Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tesourie wil keer dat staat GEPF se geld gebruik

Die tesourie verwerp voorstelle om die staatspensioenfonds (GEPF) soos ’n spaarvarkie oop te breek om die begroting te help finansier.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie.

As die GEPF gedwing word om in swak bates te belê, sal ’n aansienlike langtermynskuldlas vir toekomstige geslagte geskep word, het Edgar Sishi, waarnemende hoof van die tesourie se begrotingskantoor, Vrydag in die parlement gewaarsku.

Dit kom ná hernieude voorstelle – dié keer selfs van die parlement se eie begrotingskantoor in die openbare sitting oor die nuwe fiskale raamwerk – dat ’n deel van die GEPF se aansienlike pot geld belê moet word in infrastruktuur om die ekonomie aan die groei te kry en die begroting te help finansier.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het boonop in ’n aanlyn vergadering van die parlement se staande en gekose komitees oor finansies skerp te velde getrek teen wat hy as politieke aanvalle op die tesourie en Tito Mboweni, minister van finansies, beskryf het. Dit was ’n verwysing na voorleggings van die Budget Justice Coalition (BJC) en sy groep ekonome wat gemeen het die begroting dra nie by tot pres. Cyril Ramaphosa se Covid-19-reddingsplan nie.

Mogajane sê die BJC beweer die tesourie het min begrip van staatsfinansies, sonder om enige data te voorsien. “Dit is politieke standpunte en nie ekonomiese standpunte nie.

Die parlement moet versigtig wees om hom te laat misbruik as ’n platform vir vals en misleidende standpunte.”

Yunus Carrim, voorsitter van die gekose komitee oor finansies, het egter teruggekap en gesê mense is vry om te sê wat hulle wil, en daar is niks fout daarmee dat ekonome politieke uitsprake maak nie.

Volgens Sishi het die regering al meer as ’n dekade uitbreidende begrotings gehad, met staatsbesteding wat jaarliks sedert 2008 met 4% groei, en die aanvullende begroting is die mees uitbreidende begroting in jare.

Fiskale volhoubaarheid sal nie behaal word as ons vandag bestee wat vir môre gespaar is nie.
Edgar Sishi van die tesourie

Die debat tussen ’n besuinigingsbegroting en ’n stimulerende, uitbreidende begroting is volgens Sishi ’n vals keuse.

Hy het aangevoer groter staatsbesteding en staatskuld het vir baie jare nie tot groter groei gelei nie. “Ons moenie mense se begeerte om aan ons geld te leen, verwar met ons vermoë om dit terug te betaal nie. Die tesourie kon goed reageer op die 2008-geldkrisis omdat daar buffers was, maar daar is nie meer sulke buffers nie.”

Oor voorstelle om die GEPF te gebruik, het Sishi beklemtoon die fonds bestaan om aftreesekerheid te voorsien aan sowat 1,3 miljoen staatsdienswerkers en 460 000 begunstigdes. Hy het gewaarsku die GEPF se posisie verswak al stelselmatig sedert 2016 weens laer as verwagte beleggingsopbrengs en nuwe voordele. Dit is die raad van trustees van die GEPF wat bepaal waarin die fonds mag belê.

Die GEPF was verlede jaar R1 800 miljard werd.

Kredietafgraderings en die invloed van Covid-19 sal die GEPF se geldelike posisie verder verswak, waarsku Sishi.

“Fiskale volhoubaarheid sal nie behaal word as ons vandag bestee wat vir môre gespaar is nie.”

In reaksie het Daniel McLaren van die BJC gesê die regering behoort ontvanklik te wees vir nuwe idees. Dit gaan vir die BJC fundamenteel oor die gehalte van dienslewering eerder as bloot groter staatsbesteding.

Hy meen besuiniging het nêrens anders gewerk nie, en hy meen die tesourie is ’n bietjie te blind vir die invloed van minder besteding op armoede en werkloosheid.

Dit blyk daar is skerp verskille binne die regering en in die parlement oor die tesourie se benadering. Joe Maswanganyi, voorsitter van die staande komitee oor finansies, meen daar moet beslis gekyk word na hoe regulasie 28 van die Pensioenfondswet gebruik kan word om pensioenfondse te dwing om in voorgeskrewe bates te belê, terwyl Geordin Hill-Lewis, DA-lid van die komitee, dit verwelkom het dat die tesourie die idee van voorgeskrewe bates verwerp.

Maswanganyi meen die staat moet ’n leiersrol speel om die ekonomie reg te ruk en daar moenie verwag word die private sektor sal soos ’n ridder op ’n wit perd opdaag nie.

Floyd Shivambu van die EFF meen Mogajane se benadering is aggressief, onverdraagsaam en onaanvaarbaar, en is soortgelyk aan dié van Mboweni. “Dit moet nooit weer gebeur nie.”

Carrim het saamgestem en gemeen Mogajane is gewoonlik sag en toegeeflik, maar hy moenie politieke uitsprake probeer maak wat hy liewers vir die minister of adjunkminister moet los nie.

Hill-Lewis het egter aangevoer die tesourie het die reg om sy standpunt te verdedig. “Dis die parlement, nie ’n teepartytjie nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.