Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staking: Staat het 5 dae om vakbonde te paai

Die staat het vyf dae oor om vakbonde te paai nadat loononderhandelinge die naweek misluk het.

Cosatu berei nou voor om ’n landwye staking van stapel te stuur nadat loononderhandelinge tussen die staat en vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, skipbreuk gely het. Foto: Getty Images

Die vakverbond Cosatu dreig om ’n “verwoestende” staking van stapel te stuur as ’n kompromis nie gevind kan word nie.

Die loononderhandelinge het amptelik ’n dooiepunt bereik, volgens sowel die staat as die vakbonde.

Ná ’n naweek van vurige onderhandelinge het die staat steeds nie ’n aanbod gemaak wat vakbonde enigsins aanvaarbaar vind nie.

Kamogelo Mogotsi, woordvoerder vir Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, wat die onderhandelinge namens die staat behartig, sê aan Netwerk24 dat die jongste aanbod aan die vakbonde nié meer ’n 0%-verhoging is nie.

Maar die vakbonde sê dis oëverblindery. “Dit kom neer op 0%!” sê Mugwena Maluleke, woordvoerder van Cosatu.

Die staat het R9 miljard kontant aangebied as ’n eenmalige oorbetaling aan staatsamptenare wat sou dien as hul “verhoging” vir die jaar.

Maar Maluleke verduidelik dat dit bloot geld is wat reeds hulle s’n was wat nou net “rondgeskuif word”.

Cosatu sê die “verhoging” is geld wat gebruik sou word vir hul voordele en toelaes wat nou gekanselleer word in die jongste aanbod, en bloot as ’n kontantuitbetaling herverpak is.

“Dié stap sal impliseer dat werkers nie enige progressie in vergoeding sal kry nie en ook nie ander toelaes nie. Ons verwerp uit die staanspoor enige poging om ons swaarverdiende vordering te ondermyn,” sê die vakverbond.

Die land het nou, meer as ooit, werkers in die staatsdiens nodig. Dit sal uiters verwoestend wees as ons ons dienste staak.
Mugwena Maluleke

Volgens Cosatu het die onderhandelinge amptelik misluk.

Maluleke sê die vakverbond voorsien enorme optogte en ’n landwye staking wat “uiters verwoestend” sal wees.

“Die land het nou, meer as ooit, werkers in die staatsdiens nodig. Dit sal uiters verwoestend wees as ons ons dienste staak.”

Volgens Maluleke het die staat tot Vrydag om met ’n beter aanbod vorendag te kom, anders gaan die vakverbond en ál sy filiale staak.

Daar is sowat 1,2 miljoen mense in die staat se diens.

Hiervan is sowat 400 000 onderwysers, 250 000 gesondheidswerkers en 200 000 polisielede.

Mchunu het verlede week gesê die land kan nie bekostig om nog onstabiliteit te ervaar te midde van die pandemie nie, en alles moet gedoen word om ’n staking af te weer. Maar sy hande is afgekap – die tesourie het duidelik opdrag gegee dat die staat se geld op is.

Mogotsi sê aan Netwerk24 dat die jongste aanbod aan die vakbonde die beste is wat die staat kan bied.

“Dis ’n kwessie van bekostigbaarheid,” sê sy.

Die tesourie het in Februarie nog begroot vir ’n onder-inflasie-verhoging van 2,1% aan staatsamptenare vanjaar, maar Mogotsi sê dinge het sedertdien verander.

“Ons kan nou net bekostig wat ons tans aanbied.”

Mchunu het Maandag ’n beroep op alle landsburgers gedoen om met voorstelle vorendag te kom wat kan help om die dooiepunt tussen die regering en vakbonde te help oplos nadat die onderhandelinge oor die naweek skipbreuk gely het.

“ ’n Aantal voorstelle is deur deskundiges soos ekonome en aktuarisse en ander individue op die tafel geplaas en die lewensvatbaarheid van daardie voorstelle word ondersoek.

“Die regering is passievol om verdere pogings aan te wend om ’n oplossing hieroor te vind en verwelkom nog voorstelle.”

Mchunu vra ook innoverende idees “om die verhoudinge tussen die regering, burgers en vakbonde te verbeter”.

Hy het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê vanjaar se onderhandelinge is die moeilikste nóg, weens die Covid-19-pandemie en swak ekonomie.

Die konstitusionele hof gaan eers in Augustus uitspraak lewer oor of staatsamptenare wel vir 2020 verhogings sal kry. Die regering het verlede jaar verhogings waaroor drie jaar vantevore ooreengekom is, geskrap omdat daar nie geld daarvoor is nie. Tot dusver het die laer howe die staat gelyk gegee, teen die vakbonde.

Meer oor:  Cosatu  |  Salarisse  |  Staking  |  Begroting  |  Staatsampetenare  |  Loononderhandelinge  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.