Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staatskuld snel voort na 71% van BBP

Suid-Afrika word deur ’n kolossale skuldlas in die gesig gestaar. ’n Astronomiese 15c van elke rand wat die staat invorder, moet nou net aan skuld betaal word.

Die nasionale begroting van Woensdag wys dat die koste om die staat se skuld te diens, nou die vierde grootste item op die begroting is – bo selfs die besteding aan verdediging, veiligheidsdienste en ekonomiese ontwikkeling.

Koste van skuld al groter

Die tesourie sê dat staatskuld in 2022 tot R4 380 miljard gaan opskiet. Dit sal beteken dat die skuld-tot-BBP-verhouding tot ’n rampspoedige vlak van 71,6% sal styg, 0,3 persentasiepunte hoër as wat die tesourie in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober verwag het. Grafika: iStock

Die koste van skuld is volgens die tesourie die “snelgroeiendste uitgawe van die staat” en beloop nou R229,3 miljard per jaar. In 2010 was die skuldkoste 9,8% van die totale begroting, maar verlede jaar het dit tot 15,2% gestyg.

Oor die volgende drie jaar gaan R266,4 miljard van die staat se skuld betaalbaar word en die rentekoers waarteen lenings aangegaan word, word net hoër.

Die bruto staatskuld het in die 2019-boekjaar R3 180 miljard beloop. Dit is sowat 61,6% van die bruto binnelandse produk (BBP) en was die eerste keer sedert die einde van apartheid dat dié verhouding bo 60% te staan gekom het.

Rampspoedige vlak

Die tesourie sê Woensdag dat staatskuld in 2022 tot R4 380 miljard gaan opskiet.

Dit sal beteken dat die skuld-tot-BBP-verhouding tot ’n rampspoedige vlak van 71,6% sal styg, 0,3 persentasiepunte hoër as wat die tesourie in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober verwag het.

Die tesourie sê die staat se “kwynende fiskale posisie weens swak ekonomiese groei en die swak finansies van staatsondernemings” vereis toenemend dat nog geld geleen moet word.

staatskuld

In die 2019-boekjaar het die staat se bruto skuldvereiste met R71,9 miljard (21,4%) tot R407,3 miljard per jaar gestyg. In die mediumtermynbegrotingsraamwerk het Tito Mboweni, minister van finansies, nog beraam dat 2019 se skuldvereiste R394,2 miljard sou wees, maar die uitgawes het intussen aanhou ophoop.

Die enorme behoefte aan nóg skuld het reeds in Augustus begin spoed optel toe die regering sy weeklikse veilings van staatseffekte beduidend versnel het. Die versnelde pas waarmee staatseffekte uitgereik word, beteken dat die bruto staatskuld in 2020 R3 562 miljard sal beloop, en R3 979 miljard in 2021.

Gaan nie stabiliseer

“Daar word nie verwag dat die skuld op mediumtermyn gaan stabiliseer nie,” sê die tesourie in sy begroting.

In 2020 beplan hy om R432,7 miljard vir die jaar te leen.

staatskuld

Intussen is die staat se toenemende ondersteuning aan sukkelende staatsondernemings besig om ’n groter en groter las op sy balansstaat te word. Teen 31 Maart 2020 verwag die tesourie sal gebeurlikheidslaste, waaronder hoofsaaklik staatswaarborge, R979,9 miljard beloop. Dit is meer as die land se begroting vir maatskaplike ontwikkeling, basiese onderwys en gesondheid saam.

Die tesourie voer aan dat ten spyte van sy pogings om sy skuld op die beste wyse moontlik te bestuur, kan “omsigtige bestuur van skuld nie as plaasvervanger vir volhoubare openbare finansies of ekonomiese groei dien nie”.

Hy doen wel alles in sy vermoë om die buitensporige groei in sy skuldlas te beskerm teen enige moontlike eksterne skokke. Een van dié stappe is om sy blootstelling aan buitelandse skuld te probeer beperk.

In 2019 was 10,1% van alle staatskuld in buitelandse geldeenhede gedenomineer. In 2020 sal hierdie syfer tot 9,5% daal. Dit sal die staat se skuld veerkragtigheid gee teen enige wesenlike verswakkings in die wisselkoers van die rand, en ook teen wat die tesourie bieg ’n “groot moontlikheid” is van ’n kredietafgradering deur Moody’s Investors Service.

Maar dit beteken wel dat staatseffekte wat aan inflasie gekoppel is, meer as plaasvervanger uitgereik sal moet word. Indien inflasie dan sou styg, sal dit ’n groter gat in die staat se sak maak.

Meer oor:  Moody's  |  Nasionale Tesourie  |  Tito Mboweni  |  Lenings  |  Staatskuld  |  Kredietgradering  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.