Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tito lê mes in by polisie en skole

Die polisie se speurdienste moes R764 miljoen van hul begroting prysgee om die boeke te laat klop.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Dit is maar net een van die basiese dienste wat Woensdag aan die kortste ent getrek het om voorsiening te maak vir miljarde rande se reddingsboeie vir staatsbeheerde ondernemings.

Die polisie se geld word weggeneem terwyl die speurdienste se geprojekteerde teiken vir die opsporing van ernstige misdade net 37,25% is.

Luidens die begrotingsdokumente kon die polisie net 1 983 dossiere vir ernstige ekonomiese misdade gereed kry vir verhore in die eerste kwartaal van die jaar. Hulle sit nou die pot so ver mis dat hulle net hoop om 65% van hul teikens hiervoor te haal vir die volle jaar.

Van die R764 miljoen, was R442 miljoen bestem vir die polisie se forensiese laboratoriums waar die meeste bewysstukke ontleed moet word. Dié eenheid is berug vir jare se agterstande wat hofsake kortwiek.

Van die ander begroting-besnoeiings wat Suid-Afrikaners aan hul bas sal voel, sluit in:

  • R40 miljoen is weggevat van die departement van basiese onderrig om skoolgehoue op te knap en tragedies soos dié by die Hoërskool Driehoek te voorkom. Dié begrotingsitem moet ook verseker dat puttoilette by skole gemoderniseer word.
  • R897 miljoen is weggevat van die departement van hoër onderwys. R350 miljoen hiervan is bewillig vir hoër onderrig-instellings soos universiteite en R400 miljoen vir nieregeringsorganisasies wat werk in dié sektor verrig.
  • Provinsies gaan op mediumtermyn R20,3 miljard minder kry.
  • Die land se versukkelde munisipaliteite sal oor die volgende drie jaar met nóg R20,5 miljard minder moet regkom.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, sê elke begroting het wenners en verloorders, maar om basiese dienste soos gesondheid, skole se geboue en polisiedienste te besnoei, is eties onverdedigbaar.

Boonop het daar min gekom van Tito Mboweni, minister van finansies, se opdrag aan staatsdepartemente om eerder salarisse te besnoei as besteding aan goedere, dienste en kapitaalbesteding.

Rapport het vroeër berig dat Mboweni ’n besparing van 5% gevra het. Daar was wel besparings van sowat 2%, maar dié besnoeiings is hoofsaaklik gedoen by goedere en dienste en infrastruktuurontwikkeling waarteen hy juis gewaarsku het.

Maarten Ackerman, ekonoom by Citadel, het aan Rapport gesê die reddingsboeie aan sukkelende staatsondernemings en hemelhoë rentebetalings op regeringskuld het ál meer van die “bestedingskoek” weggevat en daar is eenvoudig nie geld om voorrang te verleen aan besteding aan maatskaplike dienste nie.

Waar die snoeiskêr weggebêre is, was met salarisse.

Mboweni en Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het Woensdag op ’n mediakonferensie erken dat die maatreëls wat die regering in die Februarie-begroting aange­kondig het om staatsamptenare aan te moedig om vroeër af te tree, nie die gewenste uitwerking gehad het nie.

Slegs 3 350 mense het die aanbod aanvaar.

Die nasionale tesourie het gehoop dat vroeë aftrede ’n besparing van R12 miljard per jaar in die 2020-’21- en 2021-’22-boekjare teweeg sou bring, maar dit het nie.

Nou gaan hy in die Februarie-begroting “nuwe stappe” aankondig.

Mboweni het die land se spaarvark van R13 miljard – die gebeurlikheidsfonds vir onder meer natuurrampe wat nou al jare geplunder word vir mensgemaakte rampe soos Eskom – leeg geskud.

Toe het hy nóg R4 miljard by departemente gaan haal wat nie in staat was om hul begrotings betyds te bestee nie, al is die dienste soos speurdienste broodnodig.

R182 miljoen is weggeneem by die vaardigheidsontwikkelingsfonds.

Nóg R2 miljard is eintlik net in potlood geskryf, want dis geld wat die tesourie hoop om terug te kry by munisipaliteite.

Die enigste “wenners” in die begroting was die nasionale vervolgingsgesag wat R1,3 miljard ekstra kry – hoofsaaklik uit die polisie se begroting wat hulle in staat moet stel om hul werk te doen.

Jan Taks kry ’n bykomende R1 miljard oor die volgende twee jaar om die instelling weer op te bou.

Nog “wenners” is die SAL wat R5,5 miljard kry, die SAUK met ’n reddingsboei van R3,2 miljard, Denel met R1,8 miljard en SA Express wat R300 miljoen kry.

Die minister het in sy begrotingsraamwerk gewaarsku dat die begrotingsbesnoeiings aan departemente, provinsies en munisipaliteite ernstige gevolge het vir hul vermoë om dienste te lewer en doeltreffend te funksioneer. Dit sal ook infrastruktuurontwikkeling en ander kapitaalprojekte kortwiek.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Geordin Hill-Lewis  |  Mtbr2019  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.