Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Solidariteit wil weet hoekom KVBA minder geld kry

Die vakbond Solidariteit is bekommerd oor die voortbestaan van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), een van die hoekstene van arbeidsverhoudinge in die land.

Die vakbond Solidariteit is boos omdat die KVBA se begroting besnoei is. Foto: Solidariteit

Solidariteit is besorg oor die kwaai besnoeiings aan die KVBA se begroting verlede jaar.

Amptenare van die departement van arbeid het al verskeie kere in die parlement verslag gedoen dat die KVBA onder druk is en nie genoeg personeel het om al die sake betyds te verwerk wat na hom verwys word nie.

Die KVBA help onder meer om arbeidsdispute op te los, en om konsultasies oor grootskaalse afleggings te fasiliteer. Reeds in die vorige boekjaar het Cameron Morajane, direkteur van die KVBA, in die jaarverslag gesê die arbeidsdispute wat na hom verwys word, het in die 2019-’20-boekjaar skerp met 14% gestyg.

Maar uit 2020 se Februarie-begroting blyk dit die tesourie draai effens briek aan met die KVBA se begroting. Die KVBA se begroting het van 2017 tot 2020 met 8,2% per jaar gegroei, maar die vooruitsig vir die volgende drie jaar is dat dit met net 4,7% sou groei, wys die bestedingsberamings van die departement van indiensneming en arbeid, onder wie se toesig die KVBA val.

’n Bedrag van R1 miljard is vir 2020-’21 vir die KVBA begroot in die Februarie-begroting.

In die aanvullende begroting in Junie is geld rondgeskuif van bestaande programme, en die KVBA se begroting is met ’n netto bedrag van R55 miljoen verlaag, blyk uit tesourie-dokumente.

Volgens die tesourie is besluit om die vul van vakante poste by die KVBA op te skort tot later in die boekjaar, en om te sny op verskeie goedere en dienste soos reisuitgawes.

Die meeste staatsdepartemente is gevra om besnoeiings te doen om voorsiening te maak vir die daling in die staat se inkomste en bykomende besteding weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings.

Solidariteit het Maandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aan die ministers van finansies, van indiensneming en arbeid en aan die KVBA self gestuur om inligting te kry oor die motivering vir die begrotingsbesnoeiings.

Die KVBA se mandaat vorm ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse grondwetlike bestel waardeur arbeidsregte soos vervat in die Wet op Arbeidsverhoudinge en art. 34 van die Grondwet uiting vind, het Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, Maandag in ’n verklaring gesê.

Die KVBA is “een van die min instellings wat nog werk en ons moet veg om dit so te hou”.

Die regsfirma Serfontein Viljoen & Swart het namens Solidariteit aan Tito Mboweni, minister van finansies, en aan Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, asook aan die KVBA se beheerliggaam geskryf om te vra op grond waarvan die KVBA se begroting gesny is.

Die regsfirma voer in sy brief aan dat die KVBA ’n grondwetlike entiteit is. Hy skryf Solidariteit wil toegang kry tot alle notules en agendas van vergaderings waar die besnoeiings aan die KVBA se begroting bespreek is.

Hy wil ’n gedetailleerde verduideliking vir die redes en motivering vir die besnoeiings hê, en wil weet wat met die geld gemaak gaan word wat daardeur bespaar word.

Die vakbond wil ook weet hoeveel sake op arbitrasie gewag het teen 1 Januarie 2020 en teen 1 Januarie 2021, en hoeveel sake in die afgelope 12 maande afgehandel is.

Meer oor:  Solidariteit  |  Kvba  |  Arbeid  |  Begroting  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.