Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat is op pad na skuld van 80%

Die tesourie beplan “ernstige en ongewone veranderinge” aan sy bestedingsplanne, want Suid-Afrika móét besteding inkort om binne die volgende vier jaar ’n soewereine skuldkrisis af te weer, het Tito Mboweni, minister van finansies, gesê.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Adrian de Kock

Mboweni, wat Woensdag ’n aangepaste begroting voorlê om voorsiening te maak vir die regering se stryd teen Covid-19, het Donderdag aan parlementslede gesê: “ ’n Soewereine skuldkrisis is ’n baie ernstige kwessie en dit staar ons teen 2024 in die gesig as ons ons finansies nie versigtig bestuur nie.”

Die aangepaste begroting is nodig nadat die regering ’n stimuluspakket van R500 miljard aangekondig het om die Covid-19-pandemie aan die gesondheids- en ekonomiese front te bestry. Daarvan sal R130 miljard in die huidige begroting hertoegewys word.

Die tesourie het gister aangekondig die Nuwe Ontwikkelingsbank, ’n instelling van die Brics-groep (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika), het ’n $1 miljard-lening aan Suid-Afrika toegestaan om die verspreiding en gevolge van die pandemie teen te werk. Meer besonderhede daaroor sal later bekend gemaak word, lui die verklaring.

Hoewel Suid-Afrika tot $4,2 miljard van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) kan leen, verwag die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) belastinginkomste kan vanjaar R285 miljard minder wees as wat in Februarie voorspel is. Dit laat dus ’n groot gaping vir die hulp wat die regering beloof het.

Ekonome verwag Suid-Afrika se skuld as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) kan teen volgende jaar tot 80% styg en beteken ’n IMF-lening met streng voorwaardes vir hervormings sal oor twee tot vyf jaar onafwendbaar wees.

LEES OOK: 8 vrae wat Tito se nuwe begroting moet beantwoord

Jeffrey Schultz, senior ekonoom van BNP Paribas Suid-Afrika, en Burak Baskurt van BNP Paribas in Londen, sê egter diegene wat op ’n betekenisvolle strategie vir fiskale konsolidasie hoop, gaan teleurgesteld wees.

Volgens Schultz verwag hulle ’n begrotingstekort van 13,5% van BBP in 2020-’21 en dat staatskuld die 80%-merk kan bereik.

Hoewel hulle nie voorsien die regering sal vanjaar ’n groter hulppakket as die beskikbare Covid-19-hulp van die IMF vra nie, is die risiko ál groter dat ekonomiese groei in 2021 veel swakker as die regering se verwagting sal vaar en Suid-Afrika na die IMF kan dwing.

Mboweni het Donderdag gesê Suid-Afrika is nie meer so ryk soos ons gedink het ons is nie. “Ons is baie, baie armer en daarom moet ons almal ons verwagtinge aanpas.”

Sowat ’n week gelede het hy begin voorbrand maak vir ’n nulbasis-begroting.

Dit beteken staatsdepartemente kan nie die vorige jaar se begroting gebruik en net aanpassings daarop maak nie. Elke uitgawe moet van nuuts af oorweeg en as noodsaaklik gemotiveer word. Elke sent word omgedraai, verduidelik Bernard Sacks, belastingvennoot by Mazars.

Regeringsbegrotings is egter ’n lang en ingewikkelde proses en hy twyfel of ’n nulbasis-begroting selfs vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober prakties haalbaar is.

Hy meen Mboweni se uitsprake dien as waarskuwing dat dít die roete is wat met die nasionale begroting van Februarie 2021 gevolg gaan word.

Schultz en Baskurt reken die klem sal Woensdag waarskynlik op die stimuluspakket wees en hoe dit gefinansier gaan word, maar verwag die meeste detail sal tot Oktober wag.

Die aangepaste begroting is nodig omdat die Covid-19-pandemie die syfers oor inkomste, uitgawes en prioriteite soos in die Februarie-begroting uiteengesit is, nietig maak.

In April het Mboweni aangedui die pakket behels onder meer ’n buitengewone gesondheidsbegroting van R20 miljard, maar Sacks sê dit kan selfs meer wees omdat die pandemie in Suid-Afrika nog nie ’n hoogtepunt bereik het nie.

BNP Paribas verwag meer besonderhede oor ’n spesiale Covid-19-lening van die IMF.

Mboweni sal moet aandui in watter mate die regering die SAL en Landbank, twee van die sukkelende staatsbeheerde ondernemings, gaan help.

In 1960 was Suid-Afrikaners se inkomste sowat 26% van Amerikaners s’n. Nou is dit maar 13%.

Hy sal ook verslag moet doen oor die stand van sake met die staat se salarisrekening en onderhandelinge met vakbonde daaroor. Volgens Schultz is die regering se strategie waarskynlik om die basis vir die 2021-’22-salarisverhogingsooreenkomste te verlaag en die pas en volume waarteen die salarisrekening styg só permanent te verlaag.

Daar is tans min aptyt vir stakings in ’n ekonomie waar grootskaalse werksverliese dreig. BNP Paribas se span meen die mag is nou in die hande van die departement van die staatsdiens en administrasie en die tesourie, eerder as die vakbonde s’n.

Peter Attard Montalto van Intellidex skryf Vrydag in ’n nota moeilike besluite lê vir die MTBR in Oktober en die nasionale begroting van Februarie 2021 voor.

Tydelike toelaes vir kwesbare groepe wat deur Covid-19 geraak is, kom in Oktober tot ’n einde. Daar sal besluit moet word of dié toelaes permanent gaan word of opgevolg gaan word met iets soos ’n algemene basiese inkomste.

Sacks meen daar is bitter min ruimte vir belastingverhogings. Daar is ’n skrale kans vir ’n eenmalige welvaartbelasting of ’n Covid-19-belasting, maar Suid-Afrikaanse belastingbetalers is reeds voos.

Hy stel selfs laer maatskappybelasting voor – nader aan ’n koers van 21% pleks van die huidige 28%. Al kan dit op kort termyn laer maatskappybelasting vir die staatskas beteken, kan dit help om beleggers na Suid-Afrika te lok.

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), het Donderdag in ’n virtuele gaslesing van die Universiteit van die Witwatersrand gesê Suid-Afrika het pas sy swakste dekade van groei agter die rug. Op ’n per capita-grondslag verarm Suid-Afrikaners sedert 2013.

In 1960 was Suid-Afrikaners se inkomste sowat 26% van Amerikaners s’n. Nou is dit maar 13%. Suid-Afrikaners se inkomste was in 1960 128% van Brasiliane s’n, maar is nou 65%.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Skuld  |  Begrotingsrede  |  Monetêre Beleid  |  Begroting  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.