Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat se lone: ‘laaste hoop’ nou op fasiliteerder

’n Onafhanklike fasiliteerder is aangewys “as die laaste hoop” om die vurige debat oor die staat se loononderhandelinge vir 2021-’22 te probeer oplos.

’n Stakende werker by Marikana. ’n “Verwoestende” staking staar die land in die gesig as staatsamptenare nie hul enorme salarisverhogings vanjaar kry nie, maar indien dit toegestaan word, dreig die fiskale afgrond vir die land as geheel. Foto: Getty Images

Indien dit misluk, kan die land lamgelê word deur ’n staking wat miljoene staatsamptenare sal mobiliseer.

Die vakverbond Cosatu en sy vennote het al reeds aangedui dat hulle begin voorberei vir ’n landwye staking indien hulle nie ’n respekvolle aanbod vir ’n verhoging van die staat ontvang nie.

Mugwena Maluleke, woordvoerder van alle Cosatu- geaffilieerde vakbonde, inkluis die militante Nehawu, sê Sondag aan Netwerk24 dat daar tien dae oor is voor hy sy opsies sal moet oorweeg.

“Die raad het ingestem om ’n gefasiliteerde proses te volg,” sê Maluleke.

Volgens Maluleke is ’n onafhanklike fasiliteerder wat deel is van die Verenigde Nasies se internasionale arbeidsorganisasie aangewys, wat nou die proses sal help stuur. Die staat het skynbaar die voorstel gemaak, en vakbonde het ingestem in ’n desperate poging om ’n oplossing te vind.

Die proses sal tien dae duur en begin Sondagmiddag 16:00.

Reuben Maleka, woordvoerder van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat meer as 235 000 staatsamptenare verteenwoordig, sê die proses is nou die “laaste hoop” vir ’n oplossing.

“Ons wil die proses ’n kans gee,” sê Maleka.

Maar vakbonde het nie veel vertroue oor in die staat nie.

Die staat het nog geen nuwe aanbod gemaak bo en behalwe sy eerste en enigste aanbod van ’n 0%-verhoging met ’n eenmalige kontantbetaling van R9 miljard wat verdeel moet word onder die 1,2 miljoen staatsamptenare nie.

Die vakbonde se eise

Die VSA het alreeds in Maart buitensporige eise gestel wat die hele begroting kan kniehalter en sodoende die land nader aan ’n fiskale afgrond kan bring.

Die VSA eis dat staatsamptenare vanjaar ’n verhoging van sowat 7,2% kry. Inflasie is tans op 3,2%.

Daarmee saam soek die vakbond nog baie meer toelaes en voordele vir die meer as 1 miljoen amptenare in die staat se diens.

Die VSA wil wegdoen met intreevlaksalarisse en staatsamptenare almal bevorder tot vlak 4.

Die VSA reken amptenare is geregtig op ’n 12%-risiko-toelae van hul salaris tydens rampe soos Covid-19.

Dit sou in effek ’n 12%-bonus beteken in die geval van ’n ramp.

Staatsamptenare wil ook ’n toename in hul behuisingstoelae tot R2 500 per maand hê.

Waar amptenare tans self moet spaar vir behuising in ’n behuisingskema, wil die VSA hê dit moet opsioneel word en dat alle spaargeld in ’n nuwe fonds by die Openbare Beleggingskorporasie belê word.

Al hierdie geld moet dan aan amptenare teruggegee word, met rente, indien hulle die staatsdiens verlaat.

Die VSA eis dat daar geen meer perke op salarisvlakke toegepas moet word nie. Hy wil hê selfs die hoogste salarisvlakke moet onbepaald verhogings kan kry.

Boonop soek staatsamptenare bykomende verlof.

Staatsamptenare moet jaarliks, nes in die private sektor, hul verlof inspan om die sluitingsperiode oor Desember te dek.

Die VSA sê dit is onregverdig en eis nou dat spesiale verlof toegeken word vir die weke wat die staatsdiens sy deure sluit oor Desember sodat werkers hul volle verlof oor die res van die jaar kan gebruik.

Die VSA soek ook verlof vir die volgende:

  • Drie dae vir godsdienspligte;
  • Onbepaalde verlof vir rampe, soos vloede, pandemies en stakings wat die werkgewer moet toestaan indien daarvoor gevra word;
  • Spesiale verlof vir mense wat slagoffers is van geslagsgeweld.

Die VSA wil hê dat werkers hul opgehoopte verlof mag verkoop in enige stadium, nie net aan die einde van hul loopbaan nie.

Weens Covid-19 het baie staatsamptenare van die huis af gewerk. Die VSA wil nou hê dit moet ’n permanente opsie word en dat alle kostebesparings oorgedra word aan amptenare in die vorm van ’n toelae vir skryfgereedskap, data, elektrisiteit en dies meer.

Staatsamptenare wil ook hê hul kinders moet volle beurse van die staat kry om verder te studeer as ’n prestasiebonus.

Hul kinders moet ’n toelae kry vir koshuisgeld sodat werknemers hulle nie hoef te bekommer oor hul kinders se reis na die skool toe nie.

Volgens die VSA moet alle vastetermyn-kontrakwerkers wat al langer as vier maande vir die staat werk, heeltydse werknemers gemaak word, met alle voordele.

Die vereniging reken die staat se doel vir volle indiensneming moet begin met die staatsdiens, en nog meer mense moet aangestel word.

Die dreigende fiskale afgrond

Tito Mboweni, minister van finansies, het egter in sy begrotingsrede aangedui hy wil die staatsdiens verklein deur natuurlike personeelafname en deur nie vakante poste te vul nie.

Staatsdienslone is reeds die grootste item op die begroting, sonder hierdie verhogings en voordele.

Uit elke rand wat die staat invorder, word 47c bestee aan salarisse. Uit die hele begroting, skuld inkluis, word 32% bestee aan die vergoeding van staatsamptenare.

Suid-Afrika bestee bykans 15% van die bruto binnelandse produk (BBP) op staatsdienslone.

As die staat se beoogde 0%-verhoging nié materialiseer nie, sal Suid-Afrika se staatskuld nie teen 2025 onder 90% van die BBP stabiliseer nie. Dan dreig ’n volslae skuldstrik wat die land oor die fiskale afgrond kan stoot.

“ ’n Afwyking van hierdie aanname in die komende loonooreenkoms sal onbekostigbaar wees en die staat se poging om skuld te stabiliseer, in gevaar stel,” sê die tesourie.

Meer oor:  Vsa  |  Nehawu  |  Cosatu  |  Salarisse  |  Vakbonde  |  Staking  |  Begroting  |  Staatsampetenare  |  Loononderhandelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.