Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Staking kom byna beslis in staatsdiens

Meer as 230 000 staatsamptenare is besig om te stem of hulle gaan staak oor die staat “se versuim om ’n eerbiedige loonaanbod” vir die jaar te maak.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) se 230 000 lede stem tot 28 Junie of hulle gaan staak of nie. Foto: Getty Images

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het Maandag aan Netwerk24 gesê sy lede stem sedert 17 Junie oor die vakbond se voorstel vir ’n massastaking.

Die geheime stemming sal op 28 Junie afgehandel wees.

Daarna sal die VSA ’n duidelike mandaat van sy honderdduisende lede hê, sê Reuben Maleka, woordvoerder van die vakbond.

Die VSA, ’n onafhanlike vakbond, is dus die eerste vakbond wat amptenare verteenwoordig wat aandui dat hy hom op ’n massastaking begin voorberei.

Uit die sowat 1,2 miljoen staatsamptenare wat regstreeks deur die staat in diens geneem word, verteenwoordig die VSA amper ’n kwart.

Die res val grotendeels onder die vaandel van Cosatu-geaffilieerde vakbonde soos Nehawu. Hierdie vakbonde het nog nie aangedui wat hulle beoog om te doen oor die staat se jongste en laaste aanbod van ’n verhoging van slegs 1,5% vir die jaar nie.

Tot en met verlede week was Cosatu en sy vennote nog in ’n fasiliteringsproses met die staat gewikkel om tot ’n vergelyk oor die verhogings vir die 2021-’22-boekjaar te probeer kom.

Cosatu, wat alle kommunikasie oor die onderhandelinge gesentraliseer het, kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

Die VSA, aan die ander kant, is vasbeslote om te staak.

Maleka sê hy het alles moontlik gedoen om met die staat te onderhandel, maar dit het geen vrugte gedra nie.

“Dit is teleurstellend. Ons het rêrig probeer,” sê hy.

Die VSA het op 11 Mei van die amptelike fasiliteringsproses met die staat weggebreek omdat hy ’n dispuut verklaar het slegs twee dae nadat die 30-dae-proses begin het.

Dié dispuut het vereis dat die staat in ’n afsonderlike versoeningsproses met die VSA moet onderhandel terwyl hy met die ander vakbonde in die fasiliteringsproses onderhandel.

Die staat het egter eers op 3 Junie hiervoor opgedaag.

Maleka verduidelik nadat die staat net probeer het om die proses te verleng (wat ook 30 dae duur) deur ’n beroep op die kommissaris vir ’n uitspraak oor ’n kwessie van jurisdiksie te doen, het hy geen verdere poging aangewend om met die VSA te praat nie.

“Hulle was tjoepstil op die vergaderings. Hulle het niks gesê nie.”

Die VSA het daarop aangedring dat die versoeningsproses slegs tot 11 Junie sou duur, aangesien hy die proses reeds op 11 Mei op die been gebring het. Die staat het net ’n paar keer voor dié datum opgedaag.

Aangesien geen vordering gemaak is nie, het die kommissaris van die versoeningsproses wel ’n stakingsertifikaat aan die VSA uitgereik. Dit bemagtig hom nou om wetlik te staak.

Maleka sê sodra hy op 28 Junie ’n mandaat van sy lede het, sal die staking kort daarna begin.

Die VSA sê egter steeds die staat kan in enige stadium die proses stopsit.

“Al wat ons vra, is dat die staat met ons praat, maar hy doen dit nie. Ons sal luister.”

Meer oor:  Vsa  |  Staking  |  Loononderhandelinge  |  Staatsdiens  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.