Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Suikerboere, drankbedryf pleit vir Tito se genade
suiker
Belasting op suiker en suikerprodukte gaan waarskynlik toeneem. Foto: Unsplash

Die suiker- en drankbedryf sit op hete kole oor stygings in die suikerbelasting en aksyns op drank wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede gaan aankondig.

Ontleders verwag alom dat Mboweni dié belastings, asook die brandstofheffing, met meer as die inflasiekoers sal verhoog as ’n maklike manier om meer geld vir die staatskas in te vorder – iets wat drasties gedoen moet word te midde van ’n stygende begrotingstekort en skuldlas.

Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (SACGA) pleit dat die suikerbelasting opgeskort word, terwyl die South African Liquor Brandowners Association (Salba) pleit dat aksyns op drank vanjaar met niks meer as die heersende inflasiekoers (4,5% in Januarie) verhoog word nie.

   

Suikerbelasting

   

Die suikerbelasting – waarvan die amptelike naam die gesondheidsbevorderingsheffing is – is in April 2018 ingestel met die doelwit om diabetes, vetsug en ander leefstylsiektes te bestry. Die suiker in koeldrank en vrugtesap is in die visier.

Dit het meegebring dat koeldrankvervaardigers die suiker in hul koeldranke verminder het, meer kunsmatig versoete produkte die lig laat sien het en botteltjies verklein het, alles om die invloed van die suikerbelasting op verkope te verminder.

Die staat se inkomste uit belasting op suikerversoete koeldranke in 2018-’19 was R3,25 miljard, volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se belastingstatistieke vir die 2018-’19-boekjaar. Dis R1,32 miljard meer as wat die regering verwag het hy sou uit suikerbelasting verdien toe dié belasting in April 2018 ingestel is.

In 2019 het SACGA te velde getrek teen die verhoging van 5,2% in die suikerbelasting. Dis toe met 5,2% verhoog, van 2,1c per gram suiker per 100 ml koeldrank tot 2,21c per gram suiker per 100 ml.

Nou pleit SACGA dat die suikerbelasting heeltemal afgeskaf word omdat dit die suikerbedryf “verlam” en duisende werkverliese veroorsaak.

Die vereniging sê in ’n verklaring die belasting het die suikerbedryf sedert April 2018 nagenoeg R1,5 miljard gekos en 9 000 mense het in die eerste jaar hul werk verloor. “Die syfer styg en duisende meer mense het hul werk by suikermeule en in die drankbedryf verloor. Die invloed van die suikerbelasting op arm, plattelandse gemeenskappe is absoluut rampspoedig.”

Die Healthy Living Alliance (Heala) het vroeër ’n beroep gedoen dat die suikerbelasting skerp verhoog word en ook uitgebrei word na ander produkte.

Hierop sê SACGA: “Ons daag Heala uit om getuienis te lewer dat die suikerbelasting ’n positiewe invloed op vetsug in die land gehad het. Die waarheid is dat daar op dié tydstip geen data beskikbaar is om aan te dui of die belasting sy doelwit van ’n verbetering in gesondheid bereik het nie.”

SACGA gee toe dat die suikerbelasting nie die enigste faktor is wat die bedryf teister nie – goedkoop ingevoerde suiker, droogte en ’n wêreldwye daling in suikerpryse speel ook ’n rol. Die bedryf pleit nou al lank vir hoër invoertariewe op ingevoerde suiker.

“As minister Mboweni ernstig is daaroor om inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping te verseker, sal hy sy begrotingsrede gebruik om die suikerbelasting te staak totdat ’n volledige maatskaplik-ekonomiese assessering van die invloed daarvan onderneem is.”

Die regering werk saam met die bedryf aan ’n “meesterplan” om die suikerbedryf te diversifiseer en volhoubaarder te maak.

SACGA sê suikerrietboere is daartoe verbind om met die regering saam te werk om te verseker dat die suikerbedryf ’n langtermynbydraer tot die land se ekonomie en werkskepping op die platteland bly.

   

Aksyns op drank

   

Intussen het ’n bedryfsliggaam vir drank, die South African Liquor Brandowners Association (Salba), gesê die bedryf lewer reeds ’n enorme bydrae tot die staatskas, ondanks die druk op die plaaslike ekonomie. Aksyns op alkohol is op koers om in 2019-’20-boekjaar die tesourie se teiken van R24,5 miljard vir die staatskas op te lewer.

“Om die algehele bydrae van die drankbedryf tot die ekonomie – van landbou tot primêre produksie, sowel as bemarking, verkope en verspreiding – bo die R24,5 miljard te verhoog, behoort die regering dit te oorweeg om aksyns vir alkohol met net die inflasiekoers te verhoog.

“Die bedryf is daartoe verbind om sy rol te speel in pogings om groei en beleggersvertroue in die ekonomie te bevorder. Dit sluit in maatstawwe om die nasionale skuld-tot-BBP-koers te verlaag deur besteding te besnoei, bestaande belastings doeltreffend in te vorder en die probleem van belastingontduiking weens sluikhandel te bekamp.

“Die bedryf raam dat minstens R6 miljard per jaar vir die staatskas verlore is weens onwettige drankhandel. Soortgelyke bedrywighede word ook in ander sektore van die ekonomie aangemeld.”

In 2019 het aksyns op wyn, bier, sider en sigarette met 7,4% gestyg en vir vonkelwyn, pyptabak en sigare met 9%. Die verhogings was tussen 2,2 en 3,8 persentasiepunte méér as die inflasiekoers.

Die stygings beteken jy betaal nou R1,74 belasting op ’n 340 ml-blikkie bier, R3,15 belasting per 750 ml-bottel wyn en R65,84 belasting per 750 ml-bottel brandewyn, whisky of wodka. Jy betaal ook R16,66 aksyns op ’n pakkie van 20 sigarette.

Meer oor:  Drank  |  Aksyns  |  Sondebelasting  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Suikerbelasting  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.