Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Dis D-dag vir staat oor salaristwis

’n Maak-of-breek-dag breek Vrydag aan wat kan bepaal of Tito Mboweni, minister van finansies, se ganse begroting vir vanjaar klop.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie.

Salarisonderhandelinge vir staatsamptenare word op die spits gedryf wanneer afgevaardigdes van die regering en vakbonde om die onderhandelingstafel byeenkom.

Senzo Mchunu, minister van openbare dienste en administrasie, het Donderdag op ’n mediakonferensie ’n pleidooi aan die betrokke partye gelewer om kompromieë aan te gaan. Onderhandelinge word deur die bedingingsraad vir die staatsdiens, die PSCBC, gevoer.

Die staat se aanbod op die tafel is dat staatsamptenare vir die tweede jaar in ’n ry geen verhoging kry nie.

Mchunu sê die onderhandelaars sal ’n balans moet vind, nie net tussen die belange van die regering en staatsamptenare nie, maar ook van Suid-Afrikaners en dienslewering.

“Môre (Vrydag) se onderhandelinge sal op ’n hoë vlak plaasvind en gaan baie belangrik wees. Ons pleit dat al die betrokkenes waagmoed aan die dag lê omdat die onderhandelinge ’n regstreekse of onregstreekse invloed op die lewe van 59 miljoen Suid-Afrikaners het.”

Hy het benadruk dat die dreigende fiskale afgrond, die slegte ekonomiese toestande en uitgawes weens die koronaviruspandemie alles in berekening gebring moet word.

Ons pleit daarom by alle partye om versigtig na mekaar te luister en behoorlik te verteer wat gesê word.
Senzo Mchunu, minister van openbare dienste en administrasie

Die Februarie-begroting bevat die waarskuwing: “Die volhoubaarheid van openbare finansies sal sterk afhang van die regering se vermoë om die groei in die staatsdiens se salarisrekening in toom te hou.”

Salarisse het die staat in die 2020-’21-boekjaar 47c gekos uit elke rand belasting wat hy ingevorder het.

Soos sake nou staan, het Suid-Afrika een van die duurste staatsdienste ter wêreld. Die tesourie sê dis op gelyke vlak met lande soos Denemarke en Noorweë.

“Die nasionale tesourie het dit onomwonde gestel dat ons naby die fiskale afgrond is en dat daar basies nie geld is nie. Ons pleit daarom by alle partye om versigtig na mekaar te luister en behoorlik te verteer wat gesê word,” het Mchunu gesê.

Volgens Nicky Weimar, hoofekonoom van Nedbank, bestee die staat 32,2% van sy totale begroting aan salarisse.

Tweede op die lys is onderrig, teen 19,6% van die begroting, gevolg deur maatskaplike beskerming teen 16,9%.

klaskamer, skool, generies
Staatsamptenare wil nie nog ’n jaar geen verhoging kry nie. Foto: Pexels

Die afbetaling van skuld neem 13,4% van die begroting in beslag.

Dit los 17,9% van die begroting om al die ander goed in die land te dek.

Daar is reeds in vanjaar se begroting noemenswaardig besnoei aan dié dinge. Werklik die enigste plek waar daar nog besnoei kan word, is die salarisrekening.

“Ons moet oplossings soek en leierskap wys . . . Ons is nie vyande nie en ons kort mekaar vir die land om suksesvol te wees,” het Mchunu gesê.

Reuben Maleka, nasionale woordvoerder van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat 235 000 staatsamptenare verteenwoordig, sê hul eis is tans inflasie plus vier persentasiepunte (dus sowat 7,2%).

“Die regering bied vir ons 0% aan. Dis nie ’n aanbod nie, dis niks!” sê hy. “Ons vra net dat hulle respek vir ons toon.”

Die VSA sê hy is bereid om ’n kompromis aan te gaan.

Hy sal sy 7,2%-eis prysgee as die staat met ’n “respekvolle aanbod” na die tafel toe kom.

Die tesourie het in Februarie begroot vir ’n verhoging van 2,1% aan staatsamptenare vanjaar, en 1,2% per jaar daarna.

In vraetyd het Mchunu gesê hy respekteer die eise van die georganiseerde arbeid en dat die regering intussen ook sy eie insette gelewer het. ’n Onafhanklike fasiliteerder is deur die regering aangestel in ’n poging om die kans te vergroot dat die onderhandelinge sal slaag.

Ons vra net dat hulle respek vir ons toon.
Reuben Maleka van die Vereniging van Staatsamptenare

Vakbonde het reeds gedreig hulle gaan staak indien hul eise nie eerbiedig word nie.

“Die VSA wil dit duidelik stel dat dié proses uiteindelik tot wydverspreide nywerheidsoptrede kan lei, aangesien staatsamptenare nie meer die prys kan betaal vir die ekonomiese probleme van die land wat aangevuur word deur ongebreidelde bedrog, korrupsie en wanbestuur nie,” het die VSA onlangs in ’n verklaring gesê.

Mchunu het gesê daar word juis met die onderhandelinge gepoog om dié scenario af te weer.

“Die laaste ding wat ons tans wil sien of hoor, is onstabiliteit wat verdiep, veral tydens Covid-19. Daarom wil ons seker maak die onderhandelinge is ’n sukses. Ons het geen ander keuse nie.”

Meer oor:  Senzo Mchunu  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Salaristwis  |  Begroting  |  Tesourie  |  Staatsdiens  |  Staatsamptenare  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.