Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staatskuld vanjaar R4 000 mjd. – en dis net die begin
mtbs2020
Tito Mboweni lewer sy mediumtermynbegrotingsrede in die parlement. Foto: Jaco Marais

Die wêreld swem in skuld, maar Suid-Afrika versuip, en Tito Mboweni, minister van finansies, draai nie meer doekies daaroor om nie.

Suid-Afrika sal in 2020 amptelik R4 000 miljard se skuld hê – ’n kolossale 81,8% van die bruto binnelandse produk (BBP).

In Februarie was daar doemprofete vir die vale toe die land vir die eerste keer sedert demokrasiewording ’n skuld-tot-BBP-verhouding van meer as 60% gehad het.

Nou is dinge baie anders.

Mboweni waarsku Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) dat Suid-Afrika bitter naby aan ’n skuldstrik is waaruit hy nie sommer sal kan kom nie.

Ja, talle lande moes enorme hoeveelhede skuld aangaan weens die Covid-19-pandemie, maar selfs die tesourie bieg nou dat Suid-Afrika se toename in skuld hom eerste plaas uit sy mandjie vergelykbare ontluikende markte. En die risiko van ’n volslae skuldstrik, waar meer skuld aangegaan word net om die bestaande skuldkoste te dek, het “noemenswaardig toegeneem”.

Land ‘gevaarlik naby wanbetaling’

Die rampspoedige aard van ’n skuldstrik kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Die tesourie sê in die MTBR dat die land selfs gevaarlik naby is aan ’n situasie waar hy homself kan skuldig maak aan wanbetaling op sy skuld.

“Om te versuim om die agteruitgang van die fiskale posisie aan te spreek, kan lei tot wanbetaling van skuld, wat daartoe kan lei dat die meeste van die vooruitgang in die demokratiese Suid-Afrika verlore kan gaan.”

Woensdag het die bruto staatskuld amptelik op R3 974,1 miljard te staan gekom – die hoogste in die land geskiedenis.

Oor die volgende drie jaar gaan R942 miljard net daaraan bestee word om skuldkoste te dek. Vanjaar sal R225,9 miljard net aan rente op skuld bestee word uit die totale staatsbesteding van R1 732 miljard, dus 13% van die ganse begroting, nuwe skuld inkluis.

Volgende jaar sal 15,8% van die begroting aan skuldkoste bestee word soos wat die begroting verder krimp en die skuldkoste aanhou styg. Teen 2023 sal dit 18,3% wees.

As persentasie van die BBP is die skuldkoste nou 4,8%.

Dit beteken skuldkoste is nou die derde grootste uitgawe van die staat – meer as die besteding aan verdediging en sekuriteit, ekonomiese ontwikkeling en selfs gesondheid.

En dit het bitter vinnig dié vlak bereik. In Junie se aanvullende begroting was die skuldkoste nog die vierde grootste uitgawe.

Om skuld te delg kos die staat nou 21c van elke rand wat deur belasting ingevorder word – dit was in Februarie nog 15c.

Oor die volgende drie jaar sal skuldkoste per jaar met 16,1% gemiddeld groei.

Die regering moes vanjaar R774,7 miljard leen, maar in die Februarie-begroting is daar nog voorsien dat die land vanjaar net R432,7 miljard sou moes leen.

mtbr2020

Begrotingstekort

Die begrotingstekort beloop nou 15,7% van die BBP, waar dit in Februarie nog geskat was dat dit slegs 6,4% vanjaar sou haal. Dit is die hoogste vlak nóg en oorskadu selfs die vlakke tydens die Eerste- en Tweede-Wêreldoorlog.

In rande is dit dus ’n tekort van R761,1 miljard vanjaar.

Dit is hoofsaaklik omdat belastinginvordering só geval het tydens die staat van inperking dat selfs die ANC teen sy jare lange posisie ingegaan het en uiteindelik tog geld geleen het by onder meer die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Belastinginvordering sal vanjaar R312,8 miljard onder sy teiken van Februarie se begroting val. Dit beteken dit is 17,9% laer as in 2019.

Die hersiene verlaging in belastinginkomste is groter as die vooruitskatting in Junie se aanvullende begroting.

mtbs2020

Vooruitsig

Mboweni sê nou skuld sal teen 2025 op sowat 95,3% van BBP stabiliseer.

Dit is twee jaar later en 15% meer as die vooruitsig in Junie se aanvullende begroting waar Mboweni sy plan vir ingryping om staatskuld te stabiliseer, vir die eerste keer uiteengesit het.

In net vier maande het die prentjie dus noemenswaardig verander.

“Opsies om die fiskus te stabiliseer word toenemend minder,” skryf die tesourie. “Die implementering van die regering se hervormingsagenda sal vertroue en beleggings ’n hupstoot gee. Maar hierdie hervormings word verwag om eers oor ’n hele paar jaar vrugte te dra, wat impliseer volgehoue swakheid in belastinginvordering sal voortduur vir die voorsienbare toekoms.”

Maar buitelanders raak steeds van Suid-Afrikaanse staatseffekte ontslae, en dit bekommer die tesourie.

Die risiko-premie wat Suid-Afrika moet betaal, het “noemenswaardig gestyg” sê die tesourie.

Dit stel ook die plaaslike bankbedryf aan aansienlike risiko bloot.

Mbowenie het op 9 Oktober hieroor gewaarsku: “As die skuldkrisis vlamvat, het ons ’n bankkrisis omdat staatseffekte nou disproporsioneel deur Suid-Afrikaanse instansies gehou word.

“Dan, my vriende, kom die volslae finansiële krisis.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Skuld  |  Mtbr2020  |  Bbp  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.