Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tesourie trap suutjies oor toegang tot pensioen

’n Baie beperkte venstergeleentheid sal onder baie spesifieke omstandighede geskep word waardeur mense vooraf toegang tot hul aftreegeld kan kry.

Ishmail Momoniat, adjunkdirekteur-generaal van die tesourie.

Maar baie water moet nog in die see loop hieroor, soos wetgewing wat dit moontlik maak, wat hopelik teen die einde van die jaar voor die parlement sal wees, het Ishmail Momoniat, adjunkdirekteur-generaal van finansies, Dinsdag gesê.

Om in krisistye mense voor aftrede toegang tot hul aftreegeld te gee, is van die omstrede voorstelle wat al tot vervelens toe by Nedlac bespreek is, het Tito Mboweni, minister van finansies, Dinsdag op dieselfde mediakonferensie gesê waar die finansiële hulppakket bespreek is wat pres. Cyril Ramaphosa Sondag aangekondig het. Dit was in reaksie op die gewelddadige plundery en vandalisme vroeër in Julie in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Momoniat het beklemtoon die tesourie werk nog aan die plan, maar dit sal ’n baie beperkte venster van toegang wees onder baie spesifieke omstandighede, gekoppel aan die bewaring van pensioengeld.

Volgens hom sal almal wat werk in elk geval die een of ander tyd gedwing word om aan die een of ander vorm van aftreefonds te behoort.

Die vakverbond Cosatu en die DA het al verlede jaar begin voorbrand maak vir wetgewing om voortydige toegang tot aftreegeld in geval van nood moontlik te maak.

Oor die streng voorwaardes wat die regering beoog vir so iets, sê Mboweni dit is nie dat die regering ’n soort “nanny”-staat wil wees nie, maar dit is om die las te help dra, “anders beland jy in die Sassa-ry”. Mense wat nou op 65 aftree, kan tot 100 jaar oud word, en hul aftreegeld moet hulle hou vir daardie tyd.

“Dis nie behulpsaam om toegang tot jou aftreegeld te kry om ’n motor te koop waarmee jy môre ’n ongeluk maak nie.”

Só lyk die hulppakket

Hier volg van die belangrikste aspekte uit die regering se jongste hulppakket.

Waarvandaan die geld kom:

’n Totale bedrag van R38,85 miljard word opsy gesit.

Hiervan word R2,65 miljard herprioritiseer uit onder meer die begrotings van die departemente van kleinsakeontwikkeling en handel, nywerheid en mededinging.

Sowat R36,2 miljard is nuwe besteding, maar Edgar Sishi, adjunkdirekteur-generaal van finansies, het beklemtoon geen nuwe lenings sal aangegaan word nie. Dit is ekstra geld danksy beter as verwagte belastinginvordering. Dit sal nie die fiskale tekort vergroot en die tesourie se verwagte skuldtrajek verander nie. Dit is tydelike en eenmalige besteding.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), sê die ekstra inkomste is danksy beter belastinginvordering van veral die mynbou-, finansiële en vervaardigingsektore wat herstel het, asook beter invordering deur die SAID.

Hoe die geld bestee word:

  • By die departement van kleinsakeontwikkeling is R300 miljoen herprioritiseer, wat reguit na die finansieringsagentskap vir klein ondernemings, Sefa, sal gaan om kleinsake te help wat tydens die onluste skade gely het. By die departement van handel, nywerheid en mededinging is R700 miljoen herprioritiseer.
  • R27 miljard van die pakket gaan vir die herinstelling van die spesiale verligtingstoelaag van R350 per maand vir arm mense. Dit sal van 1 September af weer betaal word, tot en met einde Maart 2022.
  • Die polisie gaan ’n ekstra R250 miljoen en die weermag ’n ekstra R700 miljoen kry om reg en orde te handhaaf.
  • Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Spesiale Risikoversekering (Sasria), wat in die apartheidsera begin is om skade weens onluste te dek, sal R3,9 miljard van die tesourie kry om hom te help met eisuitbetalings.
  • Klein ondernemings wat nie deur Sasria gedek is nie, sal hulp van R2,3 miljard kry.
  • Kwalifiserende ondernemings sal van 1 Augustus af vir drie maande uitstel kry om hul personeel se inkomstebelasting (LBS) aan die SAID oor te betaal, om hul kontantvloei te verbeter. Werkgewers met ’n omset van onder R100 miljoen per jaar sal outomaties uitstel kry op 35% van hul LBS-verpligtinge.
  • Die drankbedryf sal ook uitstel kry vir drie maande om aksyns oor te betaal sodat hy kans kan kry om te herstel. (Laasgenoemde twee uitgestelde belastings verteenwoordig dus net tydelike inkomste wat verlore gaan, eerder as besteding.)
  • Die belastingaansporing vir indiensneming sal vir vier maande uitgebrei word teen R5 miljard. Dit sal werkgewers aanspoor om mense in diens te neem wat minder as R6 500 per maand verdien, en die aansporingsbedrag sal met soveel as R750 per maand verhoog word.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Inperkings  |  Plundery En Geweld  |  Onluste  |  Pandemie  |  Hulppakket  |  Covid-19  |  Tesourie  |  Vlaag 3  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.