Die nasionale tesourie is besig om hoër belasting te oorweeg as een van vele opsies om die land se entstof-program te finansier, het Business Day berig.

Dit gaan Suid-Afrika op die meeste R20 miljard kos om sy inentingsprogram vir Covid-19 te befonds. Foto: Unsplash
unsplash
In dié stadium sal Suid-Afrika 9 miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof kry, 1,5 miljoen van die AstraZeneca-entstof, 12 miljoen deur Covax en 12,25 miljoen van die African Vaccine Acquisition Task Team, volgens die dagblad.
Die regering beskou die entstowwe as tot die openbare voordeel en is daartoe verbind om die program met of sonder ondersteuning van die private sektor en mediese skemas te finansier, volgens Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie.
Ander opsies wat die tesourie ondersoek, is onder meer die vergroting van die begrotingstekort en die herprioritisering van staatsbesteding.
Die pandemie was ’n goeie rede vir noodfinansiering, het Mogajane gesê.
Die departement van gesondheid het geraam dat dit ’n maksimum van R20 miljard sal kos om al die land se inwoners in te ent, terwyl onlangse interne ramings deur die tesourie dit veel laer stel, volgens Business Day. – Bloomberg