Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Stille belastings gaan jou koopkrag wegvreet

’n Verhoging is altyd goeie nuus, selfs indien dit jou ná Woensdag se begrotingsrede in ’n hoër belastingkerf plaas.

belasting
Belasting

Só stel Marc Sevitz, medestigter van die belastingkonsultantefirma TaxTim, verbruikers gerus ná Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede waarin hy onregstreeks inkomstebelasting verhoog het.

Dis gedoen deurdat belastingkerwe glad nie aangepas is nie. Dit beteken meer mense kan ná hul verhogings in ’n nuwe belastingkerf val waarin die deel van hul inkomste wat in die nuwe kerf is, teen ’n hoër persentasie belas word.

Verlede jaar is die kerwe verhoog, maar met minder as die inflasiekoers.

Lees ook: Belasting: Só eis Jan Taks sy pond vleis by jou

“Jou inflasiegekoppelde verhoging is dus nie meer beskerm teen die verwoesting van inflasie nie,” verduidelik Sevitz.

“Waar jou verhogings gewoonlik in nominale terme darem beskerm was teen inflasie, wat verhoed het dat jy elke jaar armer word, beteken dié nuwe belasting-raamwerk dat jou verhoging onregstreeks deur inflasie verweer sal word.”

Maar Sevitz verseker verbruikers dat hulle nooit slegter daaraan toe sal wees as hulle meer verdien nie.

“Jy gaan in sekere gevalle, as jy na ’n hoër kerf toe skuif, wel net ’n baie, baie kleine bietjie meer verdien, maar dit gaan steeds meer wees. Jy sal nooit minder verdien deur so ’n skuif nie.”

Die uitwerking van inflasie beteken egter wel dat verbruikers se koopkrag gaan taan.

“Met inflasie wat na raming sowat 5% teen die einde van vanjaar gaan wees, gaan die verbruiker definitief armer wees teen dié tyd volgende jaar,” sê Kwaku Koranteng, hoof van Absa Multi-Management.

Craig Pheiffer, hoof van beleggingstrategie by Absa, sê boonop gaan die afwesigheid van belastingverligting waarskynlik verbruikersvertroue benadeel.

“Om die ekonomie weer behoorlik te laat groei, moet verbruikersvertroue verbeter. Sonder enige belastingverligting is die kans daarvoor skraal.”

Barry Knoetze, mededirekteur van PwC se belastingafdeling, wys ook op die klein toename in die primêre, sekondêre en tersiêre kortings, van 1,1% elk, wat baie beperkte verligting bied (onderskeidelik R153, R234 en R261 per jaar).

Kommer oor ‘maklike taks’ uit brandstof

Intussen het die Outomobiel-Assosiasie (AA) verligting uitgespreek dat brandstofheffings nie soos vorige jare met baie meer as die inflasiekoers verhoog word nie.

Dít te midde van bespiegeling – gegrond op ’n waarskuwing juis daaroor in die mediumtermyn-begrotingsraamwerk in Oktober – dat die heffings skerp gaan styg.

Die AA sê hy bly bekommerd daaroor dat heffings op brandstof vir die regering ’n maklike opsie geword het. “Met die byvoeging van die koolstofheffing op brandstof, word dié maklike manier van belastinginvordering verder uitgebuit, wat nog ’n belasting by die brandstofprys voeg.”

Die koolstofheffing word in Junie in werking gestel en beloop vanjaar 9c per liter petrol en 10c per liter diesel.

Lees ook: Brandstof: Só lyk die pyn by die pomp in April

Suid-Afrikaners betaal tans R5,34 se belastings op elke liter petrol betaal en R5,19 se belastings per liter diesel. Dit bestaan uit die algemene brandstofheffing van onderskeidelik R3,37 en R3,22; R1,93 vir die Padongelukkefondsheffing; en 4c per liter doeane en aksyns.

In April styg die heffings met 20c per liter en teen Junie is die volle styging 29c per liter petrol en 30c per liter diesel. Dit bring die belastings op brandstof op onderskeidelik R5,63 en R5,49 per liter te staan.

Die doeane en aksyns op brandstof bly onveranderd op 4c per liter.

Die AA sê die styging maak die las wat arm verbruikers dra, swaarder. Benewens styging in hul vervoerkoste, word die styging in die vervoerkoste van alle produkte deur vervaardigers en kleinhandelaars onregstreeks aan hulle deurgegee in duurder pryse.

Die AA sê die koolstofbelasting is boonop onbillik omdat Suid-Afrikaanse motoriste nou betaal vir uitlaatgasse al het hulle nie, soos in ander lande, die keuse om brandstof te gebruik wat minder uitlaatgasse meebring nie.

Die AA is bekommerd oor brandstofpryse vanjaar en sê die styging in die heffings, tesame met die nuwe heffing, plaas verbruikers onder druk selfs voordat die wisselvalligheid van oliepryse en die wisselkoers in berekening gebring is.

Vir Maart – nog voordat die heffings verhoog word – is ’n verhoging van minstens 57c per liter op die petrolprys nou waarskynlik en van tot 77c per liter diesel. Dis die jongste onderverhalings volgens die Sentrale Energiefonds, met net meer as ’n week oor voordat pryse vasgestel moet word.

Meer oor:  Begroting 2019  |  Inkomstebelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.