Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staat se salarisse ‘drasties’ besnoei

Verwag vanjaar maar arbeidsonrus en groot botsings tussen staatsdiensvakbonde en die regering.

arbeidsake, vakbonde
Mboweni wil die staat se salarisrekening oor die volgende drie jaar met meer as R160 miljard sny.

Terwyl belastingbetalers vir ’n slag dalk effe asem kan skep danksy inflasieverwante aanpassings aan belastingkerwe, kan die regering hom gereed maak vir konflik met sy werknemers weens die plan om kwaai te sny aan hul salarisse.

Hy het die volle politieke steun van sy kollegas in die kabinet vir die drastiese besnoeiing aan besteding, het Tito Mboweni, minister van finansies, op ’n nuuskonferensie voor sy begrotingsrede Woensdag gesê.

Belastingkerwe vir inflasie aangepas

Mboweni het besef hy kan nie méér bloed uit ’n klip tap nie en het anders as verlede jaar belastingkerwe met inflasie aangepas. Selfs belastings wat gewild is by die regering om belastingbetalers van ’n ander kant af by te kom, soos die brandstofheffing en die sogenaamde sondebelastings op drank en sigarette, is oorwegend in pas met inflasie verhoog.

BTW nie verhoog

Hoewel talle waarnemers verwag het dat Mboweni belasting op toegevoegde waarde (BTW) met ’n persentasiepunt tot 16% gaan verhoog, is nie daaraan getorring nie. “Dit sou domastrant wees om te midde van die moeilike ekonomiese omgewing BTW te verhoog,” het Mboweni voor sy begrotingsrede gesê.

Oorsese werkers

Vir Suid-Afrikaners wat oorsee werk en bang was vir die nuwe reëls oor belasting op buitelandse werk wat van 1 Maart af van krag is, is daar selfs ook verligting deurdat die perk waarbo hulle belasting sal moet betaal van R1 miljoen tot R1,25 miljoen verhoog is. Maar hier gaan die tesourie wel ’n streep trek en is daar reëls op pad wat gaan keer dat Suid-Afrikaners finansieel kan emigreer.

Besteding gesny

Mboweni wil die staat se salarisrekening oor die volgende drie jaar met meer as R160 miljard sny. Mboweni wil die staat se salarisrekening oor die volgende drie jaar met meer as R160 miljard sny. Dit nadat nie veel gekom het van die vrywillige uittreepakkette wat staatsamptenare sedert verlede jaar aangebied is nie.

Daarby word kwaai gesny aan besteding – grootliks deur geld weg te vat van departemente en staatsprogramme wat nie in die afgelope jare hul geldtoekennings bestee het of doeltreffend bestee het nie.

Ter wille van die geloofwaardigheid van die tesourie se fiskale standpunt is dit noodsaaklik dat die regering en vakbonde mekaar oor die beoogde salarisbesnoeiings tegemoetkom, het Mboweni gesê.

Dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, het bevestig dat gesprekke met staatsdiensvakbonde by die bedingingsraad reeds begin het. Die regering se voorstel is dat die laaste jaar van die meerjarige loonooreenkoms wat in 2018 beklink is, hersien word. Die vakbonde het Dinsdag reeds dié voorstel verwerp.

Nog geld vir Eskom en SAL

Anders as verwag, is daar nie veel nuwe besonderhede in die begroting oor enige regrukplanne vir Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie, hoewel die staat wel met sy versnelde jaarlikse reddingsboeie aan Eskom voortgaan. Eskom kry oor die volgende drie jaar R112 miljard, en die SAL R16,4 miljard.

Mboweni het nogtans genoem dat die voorstel van vakbonde dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ’n deel van Eskom se skuld afbetaal, nie ’n slegte plan is nie. Maar hy meen private pensioenfondse en institusionele beleggers behoort ook betrokke te raak. Dit kan die weg baan vir private deelname aan Eskom. Mboweni meen die voorstel dat die OBK se bestaande Eskom-effekte in Eskom-aandele omgeskakel word, ook die debat verder neem.

Staatskuld hol weg

Wat staatskuld betref, lyk dit byna asof die tesourie boedel oorgegee het, want die skuld as persentasie van die BBP sal na verwagting teen die 2022-’23-boekjaar tot 71,6% teenoor die verwagte 71,3% in Oktober verlede jaar styg. Waar rente op skuld in Oktober op 11,5c uit elke rand geraam is wat die staat bestee, trek dit nou al by 15c uit elke rand wat die staat bestee en sal dit teen 2023 meer as 18c wees. Die staat sal vanjaar R370,5 miljard moet leen om sy gekonsolideerde begrotingstekort te dek, en rente op skuld is op R229,3 miljard steeds die bestedingsitem wat die vinnigste groei, teen 12,3%.

Die bedrag wat die staat aan rente op skuld bestee, is meer as wat aan gemeenskapsontwikkeling, veiligheid, of ekonomiese ontwikkeling in die land bestee word.

As staatsondernemings en plaaslike owerhede ingesluit word, sal die staat in die volgende jaar R454 miljard moet leen.

Hoewel Mboweni sê hy weet nie hoe die kredietgraderingsagentskap Moody’s op die jongste begroting gaan reageer nie, meen hy nie dit sal Suid-Afrika afgradeer op grond van die fiskale standpunt wat die tesourie inneem om besteding te sny nie.

Meer oor:  Sal  |  Nasionale Tesourie  |  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Lone  |  Salarisse  |  Belasting  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.