Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staatskuld: die ramp in wording oor 10 jaar

Op die vooraand van Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) kyk Netwerk24 na hoe staatskuld die tesourie se grootste probleem geword het.

  

Staatskuld het amptelik ramspoedige vlakke gehaal. Grafika: iStock

Die staat skuld meer as R3 640 miljard.

Met die enorme inkrimping van die ekonomie in die tweede kwartaal (die jongste data beskikbaar) tot ’n nominale waarde van slegs R4 297 miljard, beteken dit dat die verhouding van skuld tot bruto binnelandse produk (BBP) met 84,8% gehaal het.

Die tesourie het in Junie se aanvullende begroting verwag die skuld-tot-BBP-verhouding gaan eers teen 2023 dié vlak haal.

En daar was dit veronderstel om te stabiliseer.

Mboweni het in Junie gesê sonder ingryping was Suid-Afrika op ’n trajek wat hom oor die skuldafgrond sou stoot. Dit sou beteken skuld sou teen 2025 meer as 100% van die BBP beloop.

Mét ingryping wil Mboweni gemik het om skuld te stabiliseer by sowat 80% van die BBP teen 2023-’24.

Dit blyk nou asof dit nog moeiliker sal wees as wat selfs in Junie gedink is.

Sedert 2010 het staatskuld met 282,46% toegeneem.

Dis hoofsaaklik weens die voortdurende begrotingstekort soos Jan Taks jaar ná jaar sy belastinginvorderingsteiken misloop, maar die staat se uitgawes aanhou styg.

Die staat van inperking het nou ook belastinginvordering só geknou dat Mboweni in Junie reeds ’n tekort van R300 miljard teenoor Februarie se begroting verwag het.

Die regering het vanjaar die Internasionale Monetêre Fonds genader vir ’n lening van R70 miljard, al was die ANC jare lank daarteen gekant.

Die begrotingstekort gaan na verwagting vanjaar 16% van die BBP beloop, volgens die konsensusraming van 23 ekonome in ’n Bloomberg-peiling. Dit sal die grootste tekort wees sedert 1914, toe Suid-Afrika toegetree het tot die Eerste Wêreldoorlog.

Só baie leen Suid-Afrika tans dat skuld in slegs een jaar, sedert Augustus 2019, met 21,68% toegeneem het, luidens die Reserwebank se data.

Dit maak van die staat se skuldkoste amptelik die vierde grootste item op die begroting, bo die besteding aan verdediging, die polisie en ekonomiese ontwikkeling.

Suid-Afrika bestee nou net soveel aan skuld as wat hy aan gesondheid bestee, het Mboweni in Junie gesê.

In 2010 was skuldkoste 9,8% van die totale begroting, teenoor die huidige bykans 22%.

Uit elke rand se belasting word meer as 21c nou aan net skuldkoste bestee.

Luidens die Februarie-begroting sou die land vanjaar R432,7 miljard geleen het, maar dit het teen Junie tot R776,9 miljard opgeskiet, en dit sluit nie eens die R70 miljard van die IMF af in nie.

Die regering sê hy gaan sy skuld finansier deur hoofsaaklik korttermynstaatseffekte in teenstelling met die meer langtermynlenings wat die staat gewoonlik aangaan.

Mboweni sê dis omdat Suid-Afrika se afgradering tot rommelstatus rentekoerse op staatskuld beduidend verhoog het en hy dus op kort termyn moet fokus om laer rentekoerse te probeer kry.

Dis egter slegs ’n tydelike strategie.

Die stormloop weg van Suid-Afrikaanse staatseffekte het die mark swak gelaat, wat die tesourie dus dwing om sy benadering tot die uitreik van staatseffekte te verander.

Sodra marktoestande verbeter, sal die tesourie weer oor die hele opbrengskurwe heen effekte uitreik.

Volgens Trading Economics se ranglys was daar in Desember 2018 net 26 lande in die wêreld met skuld-tot-BBP-verhoudings van hoër as 80%, en die meeste van dié lande was in ernstige finansiële onstuimigheid vasgevang of in oorloë betrokke.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatskuld  |  Staatskas  |  Mtbr2020  |  Belasting  |  Begroting  |  Besteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.