Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staatsdiens met 10 000 verklein?

Die staat mik om oor die volgende drie jaar sy personeelgetalle met sowat 10 000 te verklein, blyk uit die begrotingsdokumente wat Woensdag gepubliseer is.

Die grootste besnoeiings word hiervolgens vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens beplan, waar personeelgetalle van 192 000 verlede jaar met sowat 4 500 tot rondom 187 500 teen die 2022-’23-boekjaar gesny kan word.

Vrywillige uittreepakkette aan die polisie word beplan en dit sal volgens die nasionale tesourie R380 miljoen in die eerste jaar en R120 miljoen in die jaar daarna kos, vir ’n totale koste van R500 miljoen.

Tito Mboweni

Die vroeë aftreepakkette sal die staat na verwagting R1,6 miljard oor die komende drie jaar bespaar, bykomend tot ’n besparing van R1 miljard as salarisverhogings vir polisiebeamptes inflasieverwant is.

By die nasionale tesourie self word voorsiening gemaak vir vroeë-aftredepakkette teen ’n koste van R240 miljoen, wys die begrotingsdokumente.

Te midde van skerp kritiek van vakbonde het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede aangekondig die staat se salarisrekening sal oor die volgende drie jaar met R160,1 miljard gesny moet word. Dit sal die staat se gekonsolideerde besteding aan salarisse oor die drie jaar in reële terme met 1% verlaag.

Die klem van die besnoeiings is egter nie op die sny van poste nie, maar om salarisverhogings binne inflasie te hou en byvoordele te sny. Mboweni het Woensdag voor sy begrotingsrede gevra waarom dit nodig is dat die staat byvoorbeeld vir topamptenare motorvoertuie moet koop, terwyl mense in die private sektor dit uit hul eie sak koop.

Staatsdienssalarisse het oor die afgelope 12 jaar met sowat 40% gegroei, maar sonder die gepaardgaande toename in produktiwiteit, het die tesourie in die begrotingsoorsig gesê.

Die tesourie se beraming van nasionale besteding – ’n lywige dokument van 742 bladsye wat jaarliks saam met die begrotingsoorsig gepubliseer word – wys dat staatsdepartemente teen einde Maart vanjaar geld het vir 417 467 poste, hoewel dit onderwysers en verpleegpersoneel uitsluit, asook die syfers van die parlement wat nie ten tyde van publikasie van die dokument die relevante inligting aan die tesourie gestuur het nie.

Nietemin verwag die tesourie dat die totale aantal poste in staatsdepartemente teen die 2022-’23-boekjaar met sowat 10 000 tot 407 595 sal afneem.

Fynere besonderhede oor presies wat die staat se voorstel aan vakbonde in die bedingingsraad vir die staatsdiens behels, is nog nie duidelik nie.

Dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, het Woensdag gesê die koste om openbare dienste te lewer raak al hoe groter, en die staat se salarisrekening is een van die groot kostedrywers.

Masondo het erken die staat se voorstel om onderhandelings te heropen oor die laaste jaar van die meerjarige salarisooreenkoms wat in 2018 beklink is, is eers Dinsdag in die bedingingsraad ter tafel gelê.

“Die vorige salarisooreenkoms was bo inflasie. Dit maak dit moeilik vir die regering om meer polisiebeamptes en verpleegsters in diens te neem.

“Ons het ’n pakket van maatreëls voorgestel om die koste van die staatsdiens te sny, en ons sal nie opgee nie,” het Masondo gesê in reaksie op vakbonde wat die staat se voorstel as ’n oorlogsverklaring beskryf het.

Die departemente wat in nominale syfers die ergste getref word deur die verwagte sny aan salarisse is die veiligheidsgroepering wat die polisie, weermag en die departement van justisie insluit, waar daar gemik word om vergoeding met R2,382 miljard te sny oor die komende drie boekjare.

Die snye aan die salarisrekening om verhogings inflasieverwant te hou sluit in:

  • R1 miljard by die polisie
  • R388,6 miljoen by die weermag
  • R158 miljoen by die departement van justisie
  • R128,4 miljoen by die departement van hoër onderwys en opleiding; en
  • R105,4 miljoen by die departement van gesondheid.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  David Masondo  |  Staatsdiens  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.