Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staatskuld: Groei ná inperking help, maar . . .

Die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) sedert 2020 se staat van inperking het daartoe gelei dat die skuld-tot-BBP-verhouding op die vooraand van die begrotingsrede ietwat verbeter het, maar dit beteken nie Suid-Afrika leen nie steeds buitensporig baie geld nie.

Staatskuld bly die tesourie se grootste probleem. Grafika: iStock

Staatskuld staan volgens die jongste beskikbare maatstaf (Oktober se mediumtermynbegrotingsrede) op ’n kolossale R3 974 miljard.

As dit nie was vir die groot styging in die BBP sedert Oktober nie, sou staatskuld se verhouding tot BBP nou op 92,5% gestaan het.

Dit is omdat die nominale BBP in die derde kwartaal van verlede jaar nog op R4 297 miljard gestaan het, maar nou redelik herstel het tot R5 020 miljard teen Desember, luidens data van die Reserwebank.

Dit bring die beste skatting van die skuld-tot-BBP-verhouding nou te staan op 79,16%.

Maar dit gebruik die tesourie se data oor skuldvlakke van vier maande gelede, wat beteken dit is ’n baie konserwatiewe raming.

Tito Mboweni, minister van finansies, het self vier maande gelede gewaarsku dat staatskuld waarskynlik in die 2020-’21-boekjaar (wat einde Maart tot ’n einde kom) tot meer as R4 000 miljard sal styg.

Nietemin het staatskuld tot en met Oktober reeds met meer as 9% toegeneem teenoor die 2019-’20-boekjaar se vlak.

Sedert 2017 het staatskuld al met meer as 61% toegeneem.

Dít is waar die meeste van die groei in staatskuld begin het.

Dis hoofsaaklik weens die voortdurende begrotingstekort soos Jan Taks jaar ná jaar sy belastinginvorderingsteiken misloop, maar die staat se uitgawes aanhou styg.

Die staat van inperking het nou ook belastinginvordering so geknou dat Mboweni in Junie reeds ’n tekort van R300 miljard teenoor Februarie se begroting verwag het.

Hierdie syfer is egter aangepas met die jongste belastingdata van Desember wat dui op ’n R230 miljard-tekort.

Dus, aan die een kant het staatskuld in die laaste vier maande teen ’n versnelde pas aanhou groei, maar die data oor hoe baie dit geword het, is net nog nie beskikbaar totdat Mboweni Woensdag sy begrotingsrede lewer nie.

Aan die ander kant het die BBP se herstel tot vlakke naby aan dié van voor Covid-19 beteken die verhouding van skuld-tot-BBP blyk te verbeter het.

Maar skuld het nie minder geword nie – die ekonomie het bloot weer aan die gang begin kom.

Om staatskuld te diens kos die regering byna 22c uit elke rand wat hy uit belasting invorder, wat dit die derde duurste item op die begroting maak.

Selfs te midde van ’n pandemie bestee Suid-Afrika nou meer aan rente en skuldterugbetalings as wat hy aan gesondheid bestee.

Luidens die jongste vooruitskatting van die staatskuld-tot-BBP-verhouding van die tesourie, sal staatskuld vanjaar tot 85,6% van die BBP styg.

Dit is te wyte aan ’n geskatte begrotingstekort van sowat 16% vir die jaar, wat sal meebring dat die staat verder moet geld leen om sy besteding te dek.

Meer oor:  Lenings  |  Staatskuld  |  Staatskas  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Fiskale Afgrond  |  Rente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.