Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat se lone: 235 000 amptenare reg om te staak

’n Volle 235 000 staatsamptenare sit oorgehaal om te staak en die staatsdiens lam te lê omdat hul geduld met die staat opgeraak het.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) gaan nie wag vir ander vakbonde om te staak nie en kan dalk so gou as 11 Junie die strate invaar. Foto: Getty Images

Dít is die boodskap van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), die vakbond wat 235 000 staatsamptenare verteenwoordig. Die vakbond het op 11 Mei van die amptelike fasiliteringsproses oor verhogings vir vanjaar weggebreek.

Dié vakbond het ’n dispuut verklaar slegs twee dae nadat die fasiliteringsproses tussen die staat en vakbonde onder die vaandel van die staat se bedingingsraad, die PSCBC, begin het. Hy hou vol dat hy sedertdien uitgesluit word uit die fasiliteringsproses en daarom nie meer aanbiedinge vanaf die staat ontvang nie.

Sowel die staat as die ander vakbonde sê egter die VSA het homself by die proses uitgesluit weens sy besluit om so vinnig ’n dispuut te verklaar.

“Hy het homself in die voet geskiet,” sê Mugwena Maluleke, woordvoerder van Cosatu oor alle geaffilieerde vakbonde.

Die dispuut wat die VSA verklaar het, vereis dat die staat, buiten die fasiliteringsproses met Cosatu en sy vennote, nou ook ’n versoeningsproses met dié vakbond moet bywoon wat 30 dae duur.

Die staat het op 3 Junie vir dié proses met die VSA opgedaag – maar nou soek die staat eers ’n uitspraak oor ’n kwessie van “jurisdiksie”, sê die VSA.

Die vakbond is egter keelvol. Hy verduidelik dat hy, ongeag die “vertragingstegnieke” van die staat, die versoeningsproses net tot 11 Junie sal kans gee. Daarna verwag hy dat die versoeningskommissaris ’n stakingsertifikaat uitreik wat die vakbond sal magtig om te staak.

Die VSA sê hy was gereed om op 3 Junie op die staat se jongste aanbod van ’n 1,5%-verhoging aan staatsamptenare te reageer. Die aanbod is egter slegs aan die vakbonde gemaak wat nog deel van die fasiliteringsproses is – nié die VSA en sy lede nie.

“Die werkgewer se minderwaardige argument dat hy bereid is om ander vakbonde onder fasilitering te betrek met uitsluiting van die VSA, is ’n duidelike bewys dat die werkgewer bang is om die VSA te betrek by ’n regverdige onderhandelingsproses tot voordeel van werkers en eerder onderhandelinge met swakker vakbonde wil bestuur,” sê Reuben Maleka, woordvoerder van die VSA.

“Onderhandelinge oor die staatsdiens en die toekoms van kollektiewe bedinging word ernstig deur ’n werkgewer en sy vriendelike vakbonde bedreig wat bereid is om die VSA van onderhandelinge uit te sluit en sodoende staatsamptenare se diensvoorwaardes en verbeterde salarisse in gevaar te stel.”

Cosatu sê egter dit is bog – die VSA is nie deur die staat of ander vakbonde uitgesluit nie.

Cosatu is Vrydag besig om vir ’n tweede verlenging van die fasiliteringsproses aansoek te doen. Hy glo nog hy en die staat kan mekaar in die proses vind.

Cosatu, wat alle kommentaar oor die proses gesentraliseer het en nie meer individuele vakbonde soos Nehawu toelaat om kommentaar op hul eie te lewer nie, sê hy is nog nie gereed om kommentaar op die staat se jongste aanbod te lewer nie – al is dit al weke gelede gemaak.

Volgens Maluleka sal die vakverbond net vir ’n verlenging van ’n “paar dae” vra terwyl hy vir ’n duidelike mandaat van sy lede wag.

Meer oor:  Cosatu  |  Vsa  |  Begroting  |  Tesourie  |  Staatsdiens  |  Salarisse  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.