Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat leen byna R1 miljard minder elke week

Die staat het aangekondig dat hy danksy die beter as verwagte belastinginvordering voortaan aansienlik minder geld per week gaan leen.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

Buitelanders is terselfdertyd besig om in groot getalle Suid-Afrikaanse staatseffekte te verkoop en eerder te belê in meer riskante ontluikende lande, waar die opbrengskoerse selfs hoër is as die reeds stewige opbrengste wat op plaaslike staatseffekte behaal kan word.

Die nasionale tesourie het vandeesweek aangekondig dat hy sy weeklikse veiling van vastekoers-staatseffekte met 18,75% gaan verminder.

Van volgende week af sal die staat dus R900 miljoen minder per week op effektemarkte leen.

Die totale bedrag wat hy nou per week leen, is dus tot R5,1 miljard verminder.

Die bedrag word verdeel tussen staatseffekte met ’n vaste rentekoers en dié waarvan die koers aan inflasie gekoppel is.

R3,9 miljard se staatseffekte met ’n vaste rentekoers sal nou per week opgeveil word, teenoor R4,8 miljard tot dusver. Inflasie-gekoppelde effekte sal onveranderd op R1,2 miljard per week bly.

Die tesourie sê sy besluit is gegrond op die jongste data oor belastingteikens vir die 2020-’21-boekjaar wat wys dat belastinginkomste “hoër as verwag was”.

Die mediumtermynbegroting van Oktober 2020 het verwag dat belastingteikens met 18% gemis sou word. Dis nou net 10% laer.

Dit beteken die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het sowat R38 miljard meer as verwag ingevorder.

Suid-Afrika se bruto skuldvereiste vir die huidige boekjaar het weens die uitwerking van die pandemie op die staatskas tot R670 miljard opgeskiet.

Dit was voor die pandemie R433 miljard.

Uitvloei van geld

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, waarsku dat die aptyt vir Suid-Afrikaanse effekte en aandele besig is om te kwyn.

Daar was tot dusver vanjaar ’n netto uitvloei van R76,5 miljard uit die land.

Die grootste uitvloei was in beleggings in staatseffekte, wat so baie gekrimp het dat die netto vloei nou op ’n negatiewe R63,7 miljard te staan gekom het.

’n Netto uitvloei van R12,7 miljard is sover vir die jaar op die aandelebeurs aangeteken.

Bishop skryf dit toe aan die swak ekonomiese groei in ’n wêreld waar talle lande nou vinnig groei soos hulle van die pandemie herstel.

Suid-Afrika kom egter nie ook in die kraal nie.

“In Suid-Afrika het buitelanders tot dusver vanjaar algemene aandele gestort, en verkies om in ontluikende markte te belê met beter groei en dus beter verwagte vooruitsigte,” sê Bishop Donderdag in ’n verklaring.

“Suid-Afrika se steeds negatiewe vooruitsigte deur die kredietgradeerders Moody’s en Fitch help ook nie om buitelandse belangstelling in sy portefeuljebates te lok nie.”

Meer oor:  Rommelstatus  |  Staatseffekte  |  Begroting  |  Effekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.