Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staking in staatsdiens kom al hoe nader

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) se 230 000 lede gaan dalk so gou as 5 Julie begin staak.

Tito Mboweni, minister van finansies, se hele begroting vir die 2021-’22-boekjaar kan in duie stort as die vakbonde se eise nagekom word. Indien nie, sal ’n verwoestende staking die staatsdiens lamlê, veral tydens die Covid-19-pandemie. Foto: Getty Images

Die VSA sê Woensdagaand in ’n verklaring dat hy net nog besig is om stemme te tel ten einde ingevolge die Wet of Arbeidsverhoudinge die amptelike mandaat om te staak te bevestig.

Daarna gaan die vakbond Maandag met verteenwoordigers van sy werkgewer, die staat, vergader en hulle in kennis stel van die nywerheidsoptrede.

Die VSA skroom nie om te sê dat hy weet “belangrike” gebeure is op pad vir die staat nie, en hy mik om dit met sy staking te ontwrig.

Rapport het Sondag berig dat net 6,5% van VSA-lede teen verlede Woensdag gestem het, maar 90% van hulle het ten gunste van ’n staking gestem. Die stemmery het Maandag ten einde geloop.

LEES OOK: Amptenare is traag om vir staking te stem

Reuben Maleka, assistenthoofbestuurder van die vakbond, het aan Netwerk24 gesê hulle weet nog nie hoeveel lede uiteindelik wel gestem het nie, aangesien baie by takke gaan stem het en die stemme fisiek getel moet word.

Dié nuus kom nadat die VSA al op 11 Mei weggebreek het van die staat se fasiliteringsproses met ander vakbonde wat staatsdiensamptenare verteenwoordig onder die vaandel van die vakverbond Cosatu. Die VSA is ’n onafhanklike vakbond.

Die staat het in sy jongste aanbod vir die staatsdiens ’n 1,5%-verhoging aangebied op amptenare se niepensioendraende salaris. Daarby is ’n ex gratia-betaling van R978 per maand (voor belasting) vir 12 maande aangebied.

Die aanbod is egter nie aan die VSA gemaak nie, aangesien dit slegs op die fasiliteringsproses gemaak is aan die vakbonde wat nog deel was van die proses.

Die vakbonde se eise

Die VSA eis dat staatsamptenare vanjaar ’n verhoging van die inflasiekoers plus vier persentasiepunte kry. Inflasie is tans op 5,2%. In Maart, toe dié eis gestel is, was dit 3,2%. Dit kom dus neer op ’n verhoging van tussen 7,2% en 9,2%.

Daarmee saam soek die vakbond nog baie meer toelae en voordele vir die meer as ’n miljoen amptenare in die staat se diens. Die VSA wil wegdoen met intreevlaksalarisse en staatsamptenare almal bevorder tot vlak 4.

Die VSA reken amptenare is geregtig op ’n 12%-“risiko-toelae” van hul salaris tydens rampe soos Covid-19.

Weens Covid-19 het baie staatsamptenare van die huis af gewerk. Die VSA wil nou hê dit moet ’n permanente opsie word en dat alle kostebesparings oorgedra word aan amptenare in die vorm van ’n toelae vir skryfbehoeftes, data, elektrisiteit en dies meer.

Dreigende fiskale afgrond

Tito Mboweni, minister van finansies, het egter in sy begrotingsrede aangedui hy wil die staatsdiens verklein deur natuurlike personeelafname (bedankings en aftrede) en deur vakante poste nie te vul nie.

Staatsdienslone is reeds die grootste item op die begroting.

Uit elke rand wat die staat invorder, word 47c aan salarisse bestee. Uit die hele begroting, skuld inkluis, word 32% bestee aan die vergoeding van staatsamptenare.

Suid-Afrika bestee bykans 15% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan staatsdienslone.

As die staat se beoogde 1,5%-verhoging nié materialiseer nie, sal Suid-Afrika se staatskuld nie teen 2025 onder 90% van die BBP stabiliseer nie. Dan dreig ’n volslae skuldstrik wat die land oor die fiskale afgrond kan stoot.

“ ’n Afwyking van dié aanname in die komende loonooreenkoms sal onbekostigbaar wees en die staat se poging om skuld te stabiliseer, in gevaar stel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.