Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Te min, te laat om Moody’s te paai’

Tito Mboweni, minister van finansies, kan allerhande moeilike besluite probeer deurvoer met sy begrotingsrede volgende week, maar selfs al slaag dit, sal Suid-Afrika nie ’n kredietafgradering kan afweer nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober tydens sy mediumtermyn-begrotingsrede.

So dink Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual, wat waarsku dat Woensdag se begrotingsrede waarskynlik slegte nuus vir talle Suid-Afrikaners sal inhou.

Els glo Mboweni se begrotingsrede gaan die belangrikste in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis wees. Dis hoofsaaklik omdat die land deur ’n skuldkrisis in die gesig gestaar word terwyl die land se inkomste nie vinnig genoeg styg nie.

Die begrotingstekort het verlede jaar tot 6% van die bruto binnelandse produk (BBP) gestyg, met ekstra besteding aan Eskom wat die reeds brose staatskas verder gekniehalter het.

“Die tesourie kon die afgelope paar jaar nie die begrotingstekort onder beheer kry nie, so dit is nou of nooit,” waarsku Els.

“Ons is op die punt van ’n afgradering deur Moody’s Investors Service en as ons nie die tekort stabiliseer en besteding onder beheer kry nie, sál hulle ons afgradeer.”

Mboweni het egter nie meer baie opsies om besteding onder beheer te kry nie. Ekonomiese groei oor die afgelope vyf jaar was gemiddeld minder as 1% per jaar. Dit beteken onder meer dat die land elke jaar armer word omdat bevolkingsgroei vinniger as die BBP toeneem.

Die tesourie kon die afgelope paar jaar nie die begrotingstekort onder beheer kry nie, so dit is nou of nooit.
Johann Els van Old Mutual

Die ekonomie kan ook nie meer vinnig genoeg werk skep vir die jong mense wat elke jaar skool of tersiêre onderrig voltooi nie.

Die staat se skuldvlakke het in dié tyd die hoogte ingeskiet.

“Ons betaal meer as R200 miljard per jaar op rente – wat meer is as die jaarlikse begroting vir gesondheid, onderwys en polisiedienste,” verduidelik Els.

Johann Els, hoof van ekonomiese navorsing by Old Mutual Investment Group.

Hy sê Suid-Afrika het ’n jaarlikse ekonomiese groeikoers van 2,5% tot 3% nodig om die skuldverhouding te stabiliseer en ’n skuldstrik te voorkom.

Die skuld-tot-BBP-verhouding het gestyg van 26% in 2009 tot meer as 60%. Nagenoeg 11% van die ganse begroting is nou nodig net om dié enorme skuldlas af te betaal.

Volgens Els kan Mboweni R100 miljard spaar deur staatsamptenare slegs ’n 4%-verhoging in die volgende boekjaar toe te staan, maar dit sal ongelooflik moeilik wees om te beding.

“Ek twyfel of die minister van finansies genoeg sal kan doen,” sê Els.

Dus is hy nou oortuig Moody’s sal Suid-Afrika einde Maart tot rommelstatus afgradeer.

“Verwag maar dat die regering na enige moontlike maniere sal soek om sy inkomste te verhoog, maar dit is ’n baie moeilike balans wat hulle moet handhaaf en hierdie begroting gaan beslis een van die moeilikste in demokratiese Suid-Afrika wees,” sê hy.

“Ons tyd is egter op – sommige sleutelbesluite moet nou geneem word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.