Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Sonder groei wag renteskuld van R301 mjd.

Met die R301 miljard wat die regering na raming teen 2022-’23 nét aan rente op sy skuld sal betaal, kan maatskaplike toelaes verdubbel word, of alle persoonlike inkomstebelasting vir mense wat minder as R800 000 per jaar verdien kan afgeskaf word of BTW kan van 15% tot 2,5% verlaag word.

Cosatu-lede het die afgelope week landwyd in verskeie sentra betoog. Hulle het hul ontevredenheid te kenne gegee oor korrupsie wat tot werksverliese lei, werkloosheid en afleggings.

Dít is van die berekeninge wat Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG), gedoen het in aanloop tot die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) op 21 Oktober.

Suid-Afrika dok nou sowat R237 miljard per jaar op aan rente op sy skuld, wat 12% van die staat se besteding uitmaak, sê Els.

Tito Mboweni, minister van finansies, het met die aanvullende begroting in Junie gesê vanjaar sal 21c uit elk rand se belasting aan rentebetalings op vorige skuld gaan.

Weens ’n verwagte begrotingstekort van 15,7% van bruto binnelandse produk (BBP) (of sowat R304 miljard) vanjaar, moet die staat geld in die buiteland leen om al sy verpligtinge na te kom. Sedert Suid-Afrika se skuld in Maart tot volle rommelstatus afgegradeer is, is dié lenings duurder.

Staatskuld as persentasie van BBP word vanjaar op meer as 81% geraam. Mboweni het in Junie gesê die regering wil dit teen 2023-’24 op 87% van BBP laat stabiliseer en dan verminder. Sonder dié aktiewe benadering sal skuld teen 2028-’29 tot 140% van BBP opskiet.

Els sê al die moontlike moet gedoen word om die staat se geldposisie te verbeter deur besparings, besnoeiing op besteding en om stewige ekonomiese groei teweeg te bring.

Die regering wil oor die volgende drie jaar R160 miljard spaar op die salarisrekening, wat meer as 32% van die staat se besteding uitmaak.

Tans is die regering en vakbonde in ’n hofstryd gewikkel oor verhogings van 4% tot 5% vir vanjaar, ingevolge ’n driejaar-salarisooreenkoms wat in 2018 onderteken is. Die verhogings sou op 1 April in werking tree, maar die regering voer aan hy kan nie die R38 miljard daarvoor bekostig nie.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool meen die fiskale posisie soos in die aanvullende begroting in Junie is onvolhoubaar. Die buitensporige salarisrekening, wat sowat 60% van belastinginkomste opvreet, bly een van die grootste tameletjies.

Al begryp mens staatsamptenare is omgekrap omdat die regering nie die ooreengekome verhogings wil betaal nie, is pres. Cyril Ramaphosa se onderhandelingsvaardighede hier nodig om realistiese finansiële kompromieë met die vakbonde te bereik, sê Parsons.

As dit misluk, is daar óf minder geld vir regeringsprioriteite soos infrastruktuur óf groter belastingverhogings in die 2021-’22-begroting, waarsku hy.

Bou 60 hospitale met 500 beddens elk...

Volgens Jeff Schultz, senior ekonoom van BNP Paribas in Suid-Afrika, is dit deurslaggewend dat die loonrekening in 2020-’21 bevries word om bykomende besnoeiings (rentebetalings uitgesluit) van R230 miljard in die volgende twee jaar te laat realiseer.

Els meen as verhogings vir die volgende twee jaar bevries kan word, sal dit baie doen om beleggersvertroue te herstel.

Volgens hom is die komende MTBR die belangrikste in Suid-Afrika se geskiedenis. Beleggers sal fyn luister vir die regering se verbintenis tot fiskale konsolidasie en beleid om groei te stimuleer.

Daar kan geen afwyking wees van ondernemings wat in die aanvullende begroting gegee is om besteding te verlaag, skuld te stabiliseer en groei te bevorder nie.

Hy waarsku Suid-Afrika se situasie kan nie net deur besnoeiing en skuldkonsolidasie reggeruk word nie. Sterk ekonomiese groei is nodig.

Groei van gemiddeld 0,8% per jaar soos ons die afgelope vyf jaar gehad het, is nie genoeg om die skuldverhouding te laat stabiliseer soos die regering voorsien nie. Groei van meer as 2,5% is nodig.

“Die tyd vir eindelose besprekings oor beleid wat die beste sal wees, is verby. Die Nasionale Ontwikkelingsplan is ’n uitstekende beleid. Dit moet baie vinnig uitgevoer word.”

Hy sê die mark sal wil sien hoe geloofwaardig is die regering se planne om die begrotingstekort in bedwang te bring, maar ook hoe ekonomiese groei bewerkstellig gaan word.

Meer oor:  Staatskuld  |  Mtbr2020  |  Begroting  |  Tesourie  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.