Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Spesiale taks soos ná apartheid lê vir SA voor’

Belastingbetalers moet hulle voorberei vir ’n tydelike ekstra belasting soos in die oorgangsjare van apartheid, meen sommige belastingkenners.

Tertius Troost, belastingbestuurder by Mazars.

Tito Mboweni, minister van finansies, het met sy mediumtermynbegrotingsraamwerk die grond bemes vir slegte belastingnuus in Februarie.

Hy moet ’n gat van R52,5 miljard toestop. Sowat R25 miljard te min persoonlike inkomstebelasting is ingesamel, maatskappybelasting skiet sowat R10 miljard tekort en BTW-insameling is sowat R13 miljard onder die teiken, het hy gesê.

Die meeste belastingkenners met wie Rapport gepraat het, verwag dat Mboweni in Februarie wéér nie aanpassings vir inflasie gaan maak aan die belastingkerwe nie. In die laaste begroting is die kerwe nie aangepas vir die hoër verdieners nie.

Tertius Troost, belastingbestuurder by Mazars, sê die regering kan bykomende inkomste van R14 miljard kry as die belastingkerwe nie aangepas word vir inflasie nie. Dit is ’n maklike manier om belastinginkomste te verhoog, maar moet alle belastingbetalers raak en nie net langer hoë verdieners nie.

Troost sê die situasie is so benard met die regering se skuldvlakke wat teen 2023 tot 71% van die bruto binnelandse produk (BBP) kan styg, dat die regering nie eens meer die bodem van die vaatjie skraap nie, maar aan die buitekant van die vaatjie krap.

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual Investment Group, sê die tesourie kan selfs ’n spesiale belastingheffing vir ’n jaar of twee instel soos in die tyd van Derek Keys as minister van finansies om ’n tekort aan te vul wat deels ontstaan het in die land se oorgang tot ’n demokrasie. Dit kan tot 7,5% van mense se belasbare inkomste wees en miljarde inbring, sê Els.

Volgens Le Roux Roelofse, ’n direkteur en belastingkenner van Deloitte, is ’n belasting op digitale dienste vir e-handeltransaksies moontlik, soos in talle Europese lande.

Almal is dit eens dat BTW die maklikste manier is om die staatskas aan te vul – die verhoging in die BTW-koers van 14% tot 15% in 2018 het sowat R22 miljard se bykomende inkomste aan die staat gebied.

Dit is egter polities ’n ongewilde keuse en as die regering meer uit BTW wou verdien, moes hy eerder in 2018 die koers tot 16% verhoog het, sê Els. Daardie geleentheid is nou verby.

Els glo nie daar sal ’n bykomende welvaartbelasting op superrykes ingestel word nie. Die feit dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se herleefde grootsake-sentrum ook op superrykes se belastingsake sal fokus om seker te maak hulle kom al hul verpligtinge na, behoort tot beter invordering onder dié groep te lei.

Geen verhoging in maatskappybelasting word verwag nie, maar doeane-en-aksyns-verhogings en ’n aansienlike verhoging in die brandstofheffing kan ook help.

Luidens die MTBR-dokumente moes die bruto belastinginkomste vanjaar teen 10,4% gegroei het om aan die 2019-begrotingsyfers te voldoen, maar swak ekonomiese groei en die basis­effek van lae BTW-uitbetalings in die eerste helfte van 2018-’19, beteken inkomste het in die eerste helfte van die huidige boekjaar met net 3,7% gegroei.

Vir die jaar word groei in inkomste van 6,4% verwag.

Teen dié trant kan die bruto belastinginkomste in 2020-’21 R84 miljard te min wees en in 2021-’22 ’n enorme R114,7 miljard.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê omdat die tesourie reeds in Februarie vanjaar beplande belastingverhogings vir R10 miljard se bykomende inkomste in die vooruitsig gestel het, kan hy nie sien hoe nóg groter verhogings sal kan gebeur nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Inkomstebelasting  |  Belasting  |  Maatskappybelasting  |  Mtbr2019  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.