Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tito en taks: Dís waarvoor jy bang moet wees
Tito Mboweni, minister van finansies.

Die regering het waarskynlik nog nie die politieke herrie vergeet wat die verhoging in die koers van belasting op toegevoegde waarde (BTW) in 2018 veroorsaak het nie.

Daarom reken Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, dis onwaarskynlik dat BTW so gou weer verhoog gaan word. Die BTW-koers is toe van 14% tot 15% verhoog.

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual Investment Group, en verskeie ander ontleders reken egter nog ’n BTW-styging “kan nie uitgesluit word nie in die lig van toenemende druk om die groter wordende begrotingstekort en stygende verhouding van skuld tot die bruto binnelandse produk (BBP) te takel”.

BTW blyk die grootste gesprekspunt te wees in aanloop tot Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede op 26 Februarie.

“Ons glo wel die tesourie sal dieselfde strategie volg as met die 2018-verhoging van BTW en ’n ongespesifiseerde inkomste nou in potlood inskryf vir vanaf 2021-’22 sonder om te sê waarvoor dit is,” sê Montalto.

Montalto gee toe dat vanjaar beter sal wees vir ’n BTW-verhoging, aangesien die munisipale verkiesing in 2021 gehou word en die ANC se leiersverkiesingskonferensie in 2022. Aan die ander kant word die vyfjaarlikse vergadering van die ANC se nasionale algemene raad vanjaar gehou.

Montalto sê die tesourie sal waarskynlik weer nie vanjaar inkomstebelastingkerwe met inflasie aanpas nie.

“Dis ’n verborge maatreël wat opties minder dramaties is as BTW.”

Dié manier om belastinginkomste te verhoog is ook meer “progressief”, wat beteken mense wat meer verdien, betaal meer belasting – pleks van BTW, wat ryk en arm min of meer ewe hard tref.

Hy glo nog R13,7 miljard se inkomstebelasting kan só ingevorder word. Dit kom daarop neer dat mense ná ’n inflasieverwante verhoging vir ’n groter deel van hul inkomste in ’n hoër belastingkerf aangeslaan word.

Nuwe belastings

Els sê ’n “oorgangsheffing”, soos die een wat in 1994-’95 ingestel is, is ’n moontlikheid.

Die bykomende inkomstebelasting van 5% is in Julie 1994 ingestel en het tot Augustus 1995 gegeld vir mense en maatskappye wat destyds meer as R50 000 per jaar verdien het. Die inkomste moes help betaal vir die land se eerste demokratiese verkiesing.

“Verwag dat die regering elke moontlike manier sal soek om sy inkomste te verhoog, maar dis ’n baie moeilike balanseertoertjie. Dié begroting gaan beslis een van die moeilikste nóg in die demokratiese Suid-Afrika wees. Ons het egter nie meer tyd nie – sommige kritieke besluite moet geneem word,” sê Els.

Delia Ndlovu, besturende direkteur vir belasting en regsake in Afrika by Deloitte Africa, sê maatskappybelasting kan ook nie verhoog word nie. Teen 28% is dit reeds hoër as byvoorbeeld dié in Amerika (21%) en Brittanje (19%).

Ndlovu sê wêreldwyd word debat gevoer oor hoe die “digitale ekonomie” belas kan word. “Sommige lande stel ’n spesifieke belasting vir die digitale ekonomie in werking ten einde belasting te verhoog, soos Frankryk se belasting op digitale dienste van 3%. Die begroting sal dalk rigting gee oor Suid-Afrika se posisie oor die potensiële inwerkingstelling van so ’n soort belasting.

Impak van BTW-verhoging sal versag word

Montalto sê as BTW verhoog word, sal die regering probeer om die impak op arm mense te versag deur nog produkte van BTW vry te stel, soos in April 2019 gedoen is toe witbrood- en koekmeel en sanitêre doekies by die lys varsprodukte en dienste gevoeg is wat van BTW vrygestel word.

So ’n stap sal egter weer tydrowende, duur en “polities skadelike” kommissies van ondersoek en parlementêre prosesse verg. Dieselfde geld enige oorweging om luukse goedere swaarder te belas.

Montalto raam dat ’n BTW-verhoging van ’n persentasiepunt R23 miljard meer vir die staatskas sou kon oplewer, maar weens hoër staatstoelae, die vrystelling van meer produkte en ander maatstawwe sal die netto inkomste slegs R17 miljard wees.

Nog ’n nadeel van ’n BTW-verhoging is dat staatstoelae skerper verhoog sal moet word om die uitwerking daarvan op behoeftiges te versag.

Kyle Mandy, belastingbeleidsleier by PwC, verwag ’n verhoging van ’n halwe of volle persentasiepunt in BTW. Bernard Sacks, vennoot by Mazars, sê dit kan met tot twee persentasiepunte verhoog word.

Sacks sal ook nie verbaas wees as BTW op brandstof ingestel word nie: “Daar word lank reeds voorgestel dat dit gedoen kan word.”

Ongeag wat met BTW gebeur, verwag alle ekonome verhogings in verskeie belastings en dalk ook nuwe belastings.

Skerp verhogings

Ontleders verwag byna deur die bank hoër verhogings as gewoonlik vir belastings en heffings wat jaarliks aangepas word.

  • Sondebelasting” gaan na verwagting skerp verhoog word. Dis die aksyns op alkoholiese drank en tabakprodukte.
  • Die suikerbelasting – betaalbaar op versoete koeldrank en vrugtesap – gaan na verwagting weer verhoog word.
  • Die heffings op brandstof – die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing – gaan na verwagting albei skerp verhoog word. Mandy voorspel dat die algemene brandstofheffing met tussen 15c en 20c per liter verhoog sal word en die Padongelukkefondsheffing met tot 30c per liter. Dit beteken brandstof kan in April met tot 50c per liter duurder word nog voordat die gewone maandelikse oor- of onderverhaling ingereken is.
  • Kapitaalwinsbelasting (KWB) kan uitgebrei word. PwC verwag dat die reëls oor KWB vir individue verander kan word om wyer te strek. (Daar is tans ’n vrystelling van R40 000 op KWB en primêre wonings word ook tot op R2 miljoen vrygestel.)

Sandy McGregor, portefeuljebestuurder van Allan Gray, sê die regering het eintlik weinig ruimte om belasting te verhoog. “Ondanks ’n swak ekonomie is die belasting wat ingevorder word as ’n persentasie van die BBP naby rekordvlakke. Enige poging om belasting verder te verhoog, kan die onbedoelde negatiewe gevolg hê dat dit verbruikersbesteding verder onderdruk en ons ekonomiese stagnasie laat voortsleep.”

McGregor waarsku dat hoër inkomstebelastingkoerse “die emigrasie van belastingbetalers sal versnel”. Suid-Afrika se hoogste koers is reeds 45%.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Sondebelasting  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.