Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat se vakbonde verklaar dalk gou dispuut

Staatsamptenare se vakbonde gaan waarskynlik in die komende week ’n dispuut verklaar wat die weg kan baan vir ’n staking.

Staatsamptenare is nie te vinde om vir die tweede jaar agtereenvolgens geen verhoging te ontvang nie. Foto: Shutterstock

Dit kom nadat die staat geen nuwe aanbod vir salarisverhogings gebring het sedert onderhandelinge verlede naweek op ’n dooiepunt ontbind is nie. Die staat bied vir die tweede agtereenvolgende jaar geen verhoging aan nie, maar wel ’n eenmalige bonus van R9 miljard wat onder staatsamptenare verdeel moet word.

Mlungisi Ndlovu, provinsiale bestuurder van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA), het op Werkersdag (1 Mei) in Durban gesê die vakbond gaan ’n dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verklaar, berig eNCA.

Ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge moet ’n dispuut verklaar word, waarna mediasie onder die vaandel van die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) plaasvind. Indien ’n vergelyk nie bereik kan word nie, reik die PSCBC ’n stakingsertifikaat uit, waarna vakbonde op hul beurt 48 kennis mag gee dat hulle gaan staak.

Dit kan dus nog weke duur voordat Suid-Afrika se nagenoeg 1,2 miljoen staatsamptenare wettiglik mag staak.

Intussen berig City Press dat die proses vertraag kan word omdat staatsdiensvakbonde nie ooreen kan stem oor ’n looneis nie. Indien dit die geval is, moet die bemiddelaar afsonderlik met elke vakbond onderhandel.

Te midde van die opbouende spanning het pres. Cyril Ramaphosa Saterdag deelgeneem aan Cosatu se virtuele Werkersdagviering.

Hy het in sy toespraak beklemtoon dat ’n verenigde drieparty-alliansie (die ANC, Cosatu en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty) noodsaaklik is in die stryd teen die Covid-19-pandemie en vir ekonomiese herstel.

Dr. Blade Nzimande, SAKP-leier, het ’n beroep op die regering gedoen om die dooiepunt in loononderhandelinge te beredder.

Die VSA, wat 235 000 staatsamptenare verteenwoordig, het op die vooraand van Werkersdag in ’n verklaring herhaal dis onaanvaarbaar dat daar van staatsamptenare verwag word om die “hoë prys” te betaal vir die regering se mislukking om bedrog, korrupsie, wanbestuur en verkwistende uitgawes te stuit.

Die VSA meen dat die staat die proses van kollektiewe bedinging ondermyn.

Staatsamptenare moet nog tot 24 Augustus wag vir die konstitusionele hof se uitspraak oor 2020 se salarisverhogings. Die staat het eensydig die verhogings vir die laaste jaar van ’n driejaarooreenkoms wat in 2018 in werking getree het, geskrap. Twee vorige howe het die regering reeds gelyk gegee dat hy weens ’n gebrek aan geld die ooreenkoms kan systap.

Werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en munisipaliteite het ook nie in April verhogings ontvang nie, in weerwil van afsonderlike langtermyn-loonooreenkomste wat jare gelede beding is.

Loononderhandelinge by Eskom begin Dinsdag en die nutsmaatskappy het Vrydag by vakbonde gepleit om die landsbelang eerste te plaas.

“Eskom benader die gesprekke in goeder trou . . . Ons doen ’n beroep op alle partye wat deelneem om hulself te gedra op ’n manier wat respek vir die wet, en die belange van die land en sy burgers eerste plaas, en om al die moontlike te doen om onnodige steurnisse te vermy.”

Vorige jare se loononderhandelinge by Eskom is gekenmerk deur geweld en intimidasie van mense wat wel wou gaan werk.

Die National Union of Mineworkers (NUM), wat sowat 14 000 Eskom-werkers verteenwoordig, het onlangs aangedui hy gaan tot 2023 verhogings van tussen 15% en 20% eis of aandring op ’n minimum salaris van R15 000 per maand.

NUM het ook ander eise, soos ’n verdubbeling in behuisingstoelaes tot R7 000, 35 verlofdae per jaar en ses maande betaalde kraamverlof.

Intussen is herstrukturering by verskeie staatsentiteite begin, onder meer die Padongelukkefonds.

Meer oor:  Staatsamptenare  |  Salarisse  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Tesourie  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.