Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat se vakbonde appelleer dalk oor verhogings

Staatsdiensvakbonde oorweeg dit om by die konstitusionele hof te appelleer, en ’n omvattende staking in die staatsdiens is ook nie uitgesluit nie.

klaskamer, skool, generies
Dit sou onbillik wees in die huidige ekonomie om verhogings vir die staatsdiens te betaal, het die hof bevind. Foto: Pexels.com

Dit is die reaksie tot dusver van vakbonde oor die beslissing van die arbeidsappèlhof vroeër die week dat dit in effek onwettig sou wees om vanjaar salarisverhogings aan staatsdienswerkers te gee.

Dit sal nie regverdig en billik vir die regering wees om nou aansienlike ekstra finansiële hulpbronne te bestee aan werknemers wie se poste reeds seker is en wie se salaris reeds ten volle betaal is nie, gegewe die verpligting om die ekonomie te herstel tot voordeel van miljoene kwesbare mense, lui die hofuitspraak.

Die betaling van welsynstoelae aan mede-Suid-Afrikaners wat op die broodlyn leef kan deur so ’n besluit bedreig word, asook die aansienlike en kritieke ekstra mediese koste wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is.

Vakbonde het die regering hof toe gesleep nadat hy al sedert Februarie aangedui het hy het nie geld om vanjaar verhogings aan staatsamptenare te betaal kragtens ’n driejarige loonooreenkoms wat in 2018 beding is nie.

Maar die arbeidsappèlhof het beslis die klousule van die loonooreenkoms om die derde jaar se verhoging te betaal is onwettig omdat dit art. 213 en art. 215 van die Grondwet oortree, asook regulasies 78 en 79 van die staatsdiensregulasies van 2016.

Dit bepaal dat ’n staatsdepartement slegs ’n loonooreenkoms kan aangaan as hy die koste daarvan uit sy eie begroting kan dek of op grond van ’n geskrewe belofte van die nasionale tesourie om ekstra geld daarvoor te bewillig.

Die tesourie het egter nooit so ’n belofte gegee nie, en die staat het beklemtoon hy kan nie vanjaar se verhoging bekostig nie. Dit sou hom R37 miljard ekstra gekos het, terwyl die staatskas reeds onder druk is weens die swak ekonomie wat belastinginkomste knou en die miljarde rande se ekstra uitgawes wat die pandemie meegebring het.

Die hof het gewys op ’n brief wat Malusi Gigaba, destyds minister van finansies, op 14 Februarie 2018 aan Faith Muthambi, destyds minister van staatsdiens en administrasie, gestuur het.

Gigaba skryf daarin die tesourie kan geen ekstra geld beskikbaar stel om die loonooreenkoms te finansier as dit die bestedingsplafon op mediumtermyn oorskry nie.

Gigaba het in die brief voorgestel dat die loonooreenkoms slegs bekostig kan word as 19 000 poste in die staatsdiens gesny word deur vrywillige vroeë-uittreepakkette om R12 miljard se ekstra geld te kan voorsien. Die tesourie het toe ook voorgestel dat die staat kan bespaar op die R8 miljard per jaar wat aan oortydbetalings in veral die gesondheidsektor bestee word, en op die R2 miljard per jaar wat aan prestasiebonusse bestee word.

Die Cosatu-geaffilieerde Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu) sê hy het kennis geneem van die hofbeslissing. Sy regsverteenwoordigers bestudeer die uitspraak en sal die vakbond adviseer oor ’n moontlike appèl by die konstitusionele hof.

Op Twitter het vakbondlede gemeen dit sal tyd- en geldmors wees om by die konstitusionele hof te appelleer. Volgens ’n paar vakbondlede is dit tyd dat Cosatu wegbreek van die ANC en dat staking en protes die enigste taal is wat die werkgewer verstaan. Ander meen die vakbond is nutteloos en dat hulle hul lidmaatskap gaan opgee.

Reuben Maleka, assistenthoofbestuurder vir ledesake by die staatsdiensvakbond die Vereniging vir Staatsamptenare, het vroeër aangedui ’n staking word oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.