Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Staat het nog nooit so iets probeer’

Tito Mboweni, minister van finansies, se plan om besteding te verminder, is nie net “dapper” nie, dis so ambisieus dat kenners twyfel of dit haalbaar is. En tog is dit die spil waarom alles draai.

nedbank
Nicky Weimar, hoofekonoom van Nedbank.

Nicky Weimar, hoofekonoom van Nedbank, het Donderdag ’n virtuele ontleding van Woensdag se begroting gelei en gesê Mboweni is “dapper” en doen die regte ding.

Die regering beoog om nominale besteding in die 2021-’22-boekjaar met 1,6% te besnoei as deel van sy desperate poging om die “seekoei se bek” (die groeiende verskil tussen die regering se inkomste en sy uitgawes) te sluit.

In reële terme beteken dit (met inflasie ingereken) dat die regering besteding met sowat 5% wil sny vanjaar.

“Dis nog nooit vantevore gedoen nie,” sê Weimar.

Staatsbesteding groei jaar op jaar aanhoudend, met sowat ’n 10%-verhoging in die laaste boekjaar.

Weimar verduidelik dat geen regering ter wêreld noodwendig daarin slaag wanneer hy beoog om besteding in toom te hou nie, wat nog te sê van besnoei.

“Dis nog nooit suksesvol in Suid-Afrika gehandhaaf nie.”

Die grootste enkele bedreiging vir skuldkonsolidasie is die openbare sektor se salarisrekening, dis so eenvoudig soos dit.
Nicky Weimar van Nedbank

Oor die volgende drie jaar – die mediumtermynbegrotingsraamwerk – wil die regering besteding met net 1% tot 2% per jaar laat groei.

In reële terme beteken dit steeds besnoeiings jaarliks aangesien inflasie op sowat 3,2% staan.

Dis hoogs ambisieus, meen Weimar, maar presies wat nodig is om die land van ’n skuldstrik en wanbetaling op skuld te red. “Ons móét doodeenvoudig minder bestee.”

Die grootste uitgawe van die staat is sy salarisrekening.

Volgens Weimar bestee die staat 32,2% van sy totale begroting aan salarisse.

Die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad moet nou oor 2021, 2022 en 2023 se salarisverhogings begin onderhandel. Foto: Bloomberg

Tweede op die lys is onderrig, teen 19,6% van die begroting, gevolg deur maatskaplike beskerming teen 16,9%.

Skuldkoste neem 13,4% van die begroting op.

Dit los 17,9% van die begroting om al die ander goed in die land te dek.

Daar is reeds in vanjaar se begroting noemenswaardig besnoei aan dié items. Werklik die enigste plek waar daar nog besnoei kan word, is die salarisrekening.

Skuldkoste kan nie besnoei word nie omdat dit ’n funksie van die begrotingstekort is wat eers in 2025 gaan begin stabiliseer – ás die begrotingstekort deur middel van beoogde besnoeiings aan die salarisrekening verklein word.

Om die staatsdiens se salarisrekening te verklein gaan egter nie maklik wees nie.

Die vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, het hulle tot die konstitusionele hof gewend om ’n vroeër uitspraak ten gunste van die tesourie in die appèlhof om te keer. Die uitspraak het bevind die staat hoef nie ’n driejaarloonooreenkoms met staatsamptenare te eerbiedig nie. Dit sou ’n verhoging van bo die inflasiekoers vir verlede jaar meegebring het, staatsamptenare het geen verhoging gekry nie.

Indien die vakbonde in hul aansoek by die konstitusionele hof slaag, sal die regering R37 miljard moet leen om die verhogings vir verlede jaar as agterstallige verhogings uit te betaal. Dit sal die reeds “onvolhoubare” skuldlas noemenswaardig laat toeneem en Mboweni se planne om minder geld te leen in die wiele ry.

Dit sou ook ’n swak presedent stel vir die komende loononderhandelinge, wat beoog om verhogings van slegs 1% tot 2% vir die volgende drie jaar aan staatsamptenare toe te ken, teenoor die verhogings van bo die inflasiekoers waaraan hulle gewoond was.

“Kan ons met sekerheid sê dat die loononderhandelinge sal verloop soos beplan? Nee,” sê Weimar.

Slaag moet die tesourie slaag as sy ganse plan vir fiskale konsolidasie, besnoeiing aan besteding en uiteindelik die alom belangrike stabilisering van staatskuld wil slaag. Alles hang nou af van of die regering vakbonde kan oortuig om minder geld te vat as deel van hul plig om die staat se uitgawes volhoubaar te hou.

Baie ontleders meen daar moet besnoei word aan maatskaplike toelaes. Meer as 18 miljoen mense is egter nou afhanklik van die een of ander toelae. Dit help “absolute ellende” vermy en is nodig, meen Weimar. As ’n persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) is dit ook nie noemenswaardig groot nie.

Staatsdienssalarisse is om die regte rede in Mboweni se visier: “Die grootste enkele bedreiging vir skuldkonsolidasie is die openbare sektor se salarisrekening, dis so eenvoudig soos dit.”

Suid-Afrika bestee 14,8% van die BBP om staatsamptenare te vergoed. Dis van die heel hoogste ter wêreld en gelyk aan die vergoeding wat lande soos Denemarke en Noorweë hul staatsamptenare gee.

“Vir ’n arm land is dit belaglik.”

Indien die staat daarin slaag om die salarisrekening in toom te hou, kan hy besteding noemenswaardig besnoei. Sodoende sal hy ’n volslae skuldstrik vermy waar die land se skuldvlakke so hoog raak dat hy meer moet leen net om die skuld te dek. Suid-Afrika is reeds “gevaarlik naby” aan so ’n vlak.

Die laaste ding wat in plek moet val vir Mboweni se plan om te werk is dat die ekonomie begin groei.

Die tesourie verwag dat die ekonomie in 2021 met 3,3% sal groei. In 2022 gaan dit hopelik met 2,2% groei en in 2023 met 1,6%.

Nedbank sê dis eintlik baie realistiese vooruitskattings en meer konserwatief as selfs die bank s’n.

“Hul ramings is realisties en genoeg om ekonomiese herstel te bewerkstellig,” sê Weimar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.