Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat probeer staking afweer met meer kontant

Die staat het amptelik sy loonaanbod aan vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, aangepas in ’n desperate poging om ’n landwye staking te midde van die Covid-19-pandemie af te weer.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie. Foto: Getty Images

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, sê Maandag op ’n mediakonferensie dat die staat sy bes gedoen het om vakbonde met sy jongste aanbod “in die middel te ontmoet”, maar dit kan net binne die fiskale raamwerk werk wat deur Tito Mboweni, minister van finansies, daargestel is.

In sy jongste aanbod aan Cosatu en sy geaffilieerde vakbonde het die staat nie sy verhoging van amptenare se basiese salaris van 1,5% af aangepas nie, maar wel die ex gratia-kontantbetaling opgestoot in die hoop dat dit genoeg sal wees om die vakbonde te paai.

Mchunu sê amptenare word nou ’n verhoging van 1,5% saam met ’n ex gratia-betaling van tussen R1 220 en R1 695 per maand vir waarskynlik 12 maande aangebied. Dié niepensioendraende kontantbetaling aan al die sowat 1,2 miljoen staatsamptenare, is nou hoër as die R978 wat vroeër aangebied is.

Maar die staat kan nie ’n kompromis op die salarisverhoging aangaan nie, sê Mchunu. Vakbonde het vanjaar vir verhogings van so hoog as 15% gehoop.

“Ons het ’n land om te bestuur,” sê Mchunu, wat waarsku oor die verwoesting wat ’n landwye staking van die staatsdiens sou meebring te midde van die reeds bestaande ramptoestand oor die pandemie.

“Mense was nog nooit so afhanklik van ons dienste nie.”

Maar die onafhanklike Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het reeds sy voorneme om te staak Maandag aan die regering gekommunikeer en beskik oor ’n geldige stakingsertifikaat.

Dié vakbond, wat op 11 Mei van die steeds voortslepende fasiliteringsproses tussen die staat en die Cosatu-geaffilieerde vakbonde by die staat se bedingingsraad (PSCBC) weggebreek het, se 230 000 lede gaan binne dae begin met ’n staking wat daarop gemik is om die staatsdiens lam te lê.

Mchunu het Maandag gepleit dat dié vakbond na die bedingingsraad terugkeer, maar die VSA hou vol hy is opsetlik by die fasiliteringsproses uitgesluit.

Mchunu sê staatsamptenare moet bly wees dat hulle tans werk het in ’n tyd waar werkloosheid nuwe rekords haal en veral bly wees dat hulle nie salarisbesnoeiings ervaar nie.

“Hulle gaan meer uitkry met ons aanbod, dit behoort hulle gelukkig te maak.”

Meer oor:  Senzo Mchunu  |  Verhogings  |  Staking  |  Loononderhandelinge  |  Staatsdiens  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.