Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Taksombud kry meer tande
belasting

Die belastingombud se pleidooi dat hy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geskei word, het uiteindelik vrugte afgewerp.

Die tesourie kondig in die begrotingsoorsig aan dat die ombud, tans oudregter Bernard Ngoepe, finansieel en bedryfsgewys van die SAID geskei gaan word.

Ngoepe pleit nou al ’n paar jaar hiervoor ten einde ’n groter mate van onafhanklikheid vir die diens te verseker. Die belastingombud behartig mense en maatskappye se klagtes oor die SAID.

Die stap word aangekondig as deel van voorstelle om die SAID se korporatiewe beheer en belastinginvordering te verbeter.

Edward Kieswetter, nuwe kommissaris van die SAID, het nie besonder breë skouers nie, maar hopelik is hulle wel sterk. Die tesourie het die onus om die staat se geldsake te verbeter, Woensdag byna vierkant op sy skouers geplaas.

“Om ’n staat te bou wat Suid-Afrika dien, is integraal verbind tot die sukses van die SAID,” lui die begrotingsoorsig.

Volgens dié dokument sou dit eenvoudig nie help om vanjaar groot belastingverhogings aan te kondig nie – in die konteks van die swak ekonomie sal dit nie meer geld in die staatskas laat inrol nie.

“Nuwe belastingverhogings op dié tydstip kan die ekonomie se vermoë om te herstel skade berokken.”

Die tesourie sê daar is ’n al hoe groter gaping tussen hoeveel belasting die regering bereken hy gaan invorder en werklike belastinginkomste. Vir die 2019-’20-boekjaar beloop die belastingtekort nou R63,3 miljard (teenoor R52,5 miljard wat in Oktober in die mediumtermynbegrotingsraamwerk geraam is).

Die trae styging in salarisse en verbruikers se besteding en die gevolglike druk op maatskappye se wins kry ’n deel van die skuld daarvoor omdat dit persoonlike inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde (BTW) en maatskappybelasting raak. Dié drie is verantwoordelik vir meer as 80% van alle belasting wat ingevorder word.

Die druk op belastinginkomste kan egter ook ten minste gedeeltelik aan die verswakking van die SAID onder Tom Moyane toegeskryf word, blyk uit die begrotingsoorsig. Die Nugent-kommissie van ondersoek het ’n “enorme mislukking van korporatiewe beheer en integriteit” onder Moyane se bestuur onthul.

Om die SAID te versterk sal tyd verg, maar sal belastinginvordering verbeter in die jare wat voorlê.

Daarby is BTW-bedrog aan die styg, deels omdat BTW-terugbetalings verlede jaar versnel is nadat Moyane dit oënskynlik doelbewus vertraag het om die SAID se syfers blink te vryf, volgens getuienis wat vroeër voor die Nugent-kommissie gelewer is.

Die SAID het onlangs die suksesvolle vervolging van twee Kaapse “sakemanne” aangekondig wat miljoene rande se BTW-bedrog gepleeg het deur fiktiewe fakture vir fiktiewe ondernemings uit te skryf.

Die tesourie sê Kieswetter is besig om die SAID te stabiliseer en sowel werknemers as die publiek se vertroue te herstel.

Die Davis-belastingkomitee gaan die SAID help om “belastinglekkasies”, doeanebedrog en andere vorms van belastingontduiking te stuit.

Die begrotingsoorsig verwys na die hersiening van die SAID se verkrygingsprosesse, die feit dat talle senior amptenare wat deur die Nugent-kommissie “geïmpliseer” is, die diens verlaat het en die terugkeer van ervare personeel na poste waaruit Moyane hulle gestoot het.

“Om die SAID te versterk sal tyd verg, maar sal belastinginvordering verbeter in die jare wat voorlê.”

Die tesourie gaan teen Junie vanjaar ’n besprekingsdokument publiseer met voorstelle vir wetswysigings om korporatiewe beheer by die SAID te verbeter. Dit sal, in pas met oudregter Robert Nugent se voorstelle, ’n proses daarstel vir hoe die kommissaris aangestel word.

Nog ’n voorstel is dat die wet fluitjieblasers by die SAID moet beskerm op ’n manier wat belastinginligting geheim hou.

Meer oor:  Ekonomie  |  Bedrog  |  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Said  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.