Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staatskuld: R5 000 mjd. wink, maar Tito is positief
ekonomie

Dit is ’n ommeswaai van begrotingsredes die afgelope jare waartydens die regering se verwagtinge vir staatskuld in elke opeenvolgende begrotingsrede versleg het.

Sedert Februarie 2020 het die land se skuldprentjie erg agteruitgeboer, maar Woensdag het Tito Mboweni, minister van finansies, vir die eerste keer goeie nuus gedeel: Staatskuld gaan vinniger as verwag stabiliseer namate die regering minder leen.

Staatskuld bly egter gevaarlik hoog.

Mboweni het Woensdag gesê dit staan nou op R3 975 miljard – die hoogste wat dit nog in Suid-Afrika se geskiedenis was. Dit kom neer op 80,3% van die bruto binnelandse produk (BBP).

Ten tyde van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober 2020, was dié verhouding 81,8%. Die verhouding het verbeter danksy die verstewiging van die ekonomie ná die harde staat van inperking verlede jaar, ten spyte daarvan dat die regering meer as beplan geleen het.

tito mboweni
Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in die parlement tydens die begrotingsrede.

Teen 2023 gaan bruto staatskuld amptelik meer as R5 000 miljard beloop op R5 234,5 miljard. Dit sal 87,3% van die BBP behels.

In 2020 het die regering R670,3 miljard geleen teenoor ’n beplande bruto leningstotaal van R432,7 miljard. Met ander woorde, Suid-Afrika het nie soos beplan 8% van die BBP geleen nie, maar eerder 13,6% van die BBP.

Mboweni sê egter dié koers gaan oor mediumtermyn aansienlik verbeter.

In 2021 is die regering se leningsbehoeftes R547,8 miljard, in 2022 R561 miljard en in 2023 R541 miljard.

Skuldkoste is egter die staat se derde grootste uitgawe op mediumtermyn, ná onderrig en maatskaplike ontwikkeling.

Luidens die begroting sal die staat in 2021 R269,7 miljard bestee aan sy skuldkoste. Dit beloop 13,3% van die begroting.

In Junie verlede jaar was skuldkoste die vierde grootste item op die begroting, onder gesondheid.

Die feit dat die staat se skuldkoste meer beloop as sy besteding aan gesondheid te midde van ’n pandemie, is tekenend van hoe groot Suid-Afrika se skuldstrik is.

Skulddekking kos die staat nou 21c uit elke belastingrand wat hy invorder. Met die begrotingsrede in Februarie verlede jaar was dit 15c uit elke rand.

Begroting21, staatskuld

Volgens die tesourie is dié syfer twee keer meer as wat Suid-Afrika se eweknieë betaal, so al het die ganse wêreld hope skuld aangegaan tydens die koronaviruspandemie, het Suid-Afrika se skuldvlakke beduidend vinniger toegeneem.

Begrotingstekort

Die begrotingstekort het sedert Februarie 2020 verdubbel en staan nou op ’n rekordvlak van 14% van die BBP.

Dit is die soort begrotingstekort wat ontstaan in lande wat in ’n oorlog gewikkel is.

Mboweni mik om teen die 2023-’24-boekjaar die begrotingstekort tot 6,3% van die BBP te verminder deur aan te hou snoei aan besteding en deur minder te leen.

In 2021 reken die tesourie sal die begrotingstekort 9,3% van die BBP wees.

Begroting21, staatskuld

Belastinginvordering sal na verwagting in 2021 R1 511 miljard beloop; afhangende van ekonomiese groei.

Weens die pandemie het die staat verlede jaar meer as R100 miljard minder as verwag ingevorder. En met die pandemie wat voortsleep, kan dit vanjaar dalk weer die geval wees.

Die staat se begrotingstekort sal in 2021 R500 miljard wees, uitsluitend sy rekening vir skuldterugbetalings.

Vooruitsig

Mboweni sê skuld sal teen die 2025-’26-boekjaar op 88,9% van die BBP stabiliseer.

Dit is aansienlik laer as die vooruitskatting in die MTBR waarin nog gereken is dat staatskuld teen 2025 op 95,3% van die BBP sou stabiliseer.

Die tesourie het Woensdag gesê ekonomiese groei is die enigste manier om die staatskas te stabiliseer – nie hoër belasting nie.

“Die regering se prioritisering van groei as ’n strategie vir fiskale konsolidasie mik daarna om die begrotingstekort te vernou en staatskuld sodoende te stabiliseer. Hierdie beleidsdoeleindes is op koers, maar sal deurlopende dissipline verg om besteding in toom te hou. Ekonomiese hervorming is ook nodig,” sê die tesourie. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.