Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat se lone: EFF reken daar’s tonne geld

Die staat het blykbaar tonne geld om vir staatsamptenare ’n groot verhoging aan te bied, sê die EFF.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, wat verantwoordelik is om met vakbonde te onderhandel oor die staatsdiens se verhogings. Foto: News24

Al sê kenners die fiskale afgrond wink, wil die EFF hê die staatsdiens moet enorm groei en verhogings toestaan aan die breër 2,1 miljoen mense wat in die staatsdiens en by staatsentiteite werk.

“Dis dwaas om te sê die regering het niks geld nie!” het Ciliesta Motsepe, EFF-LP, Donderdagaand gesê.

“Die minister (Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie) het geen begrip van finansies of banke nie.”

Dit was deel van ’n virtuele komiteevergadering van die parlement oor Mchunu se begroting.

Sy departement is deur die tesourie ingelig dat verhogings nie vanjaar bekostigbaar is nie, en dat hy dié standpunt tydens die onderhandelinge moet handhaaf.

LEES OOK: Vakbonde gemuilbandoor staat se lone

Die tesourie het in Februarie se begrotingsrede aangedui dat die fiskale konsolidasie van die ganse begroting afhang daarvan dat die staat se salarisrekening met minder as 2% styg, bevorderings ingesluit.

Mchunu sê in sy toespraak dis uiters belangrik dat die geskil spoedig opgelos word.

Maar die EFF wil hê die staatsdiens moet groei omdat hy wil hê alle tenderprosesse moet geskrap word.

Alle werk en dienste moet dus “binnenshuis” verrig word, wat sou beteken die staatsdiens sou enorm moet groei.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het op sy beurt gesê dis juis die enorme staatsdiens wat die blaam moet dra vir die huidige beleërde fiskale situasie van die staat.

En al wat die staat doen, is “praat”.

Volgens Schreiber sal die staat bes gee en wel verhogings toestaan.

“As woorde al was wat nodig is om die mense van die land se mae vol te maak en hul bankrekeninge te vul, sou Suid-Afrika hemel op aarde gewees het,” sê Schreiber oor die ANC se retoriek.

Hy wys uit dat nege uit tien staatsamptenare wat die afgelope jaar vir korrupsie aangekla is, sonder gevolge weggestap het.

Dr. Mimmy Gondwe, DA-LP, wys op haar beurt uit dat die staatsdiens lamgelê word deur korrupsie.

Volgens haar het Mchunu in Januarie gebieg dat 484 staatsamptenare met die staat sake gedoen het, ten spyte van sy beleid en pogings om dit te stop.

Dit word eksplisiet verbied in regulasies, maar gebeur steeds. Volgens die DA is daar geen gevolge nie.

“Altesaam 40 000 het aansoek gedoen vir die Covid-19-toelae van R350 per maand!” sê Gondwe.

“Dis blatante korrupsie en bedrog. Maar nie één is vervolg nie!”

Heloïse Denner, VF Plus-LP, sê die loongeskil moet spoedig opgelos word.

“Die loongeskil is grootliks gedryf deur ondeurdagte massa-aanstellings in staatsdepartemente en lafhartige loononderhandelinge,” sê Denner.

“Suid-Afrika kan nie ’n massastaking bekostig nie, en nog minder verhogings.”

Volgens die VF Plus moet die staat só onderhandel dat slegs staatsamptenare wat verlede jaar presteer het, verhogings kry, soos dokters, onderwysers en polisielede.

Die res moet dan tevrede wees met ’n 0%-verhoging, want verdienste moet die maatstaf vir verhogings wees.

Die minister was grootliks tjoepstil oor die loononderhandelinge, wat al weke lank duur.

Schreiber het in die middel van Mchunu se slottoespraak ingespring met kommentaar dat die ANC “net praat”.

Hy is hiervoor virtueel uit die vergadering “verwyder”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.