Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tesourie: NGV moet afskaal, dis ‘onbekostigbaar’

Die aanvanklike plan vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) waaroor die regering agt jaar gelede al begin droom het, is onbekostigbaar vir die land en gaan afgeskaal word om die ekstra geld wat nodig is, oor ses jaar met byna die helfte te verminder.

Daar word al sedert 2011 gewag op ’n hersiene kosteberaming vir NGV omdat daar groot kommer is oor waar die land die geld daarvoor vandaan gaan kry. Foto: iStock

In die oorsig oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat Woensdag deur Tito Mboweni, minister van finansies, uitgereik is, is daar ’n kort uiteensetting oor die “opgedateerde kosteberaming” vir die NGV.

“Aanvanklik is beraam die NGV gaan binne 15 jaar die staat se besteding aan gesondheid van 4% tot 6% van die BBP opstoot.

“Maar gegewe die vooruitsig vir die ekonomie en die staat se begroting, is die beraming oor die inwerkingstelling van die NGV, soos dit in die groenskrif van 2011 en die witskrif van 2017 uiteengesit is, onbekostigbaar.”

Luidens die beleidsoorsig het die nasionale tesourie die departement van gesondheid gehelp om ’n “aktuariële model te ontwikkel met opgedateerde fiskale koste”.

“Die hersiene model beraam dat die NGV van die huidige boekjaar tot einde Maart 2026 jaarliks ’n bykomende R33 miljard gaan kos.”

Met bykomend word bedoel bykomend tot die staat se volle gesondheidsbegroting.

Mark Blecher, ’n direkteur van die nasionale tesourie, het aan Netwerk24 gesê dié R33 miljard wat nou beraam word, is baie minder as die R70 miljard wat aanvanklik bereken is dit jaarliks meer sou kos.

Die staat se begroting vir gesondheidsorg beloop R222,6 miljard in die boekjaar tot einde Maart 2020, en styg in die boekjaar tot einde Maart 2022 tot R255,4 miljard.

Volgens Blecher gaan die NGV teen 2030 ’n bykomende R55 miljard per jaar benodig.

Dit is die eerste kosteberaming oor die NGV wat deur tesourie in sy mediumtermynbegrotingsoorsig uitgereik is.

Daar word al sedert 2011 gewag op ’n hersiene kosteberaming omdat daar groot kommer is oor waar die land dié geld vandaan gaan kry.

Volgens Blecher is die aktuariële model “goedkoper” omdat dit die dekking wat die NGV sal verskaf, beperk.

Die syfer is nie heeltemal nuut nie, want dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het in Julie gesê die tesourie het beraam die NGV gaan die land met die inwerkingstelling daarvan ’n bykomende R30 miljard kos.

Daarna is daar in die wetsontwerp oor die NGV, wat in Augustus uitgereik is, ook na die aktuariële kosteberaming verwys en gesê dat die sorg wat gedek gaan word, sowat R30 miljard per jaar gaan kos.

Dit sluit byvoorbeeld nie dienste in wat deur private hospitale gelewer word nie, volgens Blecher.

Hy sê die tesourie wag nog op kommentaar van die departement van gesondheid oor die nuutste kosteberaming.

Oor waar die geld vandaan gaan kom, word egter steeds niks gesê nie, want dit val nie in die driejaartydperk van die mediumtermynbegroting nie.

Blecher wou nie uitwei oor wanneer die plan vir die finansiering van die NGV deur die tesourie uitgereik sal word nie.

Hy sê die onregstreekse toelae vir die NGV wat die gesondheidsdepartement kry, sal waarskynlik verlaag word met die begroting volgende jaar, omdat daar “voortdurende onderbesteding” is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.