familie as hulle dood is, kan van die fonds eis vir verlies aan inkomste, skade en mediese en begrafniskoste. Eise gaan na verwagting oor die volgende drie jaar met byna 52% styg, van R96,4 miljard in 2018-’19 tot R145,6 miljard in 2022-’23.

Die styging in eise is baie hoër as die styging in heffings. Die fonds se opgelope tekort was in 2018-’19 altesaam R262,1 miljard en dit gaan na verwagting teen 2022-’23 tot R593 miljard styg.

Die tesourie sê hoewel die heffing oor die afgelope 20 jaar vinniger as inflasie gestyg het, het eise selfs vinniger gestyg. 

’n Voorstel in die begrotingsoorsig is dat derdepartyversekering verpligtend gemaak word.

Wetgewing wat die Padongelukkefonds ingrypend sal verander, onder meer deur strenger perke op uitbetalings te plaas, word nou al ’n paar jaar bespreek.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Petrol  |  Koolstofbelasting  |  Brandstof  |  Brandstofheffing  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.